Galasiërs 5:13-6:17 – VRYHEID: dra die vrug van die Gees in die gemeenskap van gelowiges

In die laaste deel van die brief aan die Galasiërs fokus Paulus op die Heilige Gees.  En die geheim van ’n Geesvervulde lewe is om onder beheer van die Gees te lewe en nie onder beheer van die wet of die sondige natuur nie.  Dit bepaal die rigting waarin jou lewe ontwikkel – óf jy dra al hoe meer die vrug van die Gees, óf jy word beheer deur jou sondige begeertes;  óf jy lewe in die kragveld van die Gees óf in die kragveld van die vlees.

Maar ’n mens moet hierdie groei nie in die eerste plek persoonlik opneem nie.

Die lewe onder beheer van die Gees beteken dat sekere sondige praktyke (= meervoud, met die klem op wat mense doen) BINNE die gemeenskap van gelowiges vermy moet word.  Let op dat 8 van die 15 sondige praktyke met konflik in die gemeenskap van gelowiges te make het (Gal. 5:19-21): vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeelheid, skeuring en afguns.

Die res van die sondige praktyke het wel met jou persoonlike lewe te make.  Paulus wys hulle op sekere slegte moreel-etiese waardes: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap (dronk-drink partytjies) en uitspattigheid (oordadige etes) asook die navolg van verkeerde godsdienstige praktyke: afgodsdiens (beeld-aanbidding) en towery (gebruik van magiese voorwerpe).

Die vrug (= enkelvoud, met die klem op hoe mense is) van die Gees het eweneens direk met gedrag BINNE die gemeenskap van die gelowiges te make: liefde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid en nederigheid.  Selfs die ander 2 dele van die vrug het ’n impak op die gemeenskap van gelowiges: vreugde, selfbeheersing (vry EN verantwoordelik!), hoewel dit meer met jou persoonlike gedrag te make het.  Maar belangrik, die dinge is nie soseer iets wat jy doen nie, dit is iets wat in jou groei deur die werk van die Heilige Gees.  Dit dui ’n manier van omgaan met ander aan, ’n manier van wees.

Uitleggers wys gereeld daarop dat hier 3 groepe van 3 deugdes genoem word.  In lyn daarmee sal ek dit ook só kan voorstel: 1) Gawes van God: liefde, vreugde, vrede; 2) Gawes vir die gemeente: geduld, vriendelikheid, goedhartigheid; 3) Gawes vir die gemeenskap: getrouheid, nederigheid, selfbeheersing.  Veral die laaste drie, wat as Christelike deugdes verklaar kan word, sou deur die Griekse wysgere hoog aangeslaan word.

Die lewe in die Gees het dus alles te make met ’n mens se gedrag in die gemeenskap van die gelowiges.  Daarom dat Paulus vervolg in Galasiërs 5:26 met ’n verdere waarskuwing: “moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie,”  en dit afsluit met ’n oproep om mekaar se laste (verwys heel moontlik terug na wanneer iemand in versoeking kom) te dra.  Selfs wanneer iemand in sonde geval het, moet só ’n persoon met ’n gees van sagmoedigheid reggehelp word.  Alles om die gemeenskap van die gelowiges te beskerm.  En daarin moet alle gelowiges volhard: “laat ons nie moeg word om goed te doen nie.”

Soos in van sy ander briewe (1 Kor. 16:21; Kol. 4:18; 2 Tess. 3:17) sluit Paulus dié een af in sy eie handskrif.  En dit is heel gepas ’n snydende aanval op die besnydenis voorstanders.  Hy wys onder andere uit dat hulle dit eintlik om selfsugtig redes doen, om met hulle beheer oor die liggaam van ander te kan spog.  “Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is” (Gal. 6:15).  Hierdie nuwe mense, mense wat vry gemaak is deur Christus, is die ware Israel – die eerste keer dat hy so prontuit hierdie term gebruik en op die kerk van toepassing maak (Romeine 9-11 brei hierop uit).

Galasiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • Beste Pastoor

    Ek is besig om te fokus op die vrug van die gees in Galasiers, en wou graag meer oor die volgende gedeelte weet:

    “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”

    My vraag is spesifiek op die doen in die laaste gedeelte. Beteken die doen spesifiek iemand wat in hierdie dinge genoem te volhard, of iemand wat hierdie dinge somtyds doen?

    Ook staan daar geskrywe “sulke dinge”. Beteken dit dat iemand nie die koninkryk sal beerwe as hy/sy al die dinge genoem doen, sommige doen of net een van die dinge doen (of volhard)?

    Dankie, Groete.

    Daar staan ook dat mense wat sulke doen, nie die koninkryk van God sal sien nie.

    • Hi Christopher, Die Griekse werkwoord wat in Galasiërs 5:21 gebruik word, is prassō. Dit word in die teenwoordige tyd gebruik wat beteken dat dit op mense dui wat in ‘n gewoonte is om dié dinge te beoefen: “to “practise”, i.e. perform repeatedly or habitually.” (Strongs en Liddle-Scott). Dit dui dus op ‘n praktyk in jou lewe, iets wat jy gereeld beoefen, sonder dat jy die Here om vergifnis en verlossing vra, en sonder dat jy daarteen stry en deur die Gees die werke van die vlees doodmaak (Rom 8:13).

      Die “sulke dinge” dui op dinge wat soortgelyk is aan dié vyftien dinge wat hy noem. Hy noem bv nie vuiltaal nie, maar dit is ingesluit omdat hy op ‘n ander plek daaroor praat (Ef 4:29). Die vyftien dinge is dus verteenwoordigend van ‘n lewe wat nie aan God behoort nie.

      Wanneer jy dié dinge doen, wys jy eintlik dat jy nog nie die verlossing uit God se hand ontvang het nie, wat beteken dat jy die koninkryk van God nie sal beërwe as jy nie tot bekering kom nie. Bekering help ons om die werke van die vlees dood te maak en die vrug van die Gees sal dan al hoe meer in jou lewe na vore kom.

  • Geagte Pastoor Chris;

    Ek wil graag weet waarom die Boek van Enoch nie in die bybel ingesluit is nie?
    Is van die informasie daarin verkeerd?

    Baie Dankie, Groete.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: