Psalm 38 – Moet my nie verlaat nie, help my gou, my Redder

Hierdie Psalm is baie persoonlik en beskryf die pyn en wroeging van siekte – dit bring afstand van God sowel as van jou vriendekring.  Dit word ’n Herinnering genoem in vers 1, wat kan beteken dat dit gebruik is as lering oor die verband tussen siekte, sonde en skuldbelydenis.

Die Psalm wentel dus om sonde met siekte – in meer as een sin.  Dit skets die worsteling en onsekerheid wat siekte as sodanig in ’n mens se lewe bring.  En dit trek ’n verband tussen sonde en siekte – ten minste in die ervaring van die sieke – met die besef van en behoefte aan skuldbelydenis in die verwagting van God se genade, vergifnis en genesing.

Die Psalmis se evaluering van die verband tussen die siekte en sy sonde hoef natuurlik nie korrek te wees nie (Jesus wys só ‘n noodwendige oorsaaklikheid verstaan af in Joh 9), maar dit is steeds sy ervaring. Hy is bewus van sy sonde, hy is siek, so ten minste moes God dit toegelaat het – dit is sy logiese en eerlike gevolgtrekking.

Vers 1-12

Dawid skets sy ervaring dat daar ’n integrale verband tussen sy siekte en sonde bestaan.  Sy siekte is in sy ervaring die gevolg van sy sonde.  Daarby is dit iets wat die Here hom aandoen.  God se toorn straf en tugtig hom met siekte.  Daarom bid hy om verlossing nie net van sy siekte nie, maar ook van sy sonde.  Hoewel die siekte nie ’n naam gegee word nie, wil dit voorkom asof dit dermatologies van aard is (“wonde stink en sweer”, “nie ’n heel plek aan my lyf nie”).  Terloops: “ek kan nie eers meer sien nie” in vers 11 mag ook dui op impotensie  (vgl Moses in Deut 34:7).

Vers 13-23

Weereens is sy siekte ’n aanleiding vir sy vyande om vir hom strikke te stel, hom kwaad aan te doen en vals beskuldigings na hom te slinger.  Let op hoe Dawid kies om nie na hulle te luister nie, maar sy vertroue op God self te stel en sy ongeregtigheid teenoor Hom te bely.  Die Psalm eindig met die roerende pleidooi dat God hom tog nie sal verlaat nie, nie ver van hom af sal bly nie en gou sal maak om hom te help.  God alleen is sy Redder.

In die NT word hierdie direkte verband tussen sonde en siekte meer genuanseerd getrek.  Jesus wys met die verhaal van die genesing van die blinde man dat sy gebrek met God se verheerliking verband hou (Joh 9).  Siekte is ook die gevolg van die verganklikheid van die lewe, waaraan ’n mens deel het, sonder dat dit noodwendig met persoonlike skuld te make het.

Maar Paulus skryf – in die konteks van die nagmaal – aan die Korintiërs dat siekte soms in die gemeenskap van gelowiges met die Here se oordeel en tugtiging verbind kan word, waarmee God besig is met ’n proses van heiligmaking, “sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie” (1 Kor 11:27-32 – vgl ook die verhaal van Ananias en Saffira in Hand 5).  God se genade sluit nie sy oordeel uit nie.[1]

 


[1] Interessant genoeg word die woord vir “sterf” (letterlik “slaap” of “ontslaap”) in 1 Kor 11:30 in die NT net gebruik vir gelowiges wat sterf.  Dit is dus nie ’n ewige oordeel nie.  Nogal moeilik om dit presies te interpreteer.  Een kommentaar sê daaroor: “These believers had not lost their salvation, but they had lost the privilege of service on the earth.” (Wycliffe Bible Commentary).

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: