Psalm 58 – Daar is tóg ’n God

Steeds op die wysie van “Moenie verwoes nie”, spreek Dawid die wydverspreide probleem van ’n korrupte regstelsel aan.  Hy vra van God in dié gebed om optrede sodat: “die mense sal sê: Daar is tóg ’n beloning vir die regverdige, daar is tóg ’n God wat reg op die aarde laat geskied!” (vers 12).  Die goddelose regters se mag, invloed, nalatenskap en lewe moet verwoes word, sodat die regverdiges bevestig kan word in hulle lewenskeuse en, belangrik, God weer kan raaksien.

Regters as gode

Vers 2 lui in die gebruikte grondteks eintlik soos volg: “Praat julle werklik regverdig, in stilte?” sarkasties bedoel.  Dit kan dan geïnterpreteer word dat Dawid vra: Is julle werklik regverdig deur stil te bly wanneer julle eintlik moet praat?

Dit maak egter eintlik meer sin om die Hebreeuse woord stilte (celêm) te lees as gode (celim), omdat dit net ’n klein wysiging behels aan die klinkers en nie aan die oorspronklike teks van die OT verander nie.  Die oorspronklike Hebreeuse teks van die OT het aanvanklik net uit medeklinkers bestaan.  Daar het dus net clm oorspronklik geskryf gestaan.

Die Masorete wat die klinkers baie later eers tot die OT teks bygevoeg het, en wat nou deur ons gebruik word as grondteks, het dus op dié punt die Hebreeuse woord clm  moontlik verkeerd gepunteer.  Gode maak meer sin as ’n metaforiese beskrywing van regters (“julle wat mag besit” – soos die NAV dit vertaal het), omdat dit uit die konteks duidelik is dat Dawid oor die korrupte regstelsel praat.  Hierdie gode is mense wat met ’n soort goddelike sanksie kies om korrup en gewelddadig op te tree deur onbillik in beslissings in sake tussen mense op te tree.

Dit is verbind aan die OT idee dat daar gode aangestel is om orde op die aarde te handhaaf en dat hulle dit gedoen het deur aardse menslike instrumente, soos ons dit nog beter gedefinieer sien in Psalm 82. Paulus werk in Efesiërs 6 waarskynlik ook met dié idee as hy oor die geestelike stryd praat: “teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug” (6:12).

Uitleg

Die Psalm val natuurliker wys in vier dele uiteen:

  1. ’n Beoordeling van die onbillike uitsprake van die regters – vers 2-3.  Hulle mislei hulleself deur te dink dat hulle regverdig is.  Hulle optrede is gewelddadig en korrup en is duidelik uit die manier wat hulle lewe.
  2.  ’n Beskrywing van die oorsprong van hulle slegte, verkeerde en bedrieglike pad – vers 4-6.  Let op hoe hulle in karakter as giftige slange en adders beskrywe word wat doof is vir of hulle doof hou vir die stem van die slangbesweerder, hoe vernuftig hy ook mag wees.
  3. ’n Beroep op God om hulle mag, invloed, nalatenskap en lewe te vernietig – vers 7-10.  Sien breër beskrywing hieronder.
  4. ’n Beskrywing van die impak wat dit op die lewenskeuse en Godsbelewenis van regverdiges sal hê – vers 11-12.  Op grusame wyse word die blydskap van die regverdige wyse beskryf as vergelding gebeur en die bloed van die goddelose oor sy voete loop.  Hoewel ons dié beskrywing nie meer só sal gebruik in ons gebede nie, bly die punt van vers 12 steeds geldig: wanneer regverdigheid seëvier, bevestig dit regverdiges in hulle lewenskeuse en NB word hulle Godsbewussyn versterk: “Daar is tóg ’n God wat reg op die aarde laat geskied!”

Hierdie laaste vers is die spits van die gebed wat ons rondom onreg moet bid:

  1. dat regverdiges bevestig sal word in hulle lewenskeuse – om nie te bedrieg nie, om nie geweld as opsie te kies nie, om billik te wees in alle sake tussen mense, om rekening te hou met God in alles – en
  2. dat hulle Godsbewussyn versterk moet word in hulle ervaring dat daar tóg ’n God is wat reg op die aarde laat geskied.  Dít is wat ons kan en moet bid oral waar ons met onreg te make het.

Beroep op God om hulle mag, invloed, nalatenskap en lewe te vernietig

Met treffende metafore beskryf Dawid die tipe aksies wat Hy van God verlang.  Telkens is daar in elke vers ’n dubbele metafoor wat ’n aspek van die goddeloses se invloedsfeer aanspreek wat Dawid vra dat God moet vernietig – hulle mag, hulle invloed, hulle nalatenskap en hulle lewe:

  • Mag God hulle mag verbreek – vers 7:
    • soos ’n brutale tandarts hulle tande uit hulle monde te ruk, sodat hulle “pap-mond” nie meer skade kan aanrig nie;
    • soos ’n vreesaanjaende leeutemmer hierdie “leeu-mense” se slagtande uit te slaan sodat hulle niemand meer kan verskeur nie;
  • Mag God hulle invloed laat verdwyn – vers 8:
    • soos water wat wegsyfer;
    • soos droë gras wat fyngetrap word;
  • Mag God hulle nalatenskap vernietig – vers 9:
    • sodat ’n mens hulle nalatenskap kan sien vir wat dit is: as net maar die slym wat wegraak as die slak verby is;
    • sodat hulle nalatenskap uitgewis kan word:  dat dit is soos misgeboortes wat geen lewe of invloed meer het nie en slegs weggegooi word;
  • Mag God hulle lewe beëindig – vers 10:
    • deur hulle uit te roei soos onkruid;
    • deur hulle in die fleur van hulle lewe te verskroei en weg te waai soos in ’n gloeiende wind.

Soos reeds by Psalm 57 opgemerk is, hierdie tipe sentimente “gee woorde aan ons woede”.  Let ook op dat dit teenoor God uitgespreek word.  Vir Sy optrede word gevra.

“When bitterness and pain are poured out to God, the way may be cleared for a fresh vision of reality and new trust in God. These psalms help to purify us of feelings of rage, and also of dereliction and abandonment.” (Tate, Word Biblical Commentary : Psalms 51-100)

In die NT word hierdie verwagting meer genuanseerd uitgespreek, maar die beroep op ’n God wat reg laat geskied, is steeds deel van ons geloofswêreld, soos steeds grafies in ’n boek soos Openbaring uitgespreek word.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: