Skip to main content

Psalm 41 – Omgee vir swakkes gee vrymoedigheid in gebed

Vers 1-4

Die Psalm begin met ’n saligspreking: “Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke (of arme)”, waarmee Dawid implisiet daarop staatmaak dat dit van hom geld, hoewel hy dit nie in soveel woorde sê nie.  Dit was immers een van die hoofopdragte aan die koning om vir die armes en swakkes om te gee, en Dawid aanvaar dat dit bekend was van hom.

Só ’n persoon – iemand wat omgee vir ander in hulle nood – kan met reg na God gaan in sy eie tyd van nood, en om hulp smeek.  Omgee vir swakkes gee vrymoedigheid in gebed.

Dawid spel vier dinge uit waarvoor hy dus met vrymoedigheid bid, wat nie net  is:

  1. dat die Here só ’n mens sal red op die dag van nood nie (vers 2), maar ook dat God só ’n persoon
  2. publieke erkenning sal laat geniet,
  3. beskerming van vyande sal gee (vers 3), sowel as
  4. persoonlike genesing in siekte (vers 4).

En dit is veral met die laaste twee aspekte – die persoonlike en publieke impak van ’n omgee-lewe – waarmee die Psalmis verder in sy gebed worstel en om God se genade vra.  Let op dat hierdie vrymoedigheid steeds afhanklik bly van God se genade, soos die res van sy gebed wys.

Vers 5-10

Let op hoe Dawid in hierdie deel van sy gebed belydenis van sy sonde doen, terwyl hy om genesing van sy siekte vra.  Hoewel hy nie uitbrei oor sy sonde nie, bely hy dat dit – soos alle sonde – iets is wat sy verhouding met God in gedrang bring.  Hy wil nie net genesing hê nie, maar veral dié verhouding herstel hê, terwyl hy ook vra vir verlossing van die venyn van sy vyande, selfs van ’n boesemvriend wat hom in die rug gesteek het.

Vers 11-14

In hierdie deel van sy gebed maak Dawid weer staat op sy onskuld, spesifiek in verhouding met sy vyande.  En vra dat die Here hom in staat sal stel om wraak te neem teen sy vyande.  Dawid bly getrou aan sy perspektief, dat hierdie vyande nie maar net vir hom wil bykom nie, maar in wese vyande van die Here is.  Daarom wil hy teen hulle optree, iets wat natuurlik, soos ons al vroeër gesê het, met Jesus se radikale vyandsliefde verander is.

Jesus haal vers 10 aan in sy voetewas gesprek met sy dissipels met verwysing na Judas (Joh 13:18).  Waar Dawid dus vir verlossing van hierdie boesemvriend gevra het, het Jesus juis die pyn van verguising en die kruis aanvaar, sodat hy selfs vir die vyandskap van vriende verlossing kan bring.  Iets om – aan die einde van hierdie studie oor die Psalms – oor na te dink!

Die Psalm eindig met ’n doksologie: “Amen, ja, amen” waarmee nie net die Psalm nie, maar ook die eerste Psalmboek (1-41) afgesluit word.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar