Psalm 66 – God se dade moet vir almal vertel word

Die eerste kenmerk van dié Psalm (outeur onbekend) wat my opval, is die feit dat die eerste deel van die Psalm (vers 1-7) in die meervoud geskryf is – ons – en die tweede deel van die Psalm (vers 8-20) in die enkelvoud – ek.  Die Psalm was dus waarskynlik bedoel om in die liturgie gebruik te word om beide die geloofsgemeenskap as ’n individu (dit kon ook die koning gewees het) kans te gee om God te prys vir sy groot dade.  Dit is dus ’n soort dankseggings liturgie.

Dit getuig van ’n wisselwerking tussen verhale van die gemeenskap en dié van ’n lid van daardie gemeenskap, wat ons ’n goeie voorbeeld gee van die ideaal wat ons gerus in ons eredienste na kan streef.  Die lof van die gemeenskap en die lof van die individu hoort saam in die liturgie.  Dit komplimenteer mekaar.

Die tweede kenmerk van dié Psalm is die feit dat die groot dade van die Here, beide in die geloofsgemeenskap as in Dawid se persoonlike lewe, bedoel is om vir almal vertel te word: “Kom hoor wat God gedoen het, kom hoor van sy magtige dade onder die mense.” (vers 5) Ook: “Kom luister, alle dienaars van God, ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het.” (vers 16).  God se wonders in die OT, soos Jesus se wonders in die NT, was nooit bedoel om net asemrowend te wees nie, maar mense van God se teenwoordigheid en betrokkenheid in die lewe te oortuig.

Daarom word van die wonders as tekens gepraat, soos bv. duidelik in die Johannes evangelie uitgespel is.   En dít is ook die rede waarom die dade aan die nasies bekend gemaak moet word, sodat hulle ook onder die indruk van God se betroubaarheid en betrokkenheid in die lewe oortuig kan word.

Die derde kenmerk van dié Psalm is die wye verskeidenheid van reaksies wat gevra word van almal wat van God se groot dade hoor: juig (vers 1), sing (vers 2), gee Hom eer (vers 2), bely voor God (vers 3), kom hoor (vers 5), prys ( vers 8 – alle volke!), betaal geloftes (vers 13 – dit was brandoffers [die hele offer is verbrand, die persoon wat offer het nie iets daarvan terug gekry soos dit die geval was met van die ander offers nie]), kom luister (vers 16).  Daar is nie net een manier waarop God erken word nie, maar baie.  En dié erkenning hou ook verband met die situasie waarbinne die ervaring van en met God plaasgevind het – bv. geloftes pas by die een of ander noodsituasie (vers 13-15).

Vers 6-7 verwys waarskynlik na die twee groot gebeurtenisse in die woestyntyd, die trek deur die Rooi See (see) en die intog deur die Jordaan (rivier).

Vers 9 se verwysing na God wat “nie toelaat dat ons struikel nie” is waarskynlik ’n eufemisme vir die feit dat Hy gekeer het dat hulle doodgaan in die beproewings  waarvan vers 10-12 praat.  Let op hoe pragtig die Psalmis die omvangrykheid van die beproewings beskrywe: “ons het deur vuur en water gegaan”.  Die Psalmis erken dus dat beproewings deel van die lewe saam met God is.  Dit is nie net as gevolg van sonde en swakheid nie.  Meer nog, dat God daarmee ’n doel het: “U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer.” (vers 10).

Petrus sou veel later hierby aansluit en dit soos volg verwoord: “Verheug julle hieroor (die lewende hoop op die ewige lewe), selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.” (1 Pet. 1:6-7).

’n Interessante stukkie kommentaar op gebed kom na vore in vers 18-20 dat God nie sou luister as daar sonde in die hart van die bidder sou wees nie.  Spreuke 28:9 en Jesaja  59:2 druk dieselfde gedagte uit.  Spreuke waarsku teen ’n gebed wat nie met toewyding aan die Here gekombineer word nie: As iemand hom doof hou vir die wet van die Here, sal die Here ’n afsku hê van so ’n man se gebed. Jesaja waarsku teen ’n lewe wat nie met toewyding aan die Here geleef word nie.  Gebede het dan geen krag nie: Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.”

Die blinde man wat Jesus genees met die wegstap van die tempel af in Johannes 9 het dié Psalm waarskynlik geken, want hy reageer skerp op die Fariseërs se ontkenning van Jesus se wonderwerk deur vir hulle uit die Psalm aan te haal:

“’Dis darem snaaks,’ sê hy daarop vir hulle. ‘Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees.  Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.’”

Dit het die Jode natuurlik nie oortuig nie en het hom afgemaak as ‘n sondaar wat nie die reg het om hulle te leer nie, en hom summier uit die sinagoge uitgeban (Joh 9:30-33).  Jesus het hom egter ontvang en nog verder geleer van wat inderdaad met die blinde man se genesing gebeur het: hy het nou ‘n visie op die God en die ewigheid gekry!

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: