Skip to main content

Psalm 62 – Net by God vind ek rus

Hierdie Psalm druk die vaste geloof van Dawid uit terwyl hy in ’n situasie van groot uitdagings verkeer.  Dit gee aan hom nie net ’n rustige sekerheid midde-in aanvegtinge nie, maar dien ook as getuienis en bemoediging van die geloofsgemeenskap.  God is vir almal ’n veilige vesting.  Daarin kan ’n mens rus vind.

Let op hoe hierdie Psalm regdeur een van belydenis en bemoediging is en waarskynlik in die liturgie gebruik is as getuienis aan die geloofsgemeenskap en dat die Psalm eers in die laaste vers, amper ongemerk, oorgaan tot ’n gebed aan God.

Die Psalm kan in drie dele verdeel word weens die Selas en die herhalende frase in vers 2 en 6: “net by God vind ek rus”.

  • Net by God vind ek rus – vers 2-5.  Dawid beweeg van ’n belydenis oor God se onwankelbaarheid waarin hy rus vind (vers 2-3), na ’n beskuldiging van sy teenstanders se pogings om hom op skynheilige wyse te na te kom en uit te werk (vers 4-5).
  • Stort julle hart voor Hom uit – vers 6-9.  Dieselfde beweging word in dié deel van die Psalm gevind, net hierdie keer van belydenis (vers 6-8) na bemoediging van sy geloofsgenote (vers 9).  Let op hoe hy ook dié keer sy vertroue in God uitspreek en die volk aanmoedig om hulle hart voor God uit te stort (vgl. Ps. 102:1; 142:3).  God is vir ons ’n toevlug!
  • Net God het regtig mag – vers 10-13.  ’n Soortgelyke beweging is merkbaar in hierdie deel van die Psalm.  Die magteloosheid van die mens word onomwonde beskryf in terme van hulle verganklikheid en nietigheid (vers 10-11) en vergelyk met die mag van God wat alle mense impakteer en daarom die enigste Een is waarop ’n mens kan vertrou (vers 12-13).  Let op hoe Dawid ons waarsku om nie op geweld of rykdom te vertrou nie.  Moenie dat rykdom “te na aan jou hart lê nie.”

Die laaste vers se gebed formuleer twee diep waarhede oor God.  Benewens God se mag (vers 12) staan sy liefde en sy regverdigheid uit as dié prentjie van God wat rus en versekering bring.

  • Ons kan op God se liefde vertrou: In die oorspronklike Hebreeus lui die eerste deel só: “en aan U, Here, behoort liefdestrou (gêsêd)”   wat beteken dat God se lojale liefde die grond van ons bestaan is.  Die NAV se vertaling verberg ietwat dié beskrywing van God met: “en ’n mens net op U, Here, kan vertrou”.  Die punt van hierdie uitspraak van God is dat ’n mens op die getrouheid van sy liefde kan staatmaak.
  • Ons kan op God se regverdigheid staatmaak:  Die tweede deel van die vers sê: “dat U met elkeen handel volgens sy verdienste”.  Hierdie perspektief op God kan verkeerd gehoor word. In die oorspronklike Hebreeus word die woord werke gebruik, nie verdienste nie.  Daarby fokus die vers eintlik meer op die billikheid en regverdigheid van God.  Dit dien tot versekering en bemoediging wanneer mens aan die kortste end trek in jou verhouding met ander mense.  God het die mag (en die deernis) om in die laaste en finale instansie reg te laat geskied.  Daarop kan ons staatmaak.

Dié gedagte van Psalm 62:13 (vgl. ook Ps. 28:4; Spr. 24:12; Jer. 17:10) het wyd in die NT ’n neerslag gevind.  God tree billik op teenoor alle mense volgens die somtotaal van hulle werke, die nalatenskap van hulle lewens.  Hier is ’n seleksie van dié tekste:

  • Jesus verklaar in Matt. 16:27 op voetspoor van hierdie teks: “Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld.”  Drie ander gedeeltes in Matteus brei verder hierop uit.  In Matt. 7:22-23 sê Jesus dat om in jou verhouding met God staat te maak op prediking, duiweluitdrywing en wonders doen, is ’n fundamentele fout, omdat sulke dinge jou as sodanig niks sal help in die oordeelsdag nie.  God wil hê dat ons doen wat Hy van ons vra; In Matt. 13:41-42 sê Jesus verder dat dié wat ander in sonde laat val en God se wil in die wind slaan, sal vernietig word in die oordeel van God.  Jesus se duidelikste woord hieroor is in Matt. 25:31-46 waar hy werk met die metafoor van die skeiding van mense in skape en bokke, dié wat God se guns geniet (skape) en dié wat dit nie sal kry nie (bokke).  Albei groepe word met dieselfde maatstaf gemeet, óf hulle die wil van God uitgevoer het óf nie.  En die wil van God is duidelik, dat hongeriges, dorstiges, vreemdelinge, armes, siekes en gevangenes versorg sal word.  Dié wat dít doen, sal die erfenis van God in besit neem.
  • Paulus  gebruik ook Ps. 62:13 in sy beredenering in Rom. 2:6-8 oor God se hantering van die ganse mensdom: “Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.”   Paulus skryf in dieselfde gedeelte ook oor God se voortdurende en regverdige betrokkenheid in elke mens se lewe, gemik op transformasie hier en nou, maar ook met die oog op die ewige lewe: “Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood. Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie.” Rom 2:9-11.  Wonderlike woorde!  Trouens, God maak dit moontlik vir elkeen wat Hom wil gehoorsaam  om dit reg te kry: “in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” (Ef. 2:10).  Die teenoorgestelde is ook waar, soos ons lees in Paulus se opmerkings oor God se hantering van vals apostels in 2 Kor. 11:15: “Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien.”  Hy gaan selfs so ver om God vir optrede teen kwaadwilliges te vra: “Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld vir wat hy gedoen het.” (2 Tim 4:14).
  • Petrus gebruik hierdie Psalm as appèl aan die gelowiges om uit eerbied vir God in totale toewyding te leef: “Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.” (1 Pet. 1:17).
  • Johannes gebruik ook hierdie Psalm om God se regverdige oordeel oor die afvalliges in die gemeente van Tiatira uit te spreek: “Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.(Open 2:23).  Dit is ook die geval in sy visioen van die laaste oordeel oor die mensdom voor die groot wit troon van God: “Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het.” (20:12-13) Netso gebruik hy dié Psalm om Jesus se beloning van dié wat in Hom glo te motiveer: “Jesus sê toe weer: ‘Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. ‘Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.” (22:12-14).

Dat ons dade dus belangrik is vir God, is duidelik.  Die gedagte is nie dat ons daardeur iets verdien nie.  Dit kan ons nooit nie.  Maar, dit is ook duidelik dat daar niks is wat geloof so duidelik kan toon, as dat ons doen wat God van ons vra nie – presies wat Jakobus so prakties uitspel in sy brief onder die opskrifte: Hoor en Doen (1:19-27) en Glo en Doen (2:14-26).

Ek sal meer hieroor skryf as ons in die toekoms fokus op die brief van Jakobus.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar