Skip to main content

Psalm 68 – God vul alles en almal met Sy teenwoordigheid

Hierdie Psalm bevat ’n hele paar uitdagings om dit reg te vertaal, omdat hier 15 unieke Hebreeuse woorde voorkom wat nêrens anders voorkom nie.  Die betekenis is onduidelik.  Daarby is daar ’n klomp woorde wat baie min elders gebruik word.  Ek noem dit net om te verduidelik hoekom jy redelik baie onderlinge verskille in vertalings sal raaklees.

Maar dit is ook ’n Psalm wat die meeste woorde vir God en beskrywings van God bevat as enige ander Psalm.  Die woorde Jahwe (vers 17,21), Jah (afkorting van Jahwe – vers 5,19), Elôhîm (vers 1 vv), El (afkorting van Elôhîm – vers 20), Adonai (=Here – vers 18), Shaddai (= Almagtige – vers 15), selfs “die een van Sinai” (vers 9) word vir Hom gebruik.  Hy word ook genoem “Hy wat op die wolke ry” (vers 5), “Vader vir weeskinders” (vers 6), “Beskermer van weduwees” (vers 6), “God, ons hulp” (vers 20), “God wat ons red” (vers 21), “Hy wat ry deur die hemele” (vers 34), en “God van Israel” (vers 36).  Die Psalm maak dus ’n punt daarvan om God se omvangryke betekenis vir alles selfs al in die name wat vir Hom gekies word, te beklemtoon.

Neem vandag een van dié name en dink na oor die betekenis wat dit vir jou inhou.

Drie berge

Een van die maniere om die Psalm in te deel, is om, op voetspoor van Alter, drie van die berge wat in die teks genoem word as uitgangspunt te neem: Sinai (vers 9), Basan (vers 16) en Sion (vers 17).  Sion word wel nie by name genoem word nie, maar dit is uit vers 18,25,30,en 36 duidelik dat die tempelberg in Jerusalem, Sion, bedoel word.  Daar is natuurlik ook ’n vierde berg in die teks, Salmon, maar die berg het nie ’n wesenlike  organiserende betekenis nie en is slegs ’n historiese verwysing na gebeure in die Rigterstyd.

Dit beteken dat die Psalm daarvolgens in drie dele verdeel kan word:

1.  God lei sy volk vanuit Egipte na Kanaän met die berg Sinai as transformasie-punt – vers 2-11.

Dawid loof die Here in die eerste deel vir sy goedheid (vers 11) wat Hy gedemonstreer het in die wonder van die Uittog uit Egipte, die beskerming deur die woestyn  en die Intog in die land wat Hy beloof het.  Die groot dade van God in die verlede is die basis waarop vertroue in die hede en die toekoms gebou word.

Dit is hierdie tipe Godsverskynings (vers 2) wat ’n impak het op goddeloses sowel as regverdiges. Aan die eenkant vernietig dit die goddeloses, omdat dit hulle besware teen God en teenstand teen God ontbloot, maar aan die ander kant verbly dit regverdiges, omdat God se verskynings hulle geloof en vertroue bevestig – vers 2-4 (vgl. Num. 10:35–36 wat soortgelyke taalgebruik het en dié verskyning van God aan die Ark verbind).

Let op hoe Dawid God loof vir die deernis wat Hy het met die swakkes in die gemeenskap.  Hy roep die geloofsgemeenskap op om ’n lied tot eer van God te sing en te jubel oor sy omgee vir weeskinders en weduwees, vir eensames en gevangenes (waarskynlik oorlogsgevangenes of bannelinge wat weggevoer is) – vers 5-7.  In die jubeling oor wie God is, lê natuurlik ook al ’n bewussyn opgesluit van hoe ons wat Sy kinders is, ook moet wees en moet optree teenoor sulke mense.  Weeskinders, weduwees, eensames en gevangenes word gekenmerk deur hulle weerloosheid en alleenheid.  Daar is nie natuurlikerwys iemand wat vir hulle omgee nie.  Maar as God vir hulle is, dan word die geloofsgemeenskap wat Hom God noem, opgeroep om mense te wees wat dié swakkes omarm en versorg en só hulle eensaamheid verdryf.

“Maak ’n pad vir Hom” beskryf die ruimte wat deur die lofsang vir Hom in die lewe van die geloofsgemeenskap geskep word, wat ook verbind is aan die lof vir sy deernis vir eensames, mense wat verlore is sonder die gemeenskap wat die gelowiges vir hulle kan bied. Die volk word só voorberei om God se teenwoordigheid te ontvang, soos Jesaja dit byvoorbeeld beskryf (Jes. 40:3; 57:14; 62:10 – Johannes die Doper se bediening in voorbereiding van die Messias is ook só beskryf).

Die beskrywing van God “wat op die wolke ry” herinner ons aan die tyd in die woestyn waar die wolkkolom by dag en die vuurkolom by nag God se teenwoordigheid by die volk gesimboliseer het.  Let ook op hoe die opstandelinge se lot daarenteen beskryf word as ’n verblyf in ’n “kaal woestyn”, d.w.s. ’n plek waar God nie is nie.

Die tyd in die woestyn na die Uittog uit Egipte word in gloeiende terme in herinnering geroep – vers 8-9 (vgl. Rigters 5:4–5 wat in dieselfde terme daaroor praat).  Let op die menslike terme waarmee God beskrywe word: “toe U deur die woestyn gestap het” (vers 8), sowel as die goddelike eienskappe wat Hy het: “het die hemel dit laat reën voor U uit” (vers 9), iets wat later in die Psalm verder uitgebrei sal word: “Hom wat ry deur die hemele, die hemele wat van die begin af daar is!” (vers 34).  “Hy het mag oor die wolke!” (vers 35).

Die Intog in die Beloofde land Kanaän word met die metafoor geteken van God wat oorvloedige reëns laat uitsak en die verdorde land weer lewe gee, sodat Sy eie volk daar kon gaan woon – vers 10-11).  God se goedheid het vir dié hulpelose volk ’n bestaansruimte verskaf.

2.  God verslaan sy volk se vyande in die land Kanaän met die berg Basan as simbool van dié vyandskap – vers 12-24.

Die tyd van die Rigters word in herinnering geroep met die verwysing na ’n groot leër en magtige konings wat gevlug het “toe die Almagtige die konings uitmekaargejaag het.”  In ’n verwysing na Ruben wat nie in die oorlog teen koning Jabin en die hoof van sy weermag, Sisera, saam met Debora en Barak geveg het nie, maar “by die saalsakke bly sit” het (Rigters 5:16) herroep Dawid die situasie dat God die oorlog vir hulle gewen het en ten spyte van Ruben hulle se verraad, die vroue tuis die buit kon verdeel (Rigters 5:30).  Die stamme Gilead, Dan en Aser het natuurlik ook nie saam geveg nie, wat dui op die moeite om die volk in sy geheel in daardie tyd saam te snoer.  God se ingrype toe staan ook in die teken daarvan dat Hy eenheid onder hulle wou bring.

Ook die Salmonsberg word genoem in die tragiese konteks van die oordeel oor Abimelek, seun van die rigter Gibeon, wat sy 70 broers doodgemaak het om alleenregeerder te word, maar uiteindelik deur ’n vrou om die lewe gebring is (Rigters 9:48), soos wat Sisera natuurlik ook deur ’n vrou, Jael, doodgemaak is (Rigters 4:21).  Interessant dat die enigste twee verhale waar vroue ’n beduidende rol in die Rigterstyd gespeel het, hier aangehaal word!

Die berg Basan word personifieer as die spits van die teenstand teen God in die Intog en verowering van die land Kanaän.  Basan was eintlik die naam van die koninkryk van koning Og, ’n Refaïet, wat op ’n massiewe bed van yster geslaap het wat vier meter lank en amper twee meter breed was.  Basan was een van die eerste dele wat Israel op pad die land in verower het (Deut. 3:1-11).  Die spesifieke berg waarna hier verwys word, kan moontlik die imposante berg Hermon wees wat in die streek van Basan geleë is (Deut. 3:8).  Basan word met rykdom en weelde geassosieer, veral vet koeie en sterk bulle, maar ook baie keer gebruik in beskrywings van mense wat nie met God rekening hou nie (Deut. 32:14; Eseg. 39:18; Amos 4:1; Ps. 22:13; Jes. 2:13; Jer. 22:20).  Hier word die berg as jaloers beskrywe oor die feit dat God ’n ander berg, Sion, as sy woonplek uitgekies het.

Die beskrywing van God se intrek in die heiligdom word in die NT herinterpreteer met verwysing na Christus se hemelvaart van waar Hy – anders as in die OT teks – gawes gee vir die mense (Ef. 4:8). Hier ontvang God geskenke selfs van dié mense wat teen Hom in opstand was.

In ’n redelike grusame prentjie word God se hulp en bewaring in doodsgevaar geskets deur die kop van sy vyande, die kop van dié wat in hulle sonde volhard, te verpletter (vers 22).  In die midde daarvan is die ervaring van die volk: “Dag na dag dra Hy ons!” (vers 20).  Dit dien as ’n beskrywing van die veiligheid wat God vir die volk in die land gebring het met die Intog en Vestiging in die land Kanaän.  “Against all odds”!

3.  God vestig sy heerskappy oor die hele aarde met die tempel-heiligdom in Jerusalem op die berg Sion as basis – vers 25-36.

Vers 25-28 teken die feestelikheid van die lof wat aan die Here op die tempelberg gebring word.  Daar is sangers, mense wat snaarinstrumente bespeel, meisies wat tamboeryne slaan en kore wat God loof uit al die stamme van Israel.  Die vier wat genoem word: Benjamin-Juda en Naftali-Sebulon is die mees suidelike en die mees noordelike stamme van Israel onderskeidelik.

Die lof mond uit in ’n gebed dat God sy mag verder sal vertoon vanuit die tempel in Jerusalem  deur nie net Egipte, “daardie ondier onder die nasies”, te onderwerp nie, maar Egipte en Ethiopië (Kussiete) se mense te transformeer om God te aanbid deur geskenke en smeekgebede – vers 29-32.

Maar selfs dít is nie genoeg nie.  Al die koninkryke van die aarde kom in die visier van Dawid, met die droom dat hulle ’n lied sal aanhef tot eer van God – vers 33-36.  Let op die skeppingstaal waarin dié droom gegiet is waarmee God se heerskappy oor alles en almal onomwonde gestel word: “Hy het mag oor die wolke!” (vers 35).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda