Skip to main content

Psalm 1 – Geseënd is dié wat hul vreugde in God vind

Twee groepe mense

Psalm 1 lei die hele Psalmboek in.  Die redaktors het dit hier geplaas waarskynlik omdat hier twee groepe mense gekontrasteer word, wat telkens in die res van die Psalmboek genoem sal word: die regverdiges (1:5,6) en die goddeloses (1:1,4,5,6).  In wese is dit die kern van die Psalms (en die Bybel) se boodskap:
  • Die sin van die lewe word in die regte verhouding met God gevind.
  • Dit is dwaas om sonder God te probeer lewe.

Let op hoe die Psalm die impak uitspel wat regverdiges en goddeloses se onderskeie lewenstyle (1:1-2) op hulle ervarings (1:3-4) en bestemming het (1:5-6).  Die pad wat jy kies in hierdie lewe het gevolge.  Saam met God is daar vreugde en voorspoed – jy is soos ’n boom by standhoudende water.  Sonder God is daar verydeling en ondergang – jy is soos kaf in die wind.

Dit laat ’n mens dink aan Jesus se tipering van twee paaie in Matt 7:13–14.  Die een is ’n poort na die verderf, die ander die poort na die lewe.

Geseënd is die regverdiges

Die Psalm begin met die Hebreeuse woord  gelukkig/geseënd (ʾǎš∙rê) wat vertaal is met “dit gaan goed met”  en pas dit toe op die een wat kies om die raad van die goddeloses te vermy en liewer die woord van die Here te oordink en na te volg.  Die oorspronklike woord herinner ons onmiddellik aan die Saligsprekings van Jesus in Matt 5:3.  Trouens dieselfde woord word in die Griekse vertaling van Psalm 1:1 (LXX) gebruik as in Jesus se uitsprake in die NT: makarios – gelukkig of geseënd.

Die goddeloses word met twee ander woorde getipeer: sondaars en ligsinniges (of spotters).  Dit is mense wat kies om God nie te gehoorsaam nie (sondaars), en trouens geen respek vir Hom of ’n verantwoorde lewe wys nie (ligsinniges). Soos Elwell dit stel, dit gaan goed met iemand wat “the corrosive influence of the cynical” vermy, “taking pleasure instead in every revelation of the mind and will of God, feeding his mental life on the divine Word”.

Die fokus van die regverdiges is die woord (tôwrâh) van God, waarmee veral na die wet (tien gebooie sowel as die eerste 5 boeke van die Bybel, die Pentateug) verwys word, die riglyne vir die lewe.  Hierdie doelbewuste keuse vir die woorde en weë van God is die wyse pad na voorspoed in die teenwoordigheid van God.

Die Psalmis gebruik die woord mediteer as hy oor die besig-wees met die Woord skrywe, wat in die NAV vertaal is met oordink.  Hierdie tipe meditasie is fluisterend of hardop gedoen.

Die metafoor van die boom herinner ’n mens aan die boom van lewe in die tuin van Eden. Ook Jeremia gebruik die metafoor in soortgelyke taal om die regverdige te beskryf (Jer 17:8) en die goddelose met ’n droë bossie in die woestyn te vergelyk.

Die verwysing na die goddelose wat hom nie kan handhaaf voor die Here nie, antisipeer die vraag in Psalm 15:1: “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here” en Psalm 24:3: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan?”  Dit is net dié wat na sy wil vra (24:6 – Hom soek) en onberispelik wandel (15:2).  Dit is kennelik nie waar van die goddelose nie.

Die Here ken die pad van die regverdiges

Die frase in vers 6: “die Here lei die regverdiges op hulle pad” is eintlik ’n vertaling van die volgende Hebreeuse frase: “die Here ken die pad van die regverdiges”.  Die NIV vertaal dit met: “the Lord watches over the way of the righteous” op voetspoor van Dahood wat aangedui het dat die woord ken ook in die betekenis van beskerm  gebruik kan word (Craigie).

Let op dat die Psalm nie sê dat die regverdigheid van die regverdiges die basis vir hulle voorspoed is nie, maar die feit dat God met hulle in verhouding is, dat Hy hulle ken, dat Hy hulle beskerm.  Hulle bestemming is die gevolg van God se beskerming.

Paulus verwys na dieselfde gedagte in Galasiërs 4:9, waar hy skryf dat Christene vreugde moet vind nie soseer in die feit dat hulle God ken nie, maar dat God hulle ken: “Daar was ’n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls?” Daarom bid hy dat Christus self in hulle gestalte sal kry, eerder as wette en reëls, juis omdat God met hulle in verhouding getree het, en hulle ken.

TT Cloete verwoord dié Psalm só:

1. Gelukkig hy wat slegte raad vermy

wat op ‘n goddelose pad hom lei ,

en met die spotters sit hy ook nie saam nie ;

geen plan word met ligsinniges beraam nie .

Die Here sien hom in Sy goedheid aan .

Dit gaan met almal goed wat so bestaan .

2. Die Here is dié goedgesind

wat altyd in sy woord hul vreugde vind :

Wie dit oordink , soos sap vloei in die bome

geplant langs sterk en helder waterstrome ,

hul dra hul vrug gereeld op hulle tyd

en ken geen droogte of onvrugbaarheid .

3. Die goddelose word verstrooi soos kaf .

Gewis sal God hom oordeel en hom straf .

By die regverdiges kan hy nie kom nie ;

waar hul vergader , is geen plek vir hom nie .

Die Here lei dié wat na Hom verlang .

Die goddelose pad bring ondergang .

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem