Skip to main content

Opbou van Psalms 42-72 – digters en temas

Die opbou van die 2de Psalmboek kan óf in terme van die digters daarvan ingedeel word, óf in terme van die temas daarvan.  In die geheel staan dit bekend as die “gebede van Dawid, seun van Isai” soos Psalm 72:20 dit beskryf.

Opbou volgens digters

  • Psalm 42-49 – Die 2de Psalmboek begin met ’n reeks Psalms wat aan die Koragiete toegeskryf word, Psalm 42-49.
  • Psalm 50 – ’n Psalm van Asaf, die hoof van ’n Levitiese  sangersgeslag in die dae van Dawid (1 Kron. 6:39), sluit dié reeks af. Hy was ook verantwoordelik vir Psalms 73–83.
  • Psalm 51-65 – Die hart van die 2de Psalmboek is die Psalms van Dawid, baie keer voorsien van ’n opskrif wat die omstandighede waarbinne die Psalms geskrywe is, beskrywe.
  •  Psalm 66-67 – Twee anonieme Psalms, wat uitnemende lofpsalms is.
  • Psalm 68-69 – Weereens ’n paar Psalms van Dawid waarin op God se hulp in nood as herinnering vir gelowiges gefokus word.
  • Psalm 71 – Nog ’n anonieme Psalm wat ’n kleinood geword het vir almal wat gevorderd in jare is.
  • Psalm 72 – ’n Psalm van Salomo wat die Psalmboek afsluit.

Opbou volgens temas

Ek gebruik hier hoofsaaklik Douglas Stuart se skema (How to Read the Bible Book by Book) met my eie verwoording van die fokus daarvan:

  • Psalm 42-45Drie gebede om hulp van ’n God wat as afwesig ervaar word (“Waarom slaap U, Here?  Word tog wakker!” – Ps. 44:24) met ’n gebed van bewondering vir die Koning waaraan die hoop vir die toekoms verweef is.  Dit word daarom ’n Koningspsalm genoem.
  • Psalm 46-48Drie lofliedere wat God se beskerming en hulp uit Sion besing.  Dit word daarom Sionspsalms genoem en is heel gepas deur die Koragiete geskrywe en waarskynlik uitgevoer.
  • Psalm 49-53Vyf wysheidsPsalms wat waarde van die regte verhouding met God uitspel in terme van:
    • die vermyding van die verleiding van rykdom wat deur onreg bekom is (Ps. 49),
    • die wysheid om na God te luister en Hom, die regverdige Regter, bo alles te gehoorsaam en Sy lof te besing (Ps. 50),
    • die noodsaak van sondebelydenis om deur God se genade reinheid, vernuwing en standvastigheid deur Sy Gees te ontvang (Ps. 51),
    • die vertroue op God dat Hy die goeie oor die kwade sal laat seëvier (Ps. 52) en
    • die besef dat dit uiters dwaas is om te dink dat daar nie ’n God is nie (Ps. 53 – vgl. ook Ps. 14).
    • Psalm 54-64Elf klaagpsalms van Dawid wat vir God se hulp teen die venynigheid van die vyande vra, meesal met ’n stukkie agtergrond oor die omstandighede waarbinne Dawid die Psalms geskryf het oor:
      • Ps. 54 – die verraad van die Siffiete wat nie met God rekening gehou het nie,
      • Ps. 55 – waarskynlik die verraad van Agitofel, sy maat en goeie vriend, van wie God hom gered het,
      • Ps. 56 – die gevangenskap onder die Filistyne in Gat, waar hy ervaar het dat God op sy trane gelet het, trouens dit is in sy boek opgeteken,
      • Ps. 57 – die vlug vir Saul die grot in, waar hy ten spyte van die gevaar by God skuiling gevind het,
      • Ps. 58 – die onreg wat gedy onder immorele leiers, wat sal ervaar dat daar tóg ’n  God is wat reg op die aarde laat geskied,
      • Ps. 59 – die omsingeling deur Saul in sy eie huis, waar hy weereens ervaar het dat God vir hom skuiling bied,
      • Ps. 60 – die oorwinning oor die Arameërs na God hulle eers verstoot het,
      • Ps. 61 – die wanhoop in die vreemde met die gebed dat hy by God ’n blywende tuiste wil vind,
      • Ps. 62 – die belydenis dat hy net by God rus vind,
      • Ps. 63 – sy verblyf in die Judawoestyn, waar hy ervaar het dat God se troue liefde meer werd is as die lewe,
      • Ps. 64 – die komplotte van kwaadwilliges wat deur God getroef is.
      • Psalm 65-68Vier lofpsalms wat God se dade van redding en verlossing besing, sowel as sy lewensveranderende teenwoordigheid.  Dit is waar vir Israel (Ps. 66,68) sowel as vir die hele aarde (Ps. 65,67 – “o God, ons Verlosser, op wie ook die mense in afgeleë lande en op verre seë vertrou” – Ps. 65:6).
      • Psalm 69-72Drie gebede om hulp in aanvegting beide van buite (vyande) en van binne (sonde) sowel as “noudat ek oud geword het (Ps. 71).  ’n Psalm van Salomo sluit dié 2de Psalmboek af, weereens ’n Koningspsalm soos in Ps. 45, waarin vir God se verlossing deur die Koning gebid word.  Let op hoe dié vier Psalms – 69-72 – op dieselfde wyse die bundel afsluit as wat die eerste vier Psalms – 42-45 – die 2de Psalmboek begin het: drie gebede en ’n Koningspsalm.

Oor die Koragiete

11 Psalms word in totaal aan die Koragiete toegeskryf.  Ons vind hulle Psalms in 2 kort reekse,  aan die begin van die 2de Psalmboek (wat ons nou gaan lees) en later ook aan die einde van die 3de Psalmboek:

  • Ps. 42–49 met ’n Psalm van Asaf (meer oor hom later) as afsluiting daarvan (Ps. 50), en
  • Ps. 84-88 (Ps. 86 word aan Dawid toegeskryf en Ps. 89, die afsluiting van die 3de Psalmboek, aan Etan, ‘n wyse man van Juda in die tyd van Dawid en Salomo [1 Kon. 4:31]).  Interessant genoeg word dié reeks voorafgegaan deur ’n eie reeks Psalms van Asaf (Ps.73-83) waarmee die 3de boek van die Psalms dan ook ingelui word.

Die Koragiete was deel van die stam van Levi.  Van die Koragiete het diens gedoen as deurwagte by die heiligdom (1 Kron. 9). Sommige was soldate in Dawid se leër (1 Kron. 12). Ander was weer bekend as musikante in die tempel (1 Kron. 6).

Een van die groot Koragiete was die profeet Samuel.  Een van sy kleinseuns, Heman, word ook uitgesonder as ‘n musikant (1 Kron. 6), wat ooreenstem met hulle verbintenis aan die Psalms.  ‘n Mens moet net hierdie Heman onderskei van ‘n ander Psalmskrywer, ook ‘n wyse man (1 Kon. 4:31), wat vir Psalm 88 verantwoordelik was.  Dié Heman was ‘n Esragiet, nie ‘n Koragiet nie (Ps. 88:1).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem