Skip to main content

Digterlike taal

Die Psalms is in poëtiese digterlike taal geskryf, soos ook groot dele van die ander wysheidsboeke: Prediker, Spreuke, Hooglied en Job.  Trouens, ongeveer ⅓ van die OT is in digterlike taal geskryf, as ’n mens die profete daarby in berekening bring.

Wat uitstaan van Hebreeuse digkuns is nie die fokus op rym nie, soos dit baie keer die geval is in moderne digkuns nie:

Hoe haas die voet hoe gloei die bloed

hoe hardloop hulle want dis alles waar

hoe hardloop hulle soos hy beloof het

hoe hardloop hulle Hom tegemoet (Sheila Cussons, Paassondag uit Die Knetterende Woord).

Hebreeuse digkuns fokus veral op die ritme van klanke (assonansie, alliterasie, lettergrepe, woordspele) en gedagtes (parallelismes: woordpare, sinonieme, antonieme, uitbreidings).  Die taal wat ingespan word, is vol metafore en woord prentjies, dinge waarvoor ’n mens op die uitkyk moet wees en wat jy in ag moet neem in die interpretasie en toepassing daarvan in jou lewe.

Dit is uiteraard moeilik om dié ritme van Hebreeuse klanke in ’n vertaling weer te gee, maar die ritme van herhalende sleutelverse – Psalm 42:6,12 en Psalm 43:5 bv. “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? …” –  en herhalende gedagte-eenhede – Psalm 51:12: “Skep vir my ’n rein hart … vernuwe my gees  … maak my standvastig … “ – gee ’n mens alreeds ’n waardering daarvoor.

Dit beteken natuurlik ook dat ‘n mens in jou interpretasie hiermee rekening moet hou.  ‘n Letterlike interpretasie deug meesal eenvoudig nie, omdat die Psalms die taal van die hart gebruik, jou binneste wil roer, en jou verbeelding wil wakker maak om ‘n ruimte te skep waarin jou eie gesprek met God kan begin.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar