Filemon – Versoening tussen werkgewers en werknemers

Paulus skryf hierdie persoonlike brief (weereens saam met Timoteus) aan Filemon, een van die geestelike leiers van die gemeente in Kolosse (Filemon 2; Kol 4:9).  Sy slaaf, Onesimus, het hom op een of ander manier benadeel en toe gevlug. Onesimus se pad het in Rome met Paulus in die gevangenis gekruis.  Hoe dit presies gebeur het, weet ons nie, maar die resultaat van dié ontmoeting was dat Onesimus tot bekering gekom en in Jesus Christus begin glo het.  Hoewel Onesimus van veel nut vir Paulus self kon wees, het Paulus egter besluit om hom eerder terug te stuur sodat hy met Filemon versoen kan word.  Vandaar dié brief in die vroeë sestiger jare nC waarin hy die situasie tussen die twee gelowiges wou uitsorteer tot almal se bevrediging.  Dit gee ons ‘n baie interessante perspektief op hoe verhoudinge tussen gelowige werkgewers en werknemers behoort te werk.

Interessant genoeg is die vier gevangenis briewe (Filippense, Filemon, Kolossense, Efesiërs) waarskynlik deur Onesimus self (Kol 4:9) en Tigikus (Kol 4:7,9; Ef 6:21) afgelewer in die vroeë sestiger jare van die eerste eeu, moontlik op dieselfde reis.

Let op hoe Paulus dié brief struktureer.  Na die aanhef en bekendstelling wy Paulus eers uit oor die goeie getuienis wat hy hoor van Filemon se liefde en geloof, wat die motivering word vir die tweede deel van die brief, waarin Paulus vir Filemon op verskillende wyses motiveer om Onesimus met oop arms terug te verwelkom.

Inleiding: 1-3

Let op hoe Paulus die huiskerk van Kolosse insluit in sy boodskap aan Filemon, sowel as Affia, moontlik sy vrou, en Argippus, moontlik sy seun.

Dank vir die groot impak van Filemon se geloofslewe: 4-7

Let op hoe Filemon se liefde en trou uitgespel word in terme van beide die verhouding met die Here Jesus Christus self, sowel as in terme van die gemeenskap van gelowiges.  Dit is dan ook die motivering vir Paulus se oproep in die volgende deel van die brief, dat hy bid dat Filemon ‘n nog dieper insig sal kry in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen.  Soos sy geloofslewe ander se lewe verkwik het, wil Paulus graag hê dat ook Onesimus daarby ingesluit sal word.

Paulus tree in vir Onesimus: 8-22

Let op hoe Paulus doelbewus die gesag waarmee hy Filemon sou kon aanspreek om Onesimus terug te neem, onderspeel – sy ouderdom, sy apostelskap, sy status as gevangene twv Christus – en liewer ‘n aanspraak maak op die liefde van Christus waarvoor Filemon bekend geraak het.

Maar, dan neem Paulus wel ook moontlike frustrasie in ag wat Filemon steeds kon ervaar weens die gebrek of skade wat hy vroeër aan die hand van Onesimus gely het, en bied aan om persoonlik daarvoor te vergoed, sodat Filemon vrywilliglik die band met Onesimus kan herstel.  Hy bekragtig die versoek deur dit in die naam van die Here te doen, waarmee hy natuurlik te kenne gee dat dit die eintlike motivering tot gehoorsaamheid is.

Groete: 23-25

Paulus sluit die brief af met groete en ‘n paar mededelings oor die mense wat saam met hom is (hulle word ook in Kol 4:10-14 genoem):

  • Epafras is saam met Paulus ‘n gevangene, en word verbind met die stigting van die gemeente van Kolosse (Kol 1:7).
  • Markus  is waarskynlik die skrywer van die evangelie van Markus en neef van Barnabas (soos ons in Kol 4:10 lees).
  • Aristargos is een van die bekeerlinge in Tessalonika wat ‘n medewerker van Paulus geword het (Hand 20:4; 27:2).
  • Demas het kort hierna die teenswoordige wêreld lief gekry het en na Tessalonika vertrek (2 Tim 4:9-10).
  • Lukas is die skrywer van die evangelie van Lukas en die Handelinge van die Apostels.

Dié brief het waarskynlik die gewenste uitwerking gehad, en volgens die vroeë kerkvaders word Onesimus later die biskop van Efese.   Voorwaar ‘n wonderlike getuienis van versoening en die wonder van ‘n nuwe begin.

‘n Mens sien hier ook dat die hele instelling van slawerny nie regtig versoenbaar met gemeenskap binne die kerk sou kon wees nie.  Al het dit dus lank geneem hierna, voor slawerny inderdaad wêreldwyd afgeskaf is, het hierdie verhaal kennelik ook daarin ‘n rol gespeel.

Filemon


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Lily Groenewald

    Wonderlik dat dit lyk of deur God se genade Onesimus, aanvanklik “onbruikbaar”, sy naam wat “bruikbaar” beteken, gestand kon doen. So kan ons elkeen bruikbaar wees in die Koninkryk.

    • Ja – Onesimus se naam beteken inderdaad “bruikbaar” of “winsgewend”. Filemon se naam beteken weer “vriendelik” of “liefdevol” of “een wat soen”. Paulus raai hom dus aan om Onesimus terug te neem, om sy naam gestand te doen!

    • Vandag het die brief aan Filemon my iets oor my benadering tot ander kom leer. Ons is so geneig om ander te wil reghelp, teregwys en berispe. Paulus doen dit nie met Filemon nie: hy benader hom in liefde, en in die Naam van die Here.
      Dis iets om na te volg!

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: