Skip to main content

Psalm 60 – Laat dit tog weer met ons goed gaan

Nasionale uitdagings

Ons verhouding met God speel gewoonlik af teen die agtergrond van ons persoonlike worstelinge en uitdagings, sowel as in ’n mindere mate teen die agtergrond van publieke en sosiale werklikhede waaraan ons blootgestel word.  Natuurlik is dit ook deel van die ervaringswêreld van die Psalmdigters.

In dié Psalm word egter oor ’n verhouding met God gepraat teen die agtergrond van nasionale uitdagings.  Gevegte teen twee nasies word in vers 2 genoem wat die aanleiding is vir die skryf van die Psalm en beïnvloed hoe ’n mens dit lees.  Die drie gevegte wat genoem word, is dié van Dawid teen die Arameërs van Mesopotamië, Dawid teen die Arameërs van Soba en Joab teen die Edomiete in die Soutvlakte waar hy 12 000 mense doodgemaak het.

Dit is duidelik dat dié oorwinnings in die verlede in herinnering geroep word, in ‘n tyd waar dit sleg gaan met die volk en opnuut om God se ingrype gevra word.  2 Samuel 8 beskryf waarskynlik die historiese omstandighede van die oorwinnings in die verlede en 1 Konings 11 die historiese omstandighede van die Psalm se worsteling met die nederlae in die hede waaruit die gebed vir God se ingrype geformuleer is.

Tóg is die Psalm uiteindelik ook bedoel vir geestelike onderrig, omdat wat op ’n nasionale vlak gebeur, betekenis het vir hoe ons dink oor ons persoonlike – en gemeenskapslewe.

Vir meer agtergrond:

2 Samuel 8

Daar is ’n paar veldtogte van Dawid in 2 Samuel 8 waarop dié verwysing na oorwinnings oor die Arameërs en Edomiete waarskynlik dui. Daar word ons vertel dat benewens die gevegte teen die Filistyne en Moabiete, het Dawid “sy mag aan die Eufraat gaan herstel” (vers 3 – dit is in Mesopotamië) deur die Aramese koning Hadad-Eser van Soba, seun van Regob, te verslaan.  Hy het perde en soldate by hom afgevat.

Die Arameërs van Damaskus het toe vir koning Hadad-Eser van Soba te hulp gekom, maar Dawid het hulle ook verslaan en militêre poste in hulle gebied ingerig, en die Arameërs het aan hom onderhorig geword en moes aan hom belasting betaal.

Na sy oorwinning oor die Arameërs het Dawid vir hom naam gemaak toe hy agtien duisend man van Edom in die Soutvlakte verslaan het. Hy het oral in Edom militêre poste ingerig, en die hele Edom het aan hom onderhorig geword.   Joab se leierskap word in Samuel erken, hoewel nie in detail uitgespel nie.

Psalm 60:1-2 verwys dus waarskynlik hierna.

1 Konings 11

Wat egter interessant is dat daar ook na dieselfde veldtogte van Dawid en Joab in 1 Koning 11 verwys word, NB, in die konteks van die probleme wat uit dié veldtogte teen die Arameërs en Edomiete voortgespruit het.  Dit kan dus beteken dat die Psalm eintlik geskrywe is weens die probleme wat Israel met die Arameërs (Abraham se breër familie) en Edomiete (Esau se nageslag) in Salomo se tyd gehad het, toe dié nie meer die guns van die Here geniet het nie.

In 1 Konings 11 word ons vertel dat omdat Salomo “nie meer die Here die God van Israel gedien het nie” (vers 9) het die Here die koningskap van hom afgeskeur en vir ’n onderdaan van hom gegee, Jerobeam.  Dit is iets wat egter nie eensklaps gebeur het nie.  ‘n Hele paar nasies het eers in opstand gekom en die volk se weerstand begin afbreek tot die skeiding onder Jerobeam weens die sotlike beleid van Salomo se seun Rehabeam ‘n werklikheid geword het.

Eers het die Here “iemand beskik wat teen Salomo in opstand gekom het. Hy was Hadad die Edomiet uit die koninklike familie van Edom.”  (vers 14).  Dan word die rede vir sy opstand uitgespel: “toe Dawid vroeër teen Edom geveg het, het Joab, die hoof van die leër, die gesneuweldes gaan begrawe nadat hy al die mans in Edom doodgemaak het.  Dit het Joab en die hele Israel ses maande gekos om al die mans in Edom om die lewe te bring.”  (vers 15-16).  Joab se rol word hier dus met meer detail vermeld.

Dit het ‘n groot effek op die Edomiete gehad.  Hadad, toe nog ‘n jong seun, en ’n aantal Edomitiese mans, almal uit die hofhouding van sy pa, het na Egipte gevlug. Die farao het hulle ontvang, vir Hadad ’n huis gegee, hom van voedsel voorsien, aan hom ’n stuk grond toegeken en selfs vir hom laat trou met sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes. Toe Hadad in Egipte verneem dat Dawid te sterwe gekom het en dat Joab, die hoof van die leër, ook dood was, het hy teruggekom om in opstand teen Salomo te kom (vers 17-22).

Toe het God nog iemand teen Salomo in opstand laat kom: Reson seun van Eljada, ’n onderdaan van koning Hadad-Eser van die Arameërs van Soba wat vir koning Dawid gevlug het.  Reson het ’n groep mans om hom versamel, en hy was die leier van die bende. In die tyd toe Dawid die Arameërs uitgeroei het, het hulle na Damaskus toe gevlug. Hulle het in Damaskus gaan woon en Reson daar tot koning uitgeroep.  Hy was vyandig teen Israel solank Salomo geleef het. Dit was nog behalwe die kwaad wat Hadad gedoen het. Reson was koning van Aram en hy het Israel verafsku. (vers 23-25).

Beide hierdie opstande kan dus as die aanleidende oorsaak vir die skryf van die Psalm gedien het.

Terloops: dit het die tafel gedek vir die uiteindelik opstand van Jerobeam seun van Nebat, ’n Efratiet uit Sereda. Hy was ’n onderdaan van Salomo wat teen die koning in opstand gekom het, omdat dié die Josefstam in dwangarbeid ingedwing het, soos ons lees:“ Salomo was besig om die terras te bou waarmee hy die opening in die muur van die Dawidstad toegemaak het.  Jerobeam was ’n gesiene landsburger, en toe Salomo sien dat hy bekwaam is, het hy die toesig oor die dwangarbeid van die Josefstam aan hom opgedra.” (vers 27-28).

Nadat Agija, ’n profeet uit Silo, vir hom die boodskap van God gegee het om die stamme te verlos van Salomo, was sy pad vir hom uitgestippel.  Ons lees daar: “terwyl net hulle twee daar in die veld was, vat Agija die nuwe mantel wat hy aangehad het, skeur dit in twaalf stukke en sê vir Jerobeam: ‘Vat vir jou tien stukke, want so sê die Here die God van Israel: So gaan Ek die koningskap afskeur van Salomo af. Ek gaan vir jou tien stamme gee; die orige stam sal syne bly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek tussen al die stamme van Israel uitgekies het … Ek gaan jou as koning aanstel, soos dit jou hartsbegeerte is. Jy sal oor Israel regeer.’” (vers 30-39).

Salomo wou toe vir Jerobeam om die lewe bring, maar hy het na Egipte toe gevlug waar hy onder beskerming van koning Sisak van Egipte gebly het tot Salomo se dood.  Daarvandaan het hy uiteindelik teruggekom en die 10 noordelike stamme onder sy leierskap verenig wat gelei het tot die skeuring van die ryk van Israel in Noord en Suid.

Uitleg

Die Psalm kan in drie dele verdeel word, veral na aanleiding van die verandering in spreker in vers 8-10.  In vers 3-7 is die Psalmis aan die woord namens die volk, in vers 8-10 is God aan die woord met ’n aantal uitsprake oor die nasies (vgl. Ps. 108:8-11) en in vers 11-14 is dit weer die Psalmis namens die volk wat praat.

  1. Laat dit tog weer met ons goed gaan – vers 3-7.  Die Psalmis is oortuig dat die ellende van die hede net aan een ding toegeskryf kan word: God het hulle verstoot omdat Hy kwaad is vir hulle.  Niks anders kan die ramp waarin hulle verkeer verklaar nie.  Tog is die hoop van die Psalm steeds in God geleë, dat God hulle weer onder sy vaandel sal verenig sodat hulle by God veilig kan wees teen die vyand.  Net God kan hulle help: “sodat hulle vir wie U liefhet, gered kan word.”
  2. God beskik oor die nasies – vers 8-10.  Die Psalmis beskryf God se beskikkingsmag oor die nasies, beide as verering van en belydenis oor God en as gebed dat God sy mense sal red.  Die name Sigem en Sukkotlaagte roep Jakob se verblyf in die land Kanaän in herinnering (Gen. 33:17-18), terwyl dié twee gebiede saam met Gilead, Manasse en Efraim die noordelike stamgebied verteenwoordig en Juda, Moab, Edom en Filistea die suidelike stamgebied verteenwoordig (Weiser) – die groot gebiede van die verenigde ryk onder Dawid.  Die Psalm hoop dus met dié gebed dat God weer die Dawidiese ryk sal herstel.
  3. Met God aan ons kant sal ons oorwin – vers 11-14.  Vers 11 is moeilik om te interpreteer en kan moontlik dui op ’n gebed om verlossing van ’n bedreiging van die Edomiete – aanval is die beste verdediging?  Die res van die slotverse droom van ’n omkeer in hulle situasie sodat hulle met God aan hulle kant, weer sal oorwin en dat God self weer hulle vyande sal vertrap.

Soos Jesaja 62 die droom het van wagte wat op die mure van Jerusalem roep dat God weer die mure sal herstel en God aan sy beloftes herinner, só kan dié Psalm ook gebruik word in tye van verdeling en verydeling, dat God ons weer sal verenig en sal herstel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar