Psalm 65 – Waar U ook gaan, is daar oorvloed!

Die Psalm is ’n lofsang aan God vir al sy oorvloedige gawes.  Dit sluit sy gebedsverhoring en vryspraak van skuld vir alle mense in (vers 2-3), ook die oorvloed van die goeie dinge wat Hy gee vir die geloofsgemeenskap, dié wat Hy uitkies om nader te kom om sy teenwoordigheid by die tempel te geniet (vers 5-6a) asook die kragtige dade wat Hy regoor die wêreld vir almal (vers 6b-9) en alles doen ( vers 10-14).  Hy is nie net God ons Verlosser nie (vers 6a), maar die God van alle mense selfs in afgeleë lande (vers 6b), trouens die God van die hele bewerkte en onbewerkte aarde.

Let op hoe die teenwoordigheid en betrokkenheid van God in konsentriese geografiese sirkels beskryf word, wat ook die wyse is waarop die Psalm opgebou is.

  • God seën die geloofsgemeenskap in Sion – vers 2-6a. Die hart van God se seën word eerstens persoonlik en in die geloofsgemeenskap in Sion by die tempel in Jerusalem ervaar (vers 2-6a).  God verhoor gebede, spreek vry van skuld en laat sy mense die goeie dinge in sy huis in oorvloed geniet.  In Sy trou antwoord Hy met kragtige dade.  Hy is immers God, ons Verlosser.  Aan dié God kom ’n lofsang toe in Sion.  Maar let ook op dat dié vergifnis vir alle mense bedoel is, soos vers 3-4 aandui.  Dit is ’n baie belangrike stuk hoop in die Psalm.
  • God seën die mense in afgeleë plekke en op verre seë – vers 6b-9.  Tweedens het God se seën ook ’n uitkringende kragtige uitwerking op alle mense en nasies selfs op afgeleë plekke en op verre seë.  Die God en sy mag dwing ontsag af, want Hy kan vir gebedsverhoring in alle situasies vertrou word.  Hy laat selfs die rumoer van die nasies bedaar.  Mense in die ooste en in die weste juig oor God.
  • God seën die hele aarde – vers 10-14. Derdens bring God se sorg oorvloed en vrugbaarheid vir die hele aarde – die land, die riviere, die ploeglande, die woestyn, die bulte, die velde en die vlaktes (vers 10-14).  Daar is volop water, welige koring, genoeg reën, welige groei, volop weiding selfs in die woestyn en wemelende kleinvee.  God kroon die jaar met sy goeie gawes.  Waar God ook al gaan, is daar oorvloed!  Dit is die evangelie van dié Psalm. Trouens, alles is Sy werk!
View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: