Psalm 68 – God vul alles en almal met Sy teenwoordigheid

Hierdie Psalm bevat ’n hele paar uitdagings om dit reg te vertaal, omdat hier 15 unieke Hebreeuse woorde voorkom wat nêrens anders voorkom nie.  Die betekenis is onduidelik.  Daarby is daar ’n klomp woorde wat baie min elders gebruik word.  Ek noem dit net om te verduidelik hoekom jy redelik baie onderlinge verskille in vertalings sal raaklees.

Maar dit is ook ’n Psalm wat die meeste woorde vir God en beskrywings van God bevat as enige ander Psalm.  Die woorde Jahwe (vers 17,21), Jah (afkorting van Jahwe – vers 5,19), Elôhîm (vers 1 vv), El (afkorting van Elôhîm – vers 20), Adonai (=Here – vers 18), Shaddai (= Almagtige – vers 15), selfs “die een van Sinai” (vers 9) word vir Hom gebruik.  Hy word ook genoem “Hy wat op die wolke ry” (vers 5), “Vader vir weeskinders” (vers 6), “Beskermer van weduwees” (vers 6), “God, ons hulp” (vers 20), “God wat ons red” (vers 21), “Hy wat ry deur die hemele” (vers 34), en “God van Israel” (vers 36).  Die Psalm maak dus ’n punt daarvan om God se omvangryke betekenis vir alles selfs al in die name wat vir Hom gekies word, te beklemtoon.

Neem vandag een van dié name en dink na oor die betekenis wat dit vir jou inhou.

Drie berge

Een van die maniere om die Psalm in te deel, is om, op voetspoor van Alter, drie van die berge wat in die teks genoem word as uitgangspunt te neem: Sinai (vers 9), Basan (vers 16) en Sion (vers 17).  Sion word wel nie by name genoem word nie, maar dit is uit vers 18,25,30,en 36 duidelik dat die tempelberg in Jerusalem, Sion, bedoel word.  Daar is natuurlik ook ’n vierde berg in die teks, Salmon, maar die berg het nie ’n wesenlike  organiserende betekenis nie en is slegs ’n historiese verwysing na gebeure in die Rigterstyd.

Dit beteken dat die Psalm daarvolgens in drie dele verdeel kan word:

1.  God lei sy volk vanuit Egipte na Kanaän met die berg Sinai as transformasie-punt – vers 2-11.

Dawid loof die Here in die eerste deel vir sy goedheid (vers 11) wat Hy gedemonstreer het in die wonder van die Uittog uit Egipte, die beskerming deur die woestyn  en die Intog in die land wat Hy beloof het.  Die groot dade van God in die verlede is die basis waarop vertroue in die hede en die toekoms gebou word.

Dit is hierdie tipe Godsverskynings (vers 2) wat ’n impak het op goddeloses sowel as regverdiges. Aan die eenkant vernietig dit die goddeloses, omdat dit hulle besware teen God en teenstand teen God ontbloot, maar aan die ander kant verbly dit regverdiges, omdat God se verskynings hulle geloof en vertroue bevestig – vers 2-4 (vgl. Num. 10:35–36 wat soortgelyke taalgebruik het en dié verskyning van God aan die Ark verbind).

Let op hoe Dawid God loof vir die deernis wat Hy het met die swakkes in die gemeenskap.  Hy roep die geloofsgemeenskap op om ’n lied tot eer van God te sing en te jubel oor sy omgee vir weeskinders en weduwees, vir eensames en gevangenes (waarskynlik oorlogsgevangenes of bannelinge wat weggevoer is) – vers 5-7.  In die jubeling oor wie God is, lê natuurlik ook al ’n bewussyn opgesluit van hoe ons wat Sy kinders is, ook moet wees en moet optree teenoor sulke mense.  Weeskinders, weduwees, eensames en gevangenes word gekenmerk deur hulle weerloosheid en alleenheid.  Daar is nie natuurlikerwys iemand wat vir hulle omgee nie.  Maar as God vir hulle is, dan word die geloofsgemeenskap wat Hom God noem, opgeroep om mense te wees wat dié swakkes omarm en versorg en só hulle eensaamheid verdryf.

“Maak ’n pad vir Hom” beskryf die ruimte wat deur die lofsang vir Hom in die lewe van die geloofsgemeenskap geskep word, wat ook verbind is aan die lof vir sy deernis vir eensames, mense wat verlore is sonder die gemeenskap wat die gelowiges vir hulle kan bied. Die volk word só voorberei om God se teenwoordigheid te ontvang, soos Jesaja dit byvoorbeeld beskryf (Jes. 40:3; 57:14; 62:10 – Johannes die Doper se bediening in voorbereiding van die Messias is ook só beskryf).

Die beskrywing van God “wat op die wolke ry” herinner ons aan die tyd in die woestyn waar die wolkkolom by dag en die vuurkolom by nag God se teenwoordigheid by die volk gesimboliseer het.  Let ook op hoe die opstandelinge se lot daarenteen beskryf word as ’n verblyf in ’n “kaal woestyn”, d.w.s. ’n plek waar God nie is nie.

Die tyd in die woestyn na die Uittog uit Egipte word in gloeiende terme in herinnering geroep – vers 8-9 (vgl. Rigters 5:4–5 wat in dieselfde terme daaroor praat).  Let op die menslike terme waarmee God beskrywe word: “toe U deur die woestyn gestap het” (vers 8), sowel as die goddelike eienskappe wat Hy het: “het die hemel dit laat reën voor U uit” (vers 9), iets wat later in die Psalm verder uitgebrei sal word: “Hom wat ry deur die hemele, die hemele wat van die begin af daar is!” (vers 34).  “Hy het mag oor die wolke!” (vers 35).

Die Intog in die Beloofde land Kanaän word met die metafoor geteken van God wat oorvloedige reëns laat uitsak en die verdorde land weer lewe gee, sodat Sy eie volk daar kon gaan woon – vers 10-11).  God se goedheid het vir dié hulpelose volk ’n bestaansruimte verskaf.

2.  God verslaan sy volk se vyande in die land Kanaän met die berg Basan as simbool van dié vyandskap – vers 12-24.

Die tyd van die Rigters word in herinnering geroep met die verwysing na ’n groot leër en magtige konings wat gevlug het “toe die Almagtige die konings uitmekaargejaag het.”  In ’n verwysing na Ruben wat nie in die oorlog teen koning Jabin en die hoof van sy weermag, Sisera, saam met Debora en Barak geveg het nie, maar “by die saalsakke bly sit” het (Rigters 5:16) herroep Dawid die situasie dat God die oorlog vir hulle gewen het en ten spyte van Ruben hulle se verraad, die vroue tuis die buit kon verdeel (Rigters 5:30).  Die stamme Gilead, Dan en Aser het natuurlik ook nie saam geveg nie, wat dui op die moeite om die volk in sy geheel in daardie tyd saam te snoer.  God se ingrype toe staan ook in die teken daarvan dat Hy eenheid onder hulle wou bring.

Ook die Salmonsberg word genoem in die tragiese konteks van die oordeel oor Abimelek, seun van die rigter Gibeon, wat sy 70 broers doodgemaak het om alleenregeerder te word, maar uiteindelik deur ’n vrou om die lewe gebring is (Rigters 9:48), soos wat Sisera natuurlik ook deur ’n vrou, Jael, doodgemaak is (Rigters 4:21).  Interessant dat die enigste twee verhale waar vroue ’n beduidende rol in die Rigterstyd gespeel het, hier aangehaal word!

Die berg Basan word personifieer as die spits van die teenstand teen God in die Intog en verowering van die land Kanaän.  Basan was eintlik die naam van die koninkryk van koning Og, ’n Refaïet, wat op ’n massiewe bed van yster geslaap het wat vier meter lank en amper twee meter breed was.  Basan was een van die eerste dele wat Israel op pad die land in verower het (Deut. 3:1-11).  Die spesifieke berg waarna hier verwys word, kan moontlik die imposante berg Hermon wees wat in die streek van Basan geleë is (Deut. 3:8).  Basan word met rykdom en weelde geassosieer, veral vet koeie en sterk bulle, maar ook baie keer gebruik in beskrywings van mense wat nie met God rekening hou nie (Deut. 32:14; Eseg. 39:18; Amos 4:1; Ps. 22:13; Jes. 2:13; Jer. 22:20).  Hier word die berg as jaloers beskrywe oor die feit dat God ’n ander berg, Sion, as sy woonplek uitgekies het.

Die beskrywing van God se intrek in die heiligdom word in die NT herinterpreteer met verwysing na Christus se hemelvaart van waar Hy – anders as in die OT teks – gawes gee vir die mense (Ef. 4:8). Hier ontvang God geskenke selfs van dié mense wat teen Hom in opstand was.

In ’n redelike grusame prentjie word God se hulp en bewaring in doodsgevaar geskets deur die kop van sy vyande, die kop van dié wat in hulle sonde volhard, te verpletter (vers 22).  In die midde daarvan is die ervaring van die volk: “Dag na dag dra Hy ons!” (vers 20).  Dit dien as ’n beskrywing van die veiligheid wat God vir die volk in die land gebring het met die Intog en Vestiging in die land Kanaän.  “Against all odds”!

3.  God vestig sy heerskappy oor die hele aarde met die tempel-heiligdom in Jerusalem op die berg Sion as basis – vers 25-36.

Vers 25-28 teken die feestelikheid van die lof wat aan die Here op die tempelberg gebring word.  Daar is sangers, mense wat snaarinstrumente bespeel, meisies wat tamboeryne slaan en kore wat God loof uit al die stamme van Israel.  Die vier wat genoem word: Benjamin-Juda en Naftali-Sebulon is die mees suidelike en die mees noordelike stamme van Israel onderskeidelik.

Die lof mond uit in ’n gebed dat God sy mag verder sal vertoon vanuit die tempel in Jerusalem  deur nie net Egipte, “daardie ondier onder die nasies”, te onderwerp nie, maar Egipte en Ethiopië (Kussiete) se mense te transformeer om God te aanbid deur geskenke en smeekgebede – vers 29-32.

Maar selfs dít is nie genoeg nie.  Al die koninkryke van die aarde kom in die visier van Dawid, met die droom dat hulle ’n lied sal aanhef tot eer van God – vers 33-36.  Let op die skeppingstaal waarin dié droom gegiet is waarmee God se heerskappy oor alles en almal onomwonde gestel word: “Hy het mag oor die wolke!” (vers 35).

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: