Skip to main content

Psalm 42-43 – Gebed bring vertroue selfs in die ervaring van God se afwesigheid

Inleiding

Psalm 42-43 vorm ’n eenheid, soos die geval was met Psalms  9-10. Dit lei ons onder andere af uit die herhaling van dieselfde refrein (42:6; 42:12; 43:5) en dat daar nie ’n opskrif vir Psalm 43 is nie.

Dit is een van die Psalms van die Koragiete, deel van die stam van Levi en bekend as deurwagte by die heiligdom (1 Kron. 9) sowel as musikante in die tempel (1 Kron. 6).  Een van die groot Koragiete was die profeet Samuel en een van sy kleinseuns, Heman, word uitgesonder as ‘n musikant.  Toewyding aan God loop meesal in families, presies soos God dit van die begin af bedoel het, Adam, Noag, Abraham, Isak, Jakob en uiteindelik die 12 stamme van Israel.

Die Psalm word in die eerste vers ’n maskîl genoem wat in hierdie konteks die betekenis dra van nadenke en refleksie. Die N.A.V. vertaal dit as ’n gedig, maar ek sou verkies om dit eerder  met ’n meditasie te vertaal, soos verskeie Engelse vertalings dit doen.  Dit klop met die feit dat die meeste Psalms geskryf is om God self of die gemeenskap aan te spreek, hoewel Psalm 42-43 duidelik bedoel is vir selfgesprek (Psalm 42:6,12; 43:5).  Die Psalmis is dus met homself in gesprek vanweë sy ervaring van die afwesigheid van God.  Dit gee dus aan die Psalm ’n unieke sélf reflekterende karakter, ’n meditasie oor sy (gebrek aan ’n) Godservaring.

Soos Psalm 1 al 150 Psalms inlei met die visie op die teenwoordige God en die voorspoed wat ‘n mens ervaar as jy daarvoor kies, lei die Koragiete dus met Psalm 42-43 die tweede Psalmboek in met die ervaring van die afwesigheid van dié God, en die pyn en verlange wat dit in ‘n mens ontketen.  Die Psalms dink dus nie net na oor die ervarings van voorspoed en vrede nie, maar ook oor die ervarings van teenspoed en onvrede, veral omdat die ervaring van God se teenwoordigheid ontbreek.

Terloops: dit is interessant hoe die 5 psalms wat elke Psalmboek inlei deurgaans met die tema van God se teenwoordigheid werk, elke keer vanuit ’n ander hoek, selfs wanneer dit oor die gebrek aan sy teenwoordigheid nadink.

  1. Psalm 1 praat van die voorspoed wat aan God se teenwoordigheid verbind kan word – “embracing God”.
  2. Psalm 42-43 praat van die vashou aan God ten spyte van sy oënskynlike afwesigheid – “embracing brokenness”.
  3. Asaf lei met Psalm 73 die derde Psalmboek in met die worsteling dat sommige mense juis nié na God soek nie en tog voorspoedig is, dié wat kies om nié in die teenwoordigheid van God te lewe nie en skynbaar niks daarvan oorkom nie.
  4. Psalm 90 – wat aan Moses toegeskryf word – beskryf weer in die trant van Psalm 1 God met ’n bevestigende metafoor, God as ’n skuilplek, maar skryf tog ook oor die ongemak met God se soewereiniteit wat kan kies om nie net te versorg en beskerm nie, maar ook toornig kan wees oor sonde.
  5. Psalm 107 lei die vyfde en laaste Psalmboek in met die visie dat dié God tog lojaal bly aan sy mense en hulle red van verydeling – iets wat Walter Brueggemann noem: ”relentless solidarity”.  Op Hom kan ’n mens vertrou.  Sý teenwoordigheid is die moeite werd om te soek en te beleef.

Die dors na God

Die Psalmis se verlange na God word met die metafoor van ’n dors na God uitgedruk.  Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag hy na God.

Sy behoefte is om voor God te verskyn (42:3), saam met al die gelowiges (42:5) op die heilige berg van God (43:3-4), waarskynlik as hulle voorganger (42:5), maar dié behoefte word verydel deur die feit dat hy nie by die tempel kan uitkom nie, die woonplek van God, terwyl hy in die Jordaangebied vasgevang is (vers 7), waarskynlik deur vyande of teëstanders (vers 10-11).  Die Jordaangebied kan natuurlik ook net ’n metafoor wees vir sy ervaring van vyandskap en goddeloosheid (43:1).

Let op hoe hy steeds van ’n water-metafoor gebruik om oor die pyn van die lewe te praat.  Hy ervaar nie net dat hy dag en nag in trane is nie (42:4) weens die spotlag van die vyande nie, maar hy moet luister na die waters wat teen mekaar raas, waarskynlik by die Hermonberg waar die Jordaan ontspring (die Kleinberg is onbekend), wat hom aan sy swaar lot herinner.  Hy gebruik dan die bruisende waters as beskrywing van die golwe van die lewe wat oor hom slaan (vers 7-8).  Dit is soos die chaos magte van Genesis 1:1 wat losgelaat word en hom verswelg.

Hierdie waters is nie die waters van rus van Psalm 23 of die waters van oorvloed van Psalm 1 nie.  Dit is die waters van onrus en vertwyfeling.  En die ergste daarvan is dat hy dit toeskryf aan God self. Dit is die spits van sy worsteling.  God les nie sy dors na Hom nie – om hom vry te maak om in die tempel God te aanbid nie – maar stel hom bloot aan die golwe van die lewe – waar hy in gevangenskap is ver van die tempel af.

Die spotlag van die vyande word afgespits op vraag na die teenwoordigheid van God in sy lewe (42:4,11) “En waar is jou God nou?”  En dit is teen hierdie vertwyfeling wat hy met homself in gesprek tree en drie keer herhaal: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?  Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!” (42:6-7a; 12; 43:5).

Let op dat hy regdeur God se algemene universele naam gebruik, Elôhîm (vertaal as God), waarmee God se alomteenwoordigheid en almag in herinnering geroep word.  Net een keer word God se persoonsnaam, Jahwe (vertaal as Here), gebruik as oor God se trou gepraat word (42:9).

Die gebed tot God

Met die begin van Psalm 43 sit sy selfgesprek oor in ’n gebed tot God: “Laat tog reg aan my geskied, o God”  en vra hy vir skuiling en vir lig en waarheid, dat dié hom kan lei.  Daarmee bring dit aan ons die boodskap dat wanneer selfgesprek oorgaan in gebed en gesprek met God, die uitkoms alreeds naby is.

Die Psalmis sluit dié gebed daarom weer af met ’n selfgesprek , maar dié keer met ’n ander betekenis, want ná sy gebed, kan hy homself moed inpraat – met basies dieselfde woorde as wat hy so pas in die klag oor sy situasie gebruik het – dat dié God waartoe hy so pas gebid het, hom nie uiteindelik in die steek sal laat nie.  God kan dus vertrou word, selfs al word die uitkoms nog nie gesien nie.

Craigie sê hieroor:

“when one turns from the memories and burdens within the mind and boldly addresses to God a plea for deliverance, the first step is taken on the path that leads ultimately to a restoration of the life of praise and to mental and spiritual health.” (Psalms 1-50, Word Biblical Commentary).

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar