Psalm 27 + 31 – Vertrou God, wees sterk en vol moed

Hierdie 2 Psalms teken die worsteling van Dawid om in sy vertroue op God te volhard, ten spyte van teëstand en teëspoed. Dit word saamgebind deur die appèl aan die einde aan die hoorders-lesers om sterk te wees, moed te hou en te bly vertrou (vgl dieselfde opdrag aan Josua met sy inname van die beloofde land – Deut 31:23; Jos 1:6,7,9).

Psalm 27
Die Psalm bestaan uit drie eenhede:

  • Vers 1-6 waar vertroue in God uitgespreek word (Dawid verwys na God in die 3de persoon: Hy).
  • Vers 7-13 waar God om genade gesmeek word (Dawid spreek God direk aan in die 2de persoon: U).
  • Vers 14 waar ‘n appèl tot die hoorders-lesers gerig word tot sterkwees en moedhou.

Vers 1-6

God word met drie eienskappe geteken: lig, redding en toevlug. God verdryf dus donkerte, gee oorwinning en is beskerming in nood. Hierdie eienskappe van God het sekerheid vir Dawid gebring in sy onderskeie oorloë, maar het ook betekenis in enige situasie waar daar teëstand of teëspoed ervaar word.

Dit word aangevul met die enkelvoudige behoefte om altyd in God se teenwoordigheid te lewe – die tempel funksioneer hier as die metafoor daarvoor. Dit is hierdie ervaring van sy teenwoordigheid wat die vertroue gee om aan God te kan vashou, sodat Sy heerlikheid nie net sigbaar sou word nie, maar Sy leiding Dawid se lewenspad kan verlig.

Vers 7-13

Hierdie eienskappe van God vorm nou die basis vir Dawid se gebed.  Lof lei tot smeking.  Let op dat die verhoring van sy gebed nie as vanselfsprekend geteken word nie, maar as iets wat steeds uit genade gegee word (vers 7), al gee vorige gebedsverhorings Dawid wel die vrymoedigheid om met oorgawe en verwagting te kan vra (vers 9 – “U was nog altyd my hulp”).

Let op hoe Dawid ook nie net vir hulp vra en daarmee basta nie.  Nee, “Leer my u wil, Here” is sy versugting, sodat 1) sy vyande nie hulle sin kry nie (en hy van God se pad afdwaal nie), en 2) hy God se goedheid in die land van die lewendes kan ervaar!

Vers 14

Hierdie oproep om te vertrou, om sterk te wees en goeie moed te behou, is ’n belangrike deel van ’n mens se geestelike lewe.  Dit is die hand waarmee God se genade en uitkoms in jou lewe ontvang word.  Dit is immers dié wat op die Here vertrou wat nuwe krag kry, soos Jesaja ook sê (Lees meer in hierdie bydrae van my: Jesaja 40-41 – Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag).  Vertroue is dus die voorbereiding om die genade wat God gee te kan herken en ontvang.  So lank ’n mens natuurlik ook net onthou dat dit steeds genade is.

Psalm 31 – My toekoms is in u hande

Dit is baie belangrik om in hierdie Psalm te sien dat die Psalmis, Dawid, aan God vashou ten spyte van sy ellende, die lewensbedreiging, die vyande, sy nood, sy verdriet, sy kommer, sy swaarkry, en sy uitgeteerde liggaam (vers 8-13).  Hy voel “soos iemand wat lankal dood is”, hy’t “geword soos ’n ding wat lê en vergaan” (vers 13) … “Maar ek vertrou op U, Here” … “ek sê, U is my God” (vers 15).

Vertroue kom dus meer tot sy reg in die smeltkroes van die lewe.  Vertroue wys sy ware karakter in swaar tye.  En Dawid kan dit doen, omdat hy glo: “My tye is in u hand” (vers 16).  Hierdie sin kan ook vertaal word met “My toekoms is in u hand” (Craigie).

Terwyl hy pleit dat hy uit die hande van sy vyande en vervolgers gered word, en hy pleit dat God hom sal red deur sy onfeilbare liefde, en hy smeek dat die Here hom nie teleurgestel sal laat staan in sy verwagting nie, neem hy nie God se rol oor deur in die uitkoms te glo nie, maar net in God.

Waaraan hy vashou, is alles wat hy weet van God – sy getrouheid (vers 5, 21), sy getroue en onfeilbare liefde (vers 7, 16), dat Hy raaksien (vers 7), dat Hy ’n veilige staanplek gee (vers 8), sy goedheid (vers 19) en sy guns en beskerming (vers 24).  Hoe hy vashou, is om te vertrou, sterk te wees, moed te hou.

Dat die Here wel die uitkoms voorsien het, wat Dawid gevra het, is wonderlik: “U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het” (vers 23).  Daarom vorm dit deel van sy appèl aan die geloofsgemeenskap, om sterk te wees, moed te hou en die Here te vertrou: “Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is …” (vers 24).

Uit ’n NT hoek word die Psalm se boodskap egter verruim, deurdat Jesus aan die kruis die woorde in vers 6: “In u hande gee ek my lewe oor” aan die kruis gebruik het: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46).  Waar Dawid gevra het vir redding uit die dood, het Jesus gevra vir redding in die dood (Craigie)!  Daarmee wys Jesus dat die uitkoms (tye/toekoms) van ’n mens se lewe regtig in God se hande lê, (vers 16) en dat dit selfs die dood kan insluit.

Ek dink dit is baie keer ons probleem in ons geloofslewe.  Ons fikseer op die uitkoms, die redding self, nog soos onsself dit definieer, en verbind dan ons geloof aan die regte uitkoms, in plaas daarvan om ons geloof aan God te verbind, op Hom te vertrou.  En dit stuur net op rampspoed af in terme van ons geloofslewe.

Jesus wys vir ons dat ons ernstig en volhardend vir uitkoms kan bid, soos ’n Dawid van ouds, maar altyd die spesifieke uitkoms in die Here se hande moet laat.  Dit sal voorkom dat ons geloof wankel of ten minste ongeloofwaardig voorkom, as die uitkoms nie is wat ons verklaar het dat dit sal wees nie.  En kan ons die uitkoms, hoe dit ook al is, met blydskap uit die hand van die Here ontvang.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: