Handelinge 13:13-52 – Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword

Lukas plaas in Handelinge net vier van die apostels en ander leiers se toesprake inhoudelik: Petrus, Stefanus, Jakobus en Paulus, interessant genoeg nie een van Barnabas nie, hoewel dit duidelik is dat hy ook verskeie kere aan die woord gekom het.

Hier word Paulus se toespraak redelik volledig weergegee omdat hierdie tipe boodskap ’n sleutelrol gespeel het in die verspreiding van die evangelie deur die hele bekende wêreld van daardie tyd.  Natuurlik het die getuienis oor Jesus op baie ander wyses ook versprei, waarin veral gewone gelowiges se vrymoedige verkondiging van Jesus ’n belangrike rol gespeel het.  Maar die toesprake van Paulus en ander het die verbeelding van hele stede aangegryp en baie bygedra tot die bekendstelling van Jesus as Verlosser aan alle nasies. Dit wys net vir my hoe beide die private ruimtes – een-tot-een getuienisse – en die publieke ruimtes – groot byeenkomste – deur die Here ingespan word om die evangelie by mense uit te kry.

Let hoe Paulus in sy toespraak ’n baie sterk klem lê op die opstanding van die Verlosser as die mikpunt van die hele geskiedenis van die Godsvolk.  Dit is die logiese uiteinde van God se verkiesing van sy volk (met die fokus veral op Dawid, die man na God se hart (Ps 89:21; I Sam 13:14).  In hierdie Joodse konteks kontrasteer Paulus ook die verlossing deur die wet met die verlossing deur Christus en lewer ’n sterk appèl dat hulle God nie moet verag nie.

Let op hoe dit beide die Woord van God (die OT Skrifte) en die woord van God (die prediking deur die apostels) is wat geloof bewerk by die gehoor.  God se Woord en ons woorde werk saam om die koninkryk te laat kom.

Die hele week daarna is daar verdere gesprekke waarin Paulus en Barnabas mense aangemoedig het om op die genade van God te bly vertrou, maar die volgende sabbatdag kom daar egter sterk teëstand van die Jode. In plaas daarvan om bly te wees dat daar soveel mense in die sinagoge bymekaar gekom het om die woord van die Here te hoor, word hulle met afguns vervul en begin hulle Paulus onderbreek in sy verwoording van die evangelie en tree baie beledigend op.

Lukas se perspektief hierop is dat aan die een kant die Jode se teëstand duidelik uitwys dat hulle die ewige lewe nie werd is nie (hulle spreek ’n oordeel oor hulleself uit!), met aan die ander kant die geloof wat onder die heidene posvat ’n bewys van God se verkiesing wat nie meer grense ken nie.  God se werk word sigbaar in die keuses wat mense maak.

Soos ek op ’n ander plek hieroor skrywe: “Daarmee word as’t ware ’n historiese blik, en nie ’n dogmatiese een nie, gegee op ’n tergende teologiese probleem, naamlik hoekom Israel, die Godsvolk, die evangelie teëstaan, en die heidene dit aanvaar. Later in die brief aan die Romeine sou Paulus verder ook dogmaties hieroor reflekteer (Rom 9 – 11).” (Barnabas: 2011)

Iets wat ’n mens maklik mis in die huidige Afrikaanse vertaling, is dat Lukas van die gelowiges as dissipels praat.  In vers 52 word eintlik van die “dissipels in Antiogië” gepraat (en nie van die “gelowiges in Antiogië” nie) waarmee Lukas onomwonde uitwys dat die verkondiging van die evangelie op dissipel-making uitloop (Matt 28:19) en dat geloof in Jesus in dissipelskap tot sy reg kom.

View all posts in this series

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: