Psalm 12 – Vertrou op die beloftes van die Here

Die Psalmis worstel met die gebrek aan betroubaarheid in die gemeenskap wat van die wêreld ’n onveilige plek maak.  En dit is die armes wat die meeste daaronder ly.  Daarom maak hy staat op die Here se beskerming en hulp midde in die goddeloosheid en onreg wat hoogty vier.

Let op hoe die Psalm menslike vleitaal (12:2-5) met Goddelike betroubare woorde (12:6-9) kontrasteer.

Die vleitaal kom uit ‘n dubbele hart – die Hebreeus in vers 3 sê letterlik: “met vleiende lippe spreek hulle uit ’n dubbele hart”.  Dit beteken, hulle weet in hulle hart (hart as die setel van die gedagtes in die Jode se verstaan – die niere was as die setel van emosies gereken) wat die regte ding is, maar kies om anders te praat of vanuit ‘n ander hart te leef.

Nog dieper as hierdie onbetroubaarheid is hulle hoogmoed, wat na vore kom in hulle grootpratery, en boonop om te dink hulle sal wegkom daarmee. Hulle buig voor niemand nie.

Hierdie gebrek aan betroubaarheid bring egter die lewe self in gedrang.

Maar … die vertrapping van die swakkes en armes bring God in beweging en laat Hom belowe om hulle te hulp te kom!  “Daarom gryp Ek nou in en gee uitkoms aan dié wat daarna smag.” (vers 6b).

Dit is die belofte wat die Psalmis aangryp en waaraan hy die Here herinner, eintlik meer in ’n stelling as in ’n vraag of gebed: “U, Here, hou oor ons die wag.  U sal ons vir altyd teen sulke mense beskerm, selfs al pronk goddeloses  nog rond en al heers gemeenheid nog tussen die mense.” (vers 8-9).

Craigie sê:” The danger experienced in mortal speech was to be repelled by the power inherent in divine speech. For those who experience the assault of evil speech, the solution is not to be found in the return of evil speech to enemies, but in confidence in the Word of God, which is firm and cannot be moved.”

Môre lees ons Psalm 13 waar die Psalmis nog steeds worstel met hierdie vraagstuk van die onbetroubaarheid van mense, en vra: Hoe lank nog, Here?

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: