Skip to main content

Galasiërs 3:1-4:20 – VRYSPRAAK: dié wat glo, is kinders van Abraham

Met die preek aan Petrus (Gal. 2:14) en die boodskap van Solus Christus (Gal. 2:15-21) as vertrekpunt, struktureer Paulus nou op vernuftige wyse sy praktiese lering aan hulle in drie siklusse in die res van die brief.  Hy gesels agtereenvolgens oor:

  1. die vryspraak wat God gee deur geloof i.p.v. deur die wet wat hulle in die regte verhouding met God bring (Gal. 3:1-4:20);
  2. die verbondsgemeenskap wat God sluit op grond van die vashou aan sy belofte (Sara) i.p.v. op grond van die gehoorsaamheid aan die wet (Hagar) wat hulle in ‘n nuwe lewensgemeenskap met God bring (Gal. 4:21-5:12);
  3. die vryheid van ’n lewe beheer deur die Gees i.p.v.  deur sondige begeertes (Gal. 5:13-6:17) wat ‘n ander lewenswyse vir hulle moontlik gemaak het.  Telkens leer hy hulle met  ‘n begronding,  ‘n toepassing en ’n appèl:
  Begronding Toepassing Appèl
VRYSPRAAK Gal. 3:1-4:7 – in geloof i.p.v. die wet Gal. 4:8-11 – wil julle weer slawe wees van die wet? Gal. 4:12-20 – ons het die pad tog saam geloop!
VERBONDSGEMEENSKAP Gal. 4:21-27 – in die belofte (Sara) i.p.v. die wet (Hagar) Gal. 4:28-5:1 – julle is kinders van God kragtens die belofte Gal. 5:2-12 – julle moenie die band met Christus verbreek nie!
VRYHEID Gal. 5:13-24 – deur die Gees i.p.v. die sondige natuur Gal. 5:25-6:10 – laat die Gees julle gedrag bepaal Gal. 6:11-17 – julle is nuwe mense!

Vryspraak deur geloof – Gal. 3:1-14

Paulus begin met ’n skoot sarkasme om die Galasiërs te ruk uit hulle onbegrip.  God se werk in hulle het ’n werklikheid geword deur die geloof en die krag van die Heilige Gees, nie deur die wet of hulle eie krag nie.

Paulus verduidelik dit met ’n verwysing na Abraham en die betekenis wat dit vir die gelowiges uit die heidennasies het om te glo soos Abraham (Gal. 3:6-9), in dieselfde seën  as Abraham te deel (Gal. 3:14) en sy nakomelinge te wees.

Dit doen hy om twee redes.

  1. Omdat God se beloftes aan Abraham gemaak is en deur hom in geloof aanvaar is. Die vryspraak is daarom ’n geloofswerklikheid.  Elkeen wat glo soos Abraham deel in die belofte en die verbond aan Abraham en is daarom in ‘n regte verhouding met God (Gal. 3:9,16).  Dit moet vasgehou word.
  2. Omdat sy teenstanders – heel moontlik op grond van Gen. 17:13 – daarteenoor geleer het dat dit nie net om die geloof gaan nie, maar ook en veral oor die besnydenis; dat die besnydenis ’n “blywende verbond” is wat ook deur die heidene nagekom moet word. Dit moet afgewys word.

Daarom haal Paulus in Galasiërs 3:6 ook uit Genesis aan, maar uit Genesis 15:6, waar Abraham se geloof vóór sy besnydenis aangehaal word.  Die gebeurtenis gaan na sy mening die verhaal van Genesis 17 oor die besnydenis vooraf en is daarom van meer deurslaggewende betekenis!  Hy sou later in Romeine 4:13 vv verder hieroor skrywe.

Paulus beklemtoon dus dat geloof ’n belangriker respons is as die nakoming van die besnydenis, geïllustreer in die lewe van Abraham.   “dié wat glo, (is) kinders van Abraham” (Gal. 3:6).  Dit geld ook die wet wat ook eers na die Uittog uit Egipte aan die volk gegee is, meer as 400 jaar later (Gal. 3:17).  Dit vervang nie die genade wat God aan Abraham deur ‘n belofte toegesê nie.  Sola fide, en Sola Gratia.

Boonop was dit bedoel as ’n tydelike maatreël (Gal. 3:19) totdat dié nakomeling, Christus, die vryspraak van die vloek van die wet sou bring, en almal dit deur die geloof kon ontvang. Om die waarheid te sê: “die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.” (Gal. 3:22).  Solus Christus, en Sola fide.

Vir die gelowiges uit die Joodse volk was dit natuurlik geen klein saak nie, want hulle identiteit as die Godsvolk was letterlik op die spel, in terme van die unieke kenmerke wat hulle gemeenskapslewe gekenmerk het: die besnydenis, die reinheidswette veral rondom hulle dieet, en die nakoming van feeste veral die Sabbat.

Paulus weet egter dat sulke argumente die dood in die pot is vir geloof in God onder die heidennasies.  As jy eers ’n Jood moet word voor jy regtig ’n Christen kan wees, word die sentrale betekenis van die Christus-evangelie versaak en word nie net ’n kulturele kenmerk ’n voorwaarde vir geloof  gemaak nie, maar word wetsgehoorsaamheid beklemtoon bo die genade wat deur die geloof werk.

En dit kan nie.  Dit rand die betekenis van die vryheid wat Christus gebring het van die wet in sy wese aan.  En dit maak van die Christelike geloof ’n eksklusiewe Joodse beweging wat nie universele impak kan hê nie, omdat dit nie die heidennasies kan insluit nie.  Gelukkig dat Paulus se interpretasie van die evangelie die deurslag gegee het.  Anders het ons, almal vanuit heidennasies, Christus nie vandag geken nie!  Solus Christus, Sola fide, Sola Gratia!

In Christus Jesus is julle almal één – Gal. 3:15-4:7

Die praktiese implikasie hiervan is geweldig.

Dit is nie meer die besnydenis wat die onderskeidende teken van die Godsvolk is nie.  Daardie rol word nou deur geloof vervul.  Elkeen wat glo, behoort aan Christus en is daarom nakomelinge (let op hoe Paulus regdeur die gedeelte wissel tussen die enkelvoud en die meervoud, afhangende of hy oor Christus of oor die gelowiges wil praat) van Abraham en deel van die verbondsbeloftes van God.

Dit beteken ook dat in Christus is almal één (Gal. 3:28).  Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie.  In Christus Jesus is almal nou één.  Die oomblik as jy in die vryspraak deur die geloof gedeel het, is jy ook in gemeenskap met elke ander mens wat in die vryspraak van die geloof gedeel het.  En daar is geen onderskeid nie.  Ras of etnisiteit of taal of sosiale status of geslagtelikheid is nie meer bepalende elemente in ons Christelike identiteit nie, net die geloof in Christus Jesus.  ’n Mens kan dit nie sterk genoeg sê nie: In Christus Jesus is almal één!

Paulus pas dit nog verder toe in Galasiërs 4:1-7 om te keer dat hulle weer slawe van die wettiese reëls sou word, omdat hulle immers nou vry mense is.

Onthou die vreugde van ons gesamentlike geloof – Gal. 4:8-20

Dan gaan hy aan om ’n appèl tot hulle te rig in Galasiërs 4:8-20 op die basis van hulle gedeelde pad.  Dit is deur die bediening van Paulus dat die Galasiërs God leer ken het – “of liewer, noudat Hy julle ken”! (Gal. 4:9) – en hy vrees dat sy harde werk verniet sou kon wees.

Daarom smeek hy hulle om nie van die (sy) evangelie afvallig te raak nie; om terug te dink aan hoe hulle die evangelie die eerste keer ontvang het; om sy insette, al was hy siek, te onthou; om die vreugde te herroep van hulle eerste bewussyn van Christus, waarin hulle Paulus ervaar het: “asof ek Christus Jesus self was”.  “Daardie mense” moet hulle dus nie van hulle eerste vreugde ontroof nie.  Daarvoor pleit Paulus (’n mens hoor hierin die soortgelyke oproep van Johannes aan die gemeente van Efese in Openbaring 2:1-7).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Galasiërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar