Skip to main content

Psalm 28 + 30 – Lof aan God omdat Hy gehoor en gehelp het

Psalm 28 en 30 word verbind aan mekaar weens die ooreenkoms van die beskrywing van die put in 28:1 (“sterwende” = letterlik “een wat neerdaal in die put”) en 30:4 (“op pad na die dood” = letterlik “neerdaal in die put”), die beskrywing van die vastigheid wat God bring (Rots – Psalm 28; Veilige  berg – Psalm 30) en die behoefte om God se stem te bly hoor en sy versorging te bly ervaar.

Psalm 28

Vers 1-5 – Smeekgebed om gehoor te word
Dawid worstel hier op die oog af met die bedreiging van die dood, maar as ‘n mens dieper luister, eintlik met die bedreiging van ‘n stil God, ‘n God wat nie meer van Hom laat hoor nie, wat nie meer praat, soos Psalm 29 (en 19) verkondig nie.

Let op na wat hy van die Here vir homself vra – om nie doof te wees vir hom nie (vers 1), om hom tog nie uit te roei saam met die goddelose nie (vers 3).  Uiteraard wil hy verlos word van sy ellende, uit die put waarin hy beland het, wat of die bedreiging van ‘n vyand kan wees, of van die dood self.  Hy voel immers soos ‘n “sterwende” (vers 1)  wat letterlik in die Hebreeus weergegee word as “een wat neerdaal in die put”.

Maar die belangrike punt is nie dat hy bang is vir die dood as sodanig nie, maar dat hy bang is vir die stilte van God, “As U bly swyg …”, dws dat God hom nie sal hoor nie (Ps 94:17 praat van die stilte van die graf) en daarom nie sal help nie.

In hierdie wroeging van Dawid beskryf hy vir God met ‘n enkele term wat hom vastigheid kan gee in sy wankelrige ervaring – my Rots (vers 1).  As alles wankel onder jou, en dit voel asof jy nooit weer op vaste grond sal wees nie, het jy behoefte aan die stewigheid en vastigheid wat ‘n Rots jou kan gee.

Dit is ook interessant dat Dawid vra dat die Here die goddelose sal vergeld, maar nie net weens hulle skandelike gedrag nie (vers 4), maar veral omdat hulle nie let op die dade van die Here nie (vers 5).  Dit is hulle poging om onafhanklik van God te lewe, sonder Sy inspraak in hulle lewens, en daarby met die ontkenning van wat God doen (asof Hy inderdaad stil is!), wat hulle eintlik ‘n oordeel oor hulleself losleef – en Dawid vra dat die oordeel voltrek sal word.

Vers 6-9 – Loflied omdat God gehoor het

In vers 6 en verder loof Dawid die Here, dat Hy hom gehoor het, en dat Hy hom gehelp het.  Sy beskrywings van God is nou oorvloedig, en beskryf daarmee wat God vir hom gedoen het: my sterkte (vers 7), my beskermer (of skild – vers 7), sterkte (vers 8), veilige beskutting (vers 8).

En sy gebed is dat God dit altyd vir sy volk sal wees, vir almal wat aan Hom behoort, en dat Hy altyd vir hulle sal sorg.  En hy gebruik ‘n verder beskrywing van God, dat Hy ‘n herder vir hulle sal wees, iets wat in die Nuwe Testament ‘n voorkeur titel vir Jesus sou word.

Hierdie smeekgebed en loflied van Dawid laat ‘n mens besef dat daar niks outomaties is aan God se sorg nie.  Dit is en bly altyd genade.  Selfs al kan ‘n mens rekening daarmee hou, omdat God dit beloof en Hom só laat ken het deur die eeue, bly dit iets wat nie vanselfsprekend is nie, iets wat jy kan verdien nie.  Sola Gratia – soos die Reformasie so diep ingesien het.

Psalm 30

Die opskrif sê dat hierdie Psalm geskryf is vir die inwyding van die huis, wat ook as die tempel verstaan kan word, soos die vertaler dit gedoen het.  Ek verkies egter om dit breër te verstaan as huis, omdat dit dan ‘n Psalm is wat eintlik oral gebruik kan word waar op die veiligheid wat God bring, staat gemaak word.  Hy is die Rots waarop ons bou.

Vers 1-4 – Loflied omdat God gehoor het

Dawid loof God omdat Hy hom gesond gemaak het, en gered het van die dood (put).  Sy vyande se blydskap oor sy ellende was van korte duur.  Hulle blydskap het stil geraak.  God het na Dawid geluister en hom weer lewe gegun.

Vers 5-13 – Oproep tot lof vir die God wat gehoor en gehelp het

Dawid gebruik sy ervaring van redding om die geloofsgemeenskap aan te moedig om die Here te loof en getrou te bly dien, want Hy is ‘n God wat lewenslank goed is.  Sy ervaring dat hy gisteraand nog gehuil het, en vanmôre weer kan lag, is die bewys daarvan.

Hy is egter ook eerlik daaroor dat hy sy vertroue in God se onwankelbaarheid eintlik maklik verkondig het – toe dit nog goed gegaan het met hom.  Die toets het egter gekom – hetsy deur sy eie toedoen of deur ander s’n of deur siekte – toe dit nie goed gegaan het met hom nie, en hy die ervaring gehad het dat God Sy teenwoordigheid aan hom onttrek het.  Dit het sy vertroue op God tot die uiterste getoets.

Die Here het egter sy hulpgeroep gehoor en hom genadig gewees, en sy vertroue bevestig.  Daarom sal Dawid sing en nie stilbly nie … want God het nie stil gebly nie!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…