Skip to main content

Psalm 47 – ’n Verenigde volk van God uit al die nasies

Dit is ’n jubelende Psalm wat nie net die volk van die aartsvaders (Jakob, Abraham) oproep om God se lof te besing bo alles nie, maar alle nasies en hulle leiers saam wil intrek in hierdie loflied aan God.  Want, God is die Groot Koning oor die hele aarde (vers 3,8) en oor al die nasies (vers 9,10).

Die motivering vir hierdie oproep tot lof is tweërlei en vorm die hart van die twee dele van die Psalm:

  1. Lof aan God vanweë sy onderwerping van die nasies – vers 2-5;
  2. Lof aan God vanweë sy vereniging van die nasies – vers 6-10.

Die Here, die Allerhoogste

Let op hoe dit alles by die tempel (vers 6 – die verwante Psalm 24 verbind waarskynlik dieselfde tipe optog met die ark) en voor sy troon (vers 9 – God sit op sy troon as teken van sy heerskappy) gebeur.  Dit sluit dus die aardse en hemelse teenwoordigheid van God in waarmee eintlik die hele geskape werklikheid ingesluit word.  Dit is ook interessant hoe die Godsnaam Allerhoogste (Elyon) vir Jahwe gebruik word, soos dit gereeld in die res van die OT gedoen word waar van die nasies sprake is.  Daarmee word ’n Godsnaam wat ook vir die omringende nasies betekenis sou hê, vir Jahwe gebruik.

’n Verenigde volk

Dit is moontlik dat daar agter hierdie loflied ’n historiese werklikheid sit.  Met die Intog en Inname van die land Kanaän is dit moontlik dat van die onderworpe nasies hulle met die volk verenig het, hoewel ons nie veel Bybelse getuienis daarvan het nie.  Sommige geleerdes stel ook voor dat dié Psalm na die gebeure rondom Hiskia en Sanherib verwys (2 Kon 18-19 – vgl. ook Jes. 36-37) hoewel dit vir my onoortuigend is en daar net te veel verskille is tussen die Psalm se beskrywing en dié van die verhaal in Konings.

Wat meer waarskynlik is, is dat daar in dié Psalm ’n eskatologiese betekenis opgesluit lê, ’n visie vir die toekoms wat die volk opgewonde moes maak oor die droom wat God vir die hele aarde het en waarby alle nasies ingesluit sal word.  Dit maak vir my meer sin om dit so te interpreteer.

Die standpunt word verstrek met die feit dat dít die manier is waarop die NT een van die kerngedagtes in dié Psalm gebruik.

God sit op sy heilige troon

Vers 9 werk met die beeld van God wat op sy troon sit (die woord sit het ongelukkig uitgeval in die N.A.V., soos dit in die oorspronklike teks voorkom) waarmee sy beheer en heerskappy uitgedruk word.

Dit is hierdie perspektief op God wat duidelik ’n groot rol gespeel het in die beskrywing van God in die NT, bv. in die Openbaring van Johannes.  God word daar op verskeie plekke uitgebeeld as die Een wat op die troon sit as teken van die absoluutheid van sy heerskappy (Open 4:2,9,10; 5:1,7,13; 6:16; 7:10,15; 19:4).

Dit is ’n perspektief wat ook op Jesus van toepassing gemaak is, veral na Jesus se opstanding en hemelvaart, wanneer bely word van Hom dat Hy aan die regterhand van God op die troon gaan sit het.

Só het die sinoptiese evangelies dit en só word dit in ’n hele paar NT briewe vermeld.  Paulus en ook die Hebreërskrywer beskou Jesus se troonsbestyging as fundamenteel tot sy werk en ons begrip daarvan (Matt. 23:22; Mark. 16:19; Luk. 22:69; Rom. 8:34; Kol. 3:1; Heb. 1:3; 10:12; 12:2).

Geen wonder dit het só ’n belangrike invloed op ons geloofsbelydenisse van die eerste paar eeue van ons jaartelling gehad nie.  Die belydenis oor Jesus wat sit aan die regterhand van God die Vader is vervat in al die ekumeniese geloofsbelydenisse sowel as in die latere kategismusse.

Die volk van die God van Abraham

Ten slotte is dit interessant om op te let hoe betekenisvol die vereniging van die nasies met die Godsvolk beskrywe word (vers 10).  Die volk waarmee die leiers hulle nasies laat verenig, is die volk van God  en dié God is die God van Abraham.  Daarmee word gesê dat dit in die vereniging ten diepste oor God self gaan en dié mense wat in ’n verhouding met Hom staan.  Abraham was ook nog altyd ’n baie meer verenigende figuur as wat Jakob en die volk van Israel was.  Trouens, Abraham is die stamvader van 3 wêreldgodsdienste: Die Jode, die Christene en die Moslems.  Daarom is die verenigde volk eerder aan hom gekoppel as aan Jakob, wat in dié Psalm meer met die land as die volk geïdentifiseer word (vers 5).

Dit is ook aan dié interpretasie van die universele Godsvolk waarmee Paulus Christenskap verbind wanneer hy sê: “as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename volgens die belofte van God.” (Gal 3:29).  Hy gryp dus terug op die tradisie van Abraham vóór grond ’n tergende nasionale kwessie geword het en vóór die stryd tussen die onderskeie nasies waarvan hy ’n stamvader geword het ’n internasionale saak geword het.

Ek wonder of ’n herwaardering van die rol van Abraham nie die beginpunt van ’n in-diepte gesprek tussen Joodse, Christen en Moslem gelowiges kan wees nie, waarin die visie van God vir ’n verenigde volk gedeel en uiteindelik op ’n gesprek oor Christus kan uitloop nie. ’n Mens mag droom!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.