Romeine 3 – God gee vryspraak sonder onderskeid aan elkeen wat glo
Uit sy waarskuwing aan sy Joodse gesprekgenoot in hoofstuk 2 – dat die besit of kennis van die wet, en die besnydenis op sigself vir jou niks in die sak bring nie – is dit natuurlik om te vra of daar dan enige nut sou wees daarin om ’n Jood en besnede te wees.
3:1-8: Paulus begin dus om in ’n volgende verbeeldingsgeprek (diatribe) in 3:1-8 te wys op die voordele van die wet en die besnydenis – God se woorde is aan die Jode toevertrou. Dit is ’n groot voorreg en beteken dat Hy Homself aan hulle verbind het om aan hulle genade te bewys. En Hy sal nie daaraan ontrou word nie, selfs al sou sommige aan Hom ontrou word (in hfst. 9 sal hy verder hieraan aandag gee). Let op hoe hy aanhaal in vers 4 uit Dawid se belydenis oor God in Psalm 51:6 na sy sonde met Batseba om sy betroubaarheid teenoor die leuenagtigheid van mense te bevestig.
3:9-20: Maar hy is net so duidelik daaroor dat daaruit nie afgelei moet word dat Jode daarom beter is as ander nie in 3:9-20. Almal het immers gesondig en kan nie deur wetsonderhouding die vryspraak van God kry nie. Die mag van die sonde is vir ons te sterk. Let op dat Paulus die woord sonde in die enkelvoud gebruik – dit gaan nie net oor individuele lysies van sondes nie, maar oor die feit van die sonde, ons “sonde-siekte” soos die Bybel Verklaar dit noem.
Let ook op die kunstige samestelling van aanhalings uit veral die Psalms (vers 10 – Pred 7:20; vers 11 – Ps 14:2; 53:3; vers 12a – Ps 14:3; 53:4; vers 12b – Ps 14:1,3; 53:2,4; vers 13a – Ps 5:10; vers 13b – Ps 140:4; vers 14 – Ps 10:7; vers 16 – Jes 59:7; vers 17a – Jes 59:8; vers 18 – Ps 36:2; vers 20 – Ps 143:2) om die totale verderflikheid van een en almal te onderstreep.
3:21-31: “Maar nou …”, begin Paulus in vers 21 – en dit is die blye evangelie – alles is nie daarom verlore nie. Net soos almal gesondig het en lei aan die “sonde-siekte”, kan almal die vryspraak van God verkry deur in Jesus Christus te glo.
In taal wat herinner aan ’n nagmaalsformulier spel hy in vers 25-26 die hoof elemente van die evangelie uit: God gee versoening en vryspraak deur die offer van Jesus Christus vir elkeen wat glo.
Die wet en die profete het daarvan getuig, maar die wet kon die vryspraak nie vir mense gee nie. Net die geloof in Jesus Christus het daardie mag.
En die wonderlike nuus is: “God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo” (3:22). Hy is immers die God van die Jode sowel as die God van die heidennasies (3:29).
View all posts in this series
- Die brief aan die Romeine - October 20, 2010
- Romeine 1 – God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo - October 21, 2010
- Die wet in die 3 Formuliere van Eenheid
- Romeine 2 – Die innerlike lewe lei na goeddoen eerder as die wetsvoorskrifte - October 22, 2010
- Romeine 3 – God gee vryspraak sonder onderskeid aan elkeen wat glo - October 25, 2010
- Romeine 4 – Die genade van geloof - October 26, 2010
- Beoefen vandag Lectio Divina - October 27, 2010
- Romeine 5 – Vryspraak lei tot vrede en vrye toegang - October 28, 2010
- Romeine 6 – Om vir God te lewe en nie vir die sonde nie - October 29, 2010
- Romeine 7 – Die Gees is die agent van verandering, nie die wet nie - November 1, 2010
- Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is - November 2, 2010
- Romeine 8:18-39 – As God vir ons is, wie kan teen ons wees - November 3, 2010
- Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word - November 4, 2010
- Romeine 12 – Ons het ’n paar kopskuiwe nodig - November 5, 2010
- Romeine 13 – Julle moet mekaar liefhê - November 8, 2010
- Romeine 14 – Aanvaarding eerder as argumente - November 9, 2010
- Romeine 15-16 – Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het - November 10, 2010
- Die fundamentele vertrekpunt in etiese sake - September 9, 2017
- Word verander deur die vernuwing van julle gemoed - June 13, 2018
- Uitverkiesing en die eindoordeel - September 6, 2018