Skip to main content

Psalm 7-8 – God gee om vir sy mense en verhoor hulle gebede

Psalm 7 – God help die opregtes

Kus, die Benjaminiet, is nie vir ons bekend nie, hoewel Dawid natuurlik baie teenstand van die Benjaminiete gehad het.  Koning Saul was bv uit die stam van Benjamin en het Dawid konstant vervolg, wat ooreenkom met die algemene strekking van die Psalm.  Saul se pa was natuurlik Kis, wat ’n woordspel kan verteenwoordig op Saul se familie, sonder om sy naam te noem.  Terloops, die naam Kus is ook gegee aan wat ons vandag as die Soedan ken.

Dawid bid hier om uitkoms van onregverdige vervolging.  Hy wil hê dat geregtigheid sal seëvier.  En hy pleit op grond van beide God se karakter – regverdig – sowel as sy eie onskuld, dat God ’n einde sal maak aan die bose dade van die goddelose mense (7:10).  Hy maak staat op God wat regdeur die mense se motiveringe sien, en die opregtes sal help (7:11) en in die publiek sal bevestig (7:8-9).

Dat Dawid God vra om op te tree om hom te beskerm van valse beskuldigings, kan op twee maniere verstaan word:

  • Dat dinge vir hom sal uitwerk, veral dat hy nie knak onder die gevoelens van onreg nie, en dat sy onskuld duidelik sal word in die publiek. Dit sluit in dat hy ondersoek instel na sy eie integriteit en regverdige optrede, maar ook dat hy ernstig bid dat God dinge sal laat meewerk ten goede, soos Paulus so roerend in Romeine 8:28 van God se betrokkenheid by ons bevestig (“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.”)
  • Dat dinge vir die bose nie sal uitwerk nie, dat die onregverdiges se boosheid hulleself sal tref, dat hulle sal val in die graf wat hulleself gegrawe het. Die idee hieragter is dat boosheid funksioneer soos ‘n boemerang, dit kom altyd terug na die een wat dit gegooi het – vers 16-17.

Dit korreleer met ‘n program wat ek onlangs gesien het oor wetenskaplike navorsing oor wat mense onderskei van die ander primate, die aap-familie. Dit is dat mense as ‘n spesie (gewoonlik) saamwerk, nie net om selfsugtige redes nie – sjimpansees werk ook saam, maar altyd selfsugtig – maar veral om onselfsugtige redes, net omdat iemand anders hulp nodig het.

Boosheid, sou ek dan wil sê in die lig van hierdie Psalm, is wanneer ons kies om nie te help nie, meer nog, aktief ophou saamwerk, en die ondergang van ander mense beplan.

Daar is egter in sy gebed sekere elemente wat ’n mens laat skrik vanweë die geweld en wraakgedagtes wat daarin opgeneem is. God word geskets as ’n magtige soldaat wat mense met sy swaard en boog tref.

’n Hele paar Psalms bring dié sentimente na vore, sommige nog krasser as hier, waarvan 7 in die eerste Psalmboek voorkom (Psalms 5,7,10,28,31,35,40).

Hoe moet ’n mens dit verstaan?  Hier is ’n paar gedagtes:

  • Dawid vra nie soseer vir persoonlike wraak nie, maar dat God dinge sal regstel.
  • Die koning van Israel was sterk met Godself verbind.  Deur God te vra om die koning te beskerm en reg aan hom te laat geskied, het eintlik ook ten doel om God se eer te beskerm.
  • Die idee van ’n ewige lewe – wat ’n ewige dood insluit as straf vir die sonde – was nog nie goed ontwikkel in Israel nie.  Daarom word vir konkrete straf en beloning in die hede gevra.

Psalm 8 – Nietig, maar waardig in God se teenwoordigheid

Watter wonderlike Psalm!  Dit is oorspronklik waarskynlik in beurtsang gesing (Kraus).  Vers 2a en 10 is moontlik deur een party (gemeente?) en vers 3-9 deur ‘n ander party gesing (‘n koor?).

Die vertaling van vers 2b kan ook so lui (Loader):

“U lof word hemelhoog besing” en dan vers 3a “uit die mond van kinders en suigelinge”

Vers 3b en vers 4 vorm dan ‘n eenheid:

“U het sterkte teenoor u teëstanders gegrondves om die vyand se werke te vernietig”

Dit beteken dat die Psalm so opgebou is:

  • Opskrif – vers 1
  • God se Teenwoordigheid (Naam) is wonderbaar oor die hele aarde (vers 2a).
    • Eenvoudige kinders bevestig God se werk tot verstomming van arrogante teëstanders (vers 2b-3).
    • In die lig van God se grootheid in die skepping besef mense hul nietigheid (vers 4-5).
    • God bevestig egter mense se waardigheid as die kroon van Sy skepping (vers 6-7).
    • Die mens se invloed sluit alles – diere, voëls en visse – in (vers 8-9).
  • God se Teenwoordigheid (Naam) is wonderbaar oor die hele aarde (vers 10).

Vers 6 is eintlik ‘n ongelooflike vers in die oorspronklike.  Daar staan nie dat God van die mens net minder as ‘n “goddelike wese” gemaak het nie, maar dat God van die mens net minder as “God” gemaak het.  Die woord Elohîm word gebruik (NIV gee die betekenis in ’n voetnoot weer)!  Die Griekse vertaling van die OT (LXX) het hierdie woord vertaal met “engele”, waarskynlik omdat God vir hulle te verhewe was (die teks wat die skrywer van Hebr 2:7 waarskynlik gebruik het). Maar dit is duidelik dat “God” bedoel word in die Hebreeuse oorspronklike.

God het die mens ook konings  gemaak, soos blyk uit die koningsterminologie wat gebruik word – “heers”, “kroon”, “onderwerp”.  Alles wat God gemaak het, is onder die koninklike voete van die mens gestel (Loader).  ‘n Mens hoor hier dus onmiskenbaar die parallel met Genesis 1:26 – God het ons as Imago Dei, as Sy beeld gemaak, as Sy gelykenis.  Geen ander wese het daardie hoë status nie, nie die engele nie, nie die serafs nie, nie enige lewende wese nie.

Maar die kontras tussen die nietigheid van die mens en sy waardigheid beteken dat die grootheid in nietigheid bestaan, presies soos dit van Christus geskrywe word, dat Hy Homself ontledig het, die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het, nietig en klein geword het … en dat God Hom uitermate verhoog het, groot gemaak het, selfs groter as wat Hy was voor sy menswording.

Die een is so belangrik soos die ander.

Dit het impak vir ons huidige debatte oor die skuld van die verlede – die waardigheid van mense wat hulle skuld bely moet gehandhaaf word; net so die waardigheid van hulle slagoffers; en almal saam moet hulle nietigheid voor God en voor die skepping besef, en ook bereid wees om hulle diensbaar te stel aan mekaar.  Dit is die evangelie!  En dit alles moet in die Teenwoordigheid van die Here gebeur, soos die Psalm so wonderlik uitspel.

Dit het ook ‘n impak op jou eie lewe – of jy nou sukkel onder vyande, selfs iemand so naby aan jou as jou eie seun (Absalom – Ps 3,4) of misoeste (Ps 4) of onder siekte (Ps 6) of verraaiers en vervolgers (Ps 5,7) – jy het nodig om na te dink oor die 3 dinge:

  • jou nietigheid en jou diensbaarheid;
  •  jou waardigheid en God se sorg;
  • God se teenwoordigheid waarsonder jy nie sin en betekenis in jou lewe kan ervaar nie.

Nietig, maar waardig, in God se teenwoordigheid.

Dit het ook ‘n impak op hoe ons met die aarde en alles daarin omgaan.  Ons kan nie onsself daarteenoor opstel en dit gebruik en dink ons kan maak wat ons wil nie.  Nee, soos konings, wat verantwoordelikheid het, wat namens God optree as sy verteenwoordigers, moet ons met die diere en oseane en atmosfeer en natuurlik die grond waarop ons bly, omgaan.  Ons kleur is groen!

Lina Spies verwoord dié Psalm as volg:

1. O , Here God , u Naam is groot op aarde !

U hemelruim strek tot die verste einders :

Waar menseoë geen stippel meer gewaar ,

daar straal en skyn nog steeds u majesteit .

2. Na U , die God so hoog bo ons verhewe ,

styg daar ‘n lied van dank , u Naam ter ere !

U lof uit kindermonde klink alom :

U haters swyg , U lasteraars verstom .

3. Sien ek die maan , die sterre in hul bane ,

weet ek , o Heer , hul dra u vingermerke :

hul skryf u Naam al glinst’rend in hul gang ;

hoe klein voor U die mens , hoe sonder rang .

4. Hoe is dit dan dat U tog na ons omsien ,

die brose mens omstraal met u nabyheid ?

U maak ons sterk , U kroon ons met u glans :

Ons hoort by U en word deur U omskans .

5. U stel ons aan oor al u werke , Here ,

oor als wat vry en selfs verborge lewe :

die voëls wat in die ruim hoog oor ons sweef ,

die vis wat speel in dieptes van die see .

6. O , Here God , u Naam is groot op aarde !

U hemelruim strek tot die verste einders :

Waar menseoë geen stippel meer gewaar ,

daar straal en skyn nog steeds u majesteit !

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…