Skip to main content

Psalm 18 + 20-21 – God gee oorwinning

Psalm 18 en 20-21 is ook gebede om verlossing, soos Psalm 17 en 22, maar fokus die gebede spesifiek op die verlossing van die koning en gesalfde.  Psalm 20 is ’n Psalm wat vir oorwinning in oorlog vra, en Psalm 18 en 21 is Psalms wat van oorwinning en gebedsverhoring in oorlog sing. Dit is ook waarom ons Psalm 20-21 as ’n eenheid kan hanteer – die een gaan oor voorbereiding, die ander oor verhoring.

Psalm 18 – Dit is God wat die oorwinning gee

Psalm 18 toon groot ooreenkomste met 2 Samuel 22.  Die onderlinge verskille kan verklaar word uit twee groepe wat die teks onafhanklik van mekaar oorgelewer het, waarvan Psalm 18 mettertyd vir die liturgie aangepas is.  Die Psalm herdenk Dawid se oorwinning oor sy vyande, veral oor Saul, en word in 2 Samuel aan die einde van die verhaal van Dawid geplaas, saam met ‘n paar verhale oor die helde wat saam met hom geveg het, sowel as die verhaal van sy seun Salomo, sy opvolger. (Lees ’n kort bydrae daaroor hier: 2 Samuel 22-23 – Dit is God wat die oorwinning gee – al my hulp en vreugde kom van Hom af)

Die dag waarop Dawid die Psalm gesing het, is nie bekend nie, hoewel ‘n mens sou kon spekuleer dat dit met sy troonbestyging verband kon hou.

Ek maak ’n paar opmerkings oor die Psalm aan die hand van die struktuur daarvan:

1.  Oorwinning oor Saul

Die konteks van die oorwinning oor Saul word aangekondig as getuienis vir die geloofsgemeenskap (vers 1). Let op dat Dawid homself nie as koning beskryf nie, maar as dienaar van die Here.

2.  Hulp in nood

Dawid loof die Here vir Sy hulp in nood op ’n besondere wyse (vers 2–4).  Die pragtige woorde van hierdie Psalm weerklink daarom baie keer in ons kerke: “Ek het U baie lief, o Heer, my rots, my sterkte, my verweer.” (TT Cloete se woorde).  God se hulp in dreigende omstandighede, selfs so gevaarlik soos die “bande van die dood” (vers 5), staan bo alles vas.

3.  God luister en tree op

Dawid beskryf sy nood met ’n verskeidenheid treffende metafore om sy verskrikking, en bedreiging uit te druk (vers 5-6). En dan vervolg hy met ’n paar selfs nog treffender natuur-metafore om die Godsverskyning op die wieke van die gerubs (hemelwese met groot vlerke) te beskryf (vers 8-16), dié God wat nie net na hom geluister het nie (vers 7), maar hom uit sy nood verlos het (vers 17-19).

4.  Verhouding met God

Daarom loof Hy dié God wat Hom verlos het, omdat Hy hom liefhet (vers 20), én omdat Hy Dawid se onskuld aanvaar het en sy vashou aan die Here raakgesien en beantwoord het (vers 21–25).  Let op hoe Dawid sy verhouding met God beskryf, want dit gee ons ’n goeie aanduiding hoe ons eie verhouding met God werk: gehoorsaam God se wil, laat hom deur al sy bepalings lei, wyk nie van sy voorskrifte af nie, opreg voor God, op sy hoede teen enige ongeregtigheid (Psalm 19 gaan hierop uitbrei!).

5.  God is getrou

Dawid gee ‘n pragtige beskrywing van God se getrouheid vir almal wat Hom dien – getrou vir die getroues, opreg teenoor die opregtes, rein teenoor die reines, maar Hy verwerp dié wat huigel (vers 26–28).

6.  God is onvergelykbaar

Dawid gaan oor tot ’n verdere loflied aan hierdie onvergelykbare God wat sy dienaar, Dawid, beskerm en laat oorwin deur die lig wat Hy gee (vers 29–46).  Hierdie beskrywings van hoe God aktief is in ons lewe, word baie keer gebruik as geloofsversterking: “met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (vers 30).  En Dawid brei uit hoe God hom gehelp het om sy vyande te agtervolg, in te haal en uit te wis.

Ontstellend – dié vyande roep selfs na God in hulle nood, maar Hy antwoord hulle nie (ver 42) – wat waarskynlik na Saul se onegte “bekerings” teenoor Dawid verwys, wat altyd weer in vyandskap geëindig het.  God word nie daardeur om die bos gelei nie.  Terloops – ’n mens moet só ’n uitspraak altyd in die breër konteks van die Psalm en die res van die Bybelse getuienis lees, anders is jou interpretasie daarvan gebrekkig, en kan dit tot verkeerde gevolgtrekkings lei.

7.  Lof voor die nasies

Dawid is so oorweldig deur die uitkoms wat God gee, dat hy sy lofbetuiging uitbrei om die Lewende Here voor die nasies  te verheerlik, wat in ’n sekere sin, eintlik altyd die doel van die wonderwerke is: om alle mense op te roep tot lof aan hulle Skepper (vers 47–51).

Psalm 20 – Voorbereiding deur gebed

Onthou dat Psalm 20 en 21 sterk verband hou, die een gaan oor gebedsvoorbereiding, die ander oor gebedsverhoring.

Psalm 20 is gebruik in die tempel  as voorbereiding vir die koning om te gaan oorlog maak – soos wat die inhoud dit duidelik maak (vgl 2 Kron 20).   Vandag sal ons dit waarskynlik gebruik in enige situasie waar ons lewens bedreig word, of waar ons in metaforiese sin teenstand teen die evangelie moet hanteer.

Let op dat die Psalm deur die geloofsgemeenskap gesing word waarmee hulle hul solidariteit uitspreek met die uitdaging wat wag – al gaan hulle nie self nie – en hulle hul afhanklikheid van God bely.  Oorlog was nooit net ’n politiese saak nie.  Dit was altyd ingebed in die geloofsverstaan en veral Godsbelewenis van Israel as Godsvolk.

Hulle vermeld ook in die Psalm dat hulle liturgies alles gedoen het wat die Here hulle voorgeskryf het in die proses van oorlog maak – dws hulle het al die offers gebring wat hulle moes, soos vers 4 dit uitspel.  Hierdie liturgie en die offer wat gebring is, was ’n integrale en baie belangrike deel van die hele proses van oorlogvoering.  Jy kan daaroor lees in 1 Samuel 7 – Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red … waar Samuel die offers bring, wat tot oorwinning lei by Mispa – en die omgekeerde daarvan, waar Saul nie wag vir hierdie liturgiese handeling nie, en voorstorm op sy eie pad (1 Samuel 13 – Saul minag die Here) wat tot sy verwerping as koning lei.  Terloops: 1 Samuel 7 was seker die eerste keer waar ’n kategeet se kategese ’n oorlog gewen het … laat ’n mens dink!

Let ook op dat die Psalm en die gebed om oorwinning sterk verbind is aan die Naam van God, wat die belofte inhou dat Hy in ooreenstemming met Homself en hoe Hy Hom openbaar het in die verlede, sal optree.  God se Naam word in die Psalm dus gebruik as beroep op sy beskerming (Naam = Godself – vers 2), om as vaandel vir die veldtog te dien (in u Naam – vers6) en om hulle vertroue op Hom uit te spreek dat Hy sy beloftes sal nakom (Naam = Godself – vers 8).

Die geloofsgemeenskap bely daarom dat die oorwinning nie sal afhang van die strydwaens en perde nie (vers 8) – hoewel dit steeds nie sonder hulle geveg gebeur nie – maar van God wat die oorwinning gee (vers 8-9), wat dan ook die spits is van hulle gebed: “Here, gee tog aan die koning die oorwinning” (vers 10).  Dit is vandag nog waar – ons moet doen wat ons moet doen, maar die sukses hang uiteindelik af van God wat optree.

Psalm 21 – die wens van my hart het U vervul

Psalm 21 is gebruik om die Here te loof vir gebedsverhoring soos dit in die oorwinning in die oorlog gebeur het.

Gebedsverhoring oorheers die Psalmis se gedagtes in die eerste deel van dié Psalm: “Die wens van sy hart het U vervul “ en sy hart loop oor van blydskap oor die voorsiening van die Here (2-8).   Wat hy van God geglo het, dat Hy uitkoms kan gee, het nou inderdaad gebeur (soos met Psalm 20 voor gevra is).

’n Mens hoor in die verwysing na die goue kroon wat die Here op sy kop geplaas het (vers 4), die verhaal van Dawid se oorwinning oor die Ammonitiese koning in Rabba (2 Sam 12:26-31).  Daar word vertel dat Dawid “die kroon van hulle koning se kop afgehaal (het). Die kroon was van goud, sowat vier en dertig kilogram, en het ’n kosbare steen bevat. Dit het nou op Dawid se kop gekom, en hy het ook ’n groot buit uit Rabba saamgevat.” ’n Baie swaar kroon!

Die belangrike vir Dawid is egter nie soseer die oorwinning, of die lang lewe en al die ander voordele wat sy verbintenis aan die Here vir hom gee nie, maar die nabyheid van die Here self.  Dit gaan nie oor die dinge van die Here nie, maar oor die Here van die dinge!

Dit maak Dawid vol vertroue dat God ook in die toekoms sy vyande sal verdelg, soos dit in die tweede deel van die Psalm uitgespel word (9-14). Let op Dawid sy gebed dat die vyande verdelg word nie net gedoen word om Dawid en sy nageslag te beveilig nie, maar om die eer van die Here te beskerm.  Dit is nog ’n belangrike rede waarom die vloek- en wraak-gedagtes so skerp geteken word in die Psalm – God se eer is bo alles belangrik (soos ons ook in die laaste deel van Psalm 18 gesien het).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…