Skip to main content

Psalm 18 + 20-21 – God gee oorwinning

Psalm 18 en 20-21 is ook gebede om verlossing, soos Psalm 17 en 22, maar fokus die gebede spesifiek op die verlossing van die koning en gesalfde.  Psalm 20 is ’n Psalm wat vir oorwinning in oorlog vra, en Psalm 18 en 21 is Psalms wat van oorwinning en gebedsverhoring in oorlog sing. Dit is ook waarom ons Psalm 20-21 as ’n eenheid kan hanteer – die een gaan oor voorbereiding, die ander oor verhoring.

Psalm 18 – Dit is God wat die oorwinning gee

Psalm 18 toon groot ooreenkomste met 2 Samuel 22.  Die onderlinge verskille kan verklaar word uit twee groepe wat die teks onafhanklik van mekaar oorgelewer het, waarvan Psalm 18 mettertyd vir die liturgie aangepas is.  Die Psalm herdenk Dawid se oorwinning oor sy vyande, veral oor Saul, en word in 2 Samuel aan die einde van die verhaal van Dawid geplaas, saam met ‘n paar verhale oor die helde wat saam met hom geveg het, sowel as die verhaal van sy seun Salomo, sy opvolger. (Lees ’n kort bydrae daaroor hier: 2 Samuel 22-23 – Dit is God wat die oorwinning gee – al my hulp en vreugde kom van Hom af)

Die dag waarop Dawid die Psalm gesing het, is nie bekend nie, hoewel ‘n mens sou kon spekuleer dat dit met sy troonbestyging verband kon hou.

Ek maak ’n paar opmerkings oor die Psalm aan die hand van die struktuur daarvan:

1.  Oorwinning oor Saul

Die konteks van die oorwinning oor Saul word aangekondig as getuienis vir die geloofsgemeenskap (vers 1). Let op dat Dawid homself nie as koning beskryf nie, maar as dienaar van die Here.

2.  Hulp in nood

Dawid loof die Here vir Sy hulp in nood op ’n besondere wyse (vers 2–4).  Die pragtige woorde van hierdie Psalm weerklink daarom baie keer in ons kerke: “Ek het U baie lief, o Heer, my rots, my sterkte, my verweer.” (TT Cloete se woorde).  God se hulp in dreigende omstandighede, selfs so gevaarlik soos die “bande van die dood” (vers 5), staan bo alles vas.

3.  God luister en tree op

Dawid beskryf sy nood met ’n verskeidenheid treffende metafore om sy verskrikking, en bedreiging uit te druk (vers 5-6). En dan vervolg hy met ’n paar selfs nog treffender natuur-metafore om die Godsverskyning op die wieke van die gerubs (hemelwese met groot vlerke) te beskryf (vers 8-16), dié God wat nie net na hom geluister het nie (vers 7), maar hom uit sy nood verlos het (vers 17-19).

4.  Verhouding met God

Daarom loof Hy dié God wat Hom verlos het, omdat Hy hom liefhet (vers 20), én omdat Hy Dawid se onskuld aanvaar het en sy vashou aan die Here raakgesien en beantwoord het (vers 21–25).  Let op hoe Dawid sy verhouding met God beskryf, want dit gee ons ’n goeie aanduiding hoe ons eie verhouding met God werk: gehoorsaam God se wil, laat hom deur al sy bepalings lei, wyk nie van sy voorskrifte af nie, opreg voor God, op sy hoede teen enige ongeregtigheid (Psalm 19 gaan hierop uitbrei!).

5.  God is getrou

Dawid gee ‘n pragtige beskrywing van God se getrouheid vir almal wat Hom dien – getrou vir die getroues, opreg teenoor die opregtes, rein teenoor die reines, maar Hy verwerp dié wat huigel (vers 26–28).

6.  God is onvergelykbaar

Dawid gaan oor tot ’n verdere loflied aan hierdie onvergelykbare God wat sy dienaar, Dawid, beskerm en laat oorwin deur die lig wat Hy gee (vers 29–46).  Hierdie beskrywings van hoe God aktief is in ons lewe, word baie keer gebruik as geloofsversterking: “met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (vers 30).  En Dawid brei uit hoe God hom gehelp het om sy vyande te agtervolg, in te haal en uit te wis.

Ontstellend – dié vyande roep selfs na God in hulle nood, maar Hy antwoord hulle nie (ver 42) – wat waarskynlik na Saul se onegte “bekerings” teenoor Dawid verwys, wat altyd weer in vyandskap geëindig het.  God word nie daardeur om die bos gelei nie.  Terloops – ’n mens moet só ’n uitspraak altyd in die breër konteks van die Psalm en die res van die Bybelse getuienis lees, anders is jou interpretasie daarvan gebrekkig, en kan dit tot verkeerde gevolgtrekkings lei.

7.  Lof voor die nasies

Dawid is so oorweldig deur die uitkoms wat God gee, dat hy sy lofbetuiging uitbrei om die Lewende Here voor die nasies  te verheerlik, wat in ’n sekere sin, eintlik altyd die doel van die wonderwerke is: om alle mense op te roep tot lof aan hulle Skepper (vers 47–51).

Psalm 20 – Voorbereiding deur gebed

Onthou dat Psalm 20 en 21 sterk verband hou, die een gaan oor gebedsvoorbereiding, die ander oor gebedsverhoring.

Psalm 20 is gebruik in die tempel  as voorbereiding vir die koning om te gaan oorlog maak – soos wat die inhoud dit duidelik maak (vgl 2 Kron 20).   Vandag sal ons dit waarskynlik gebruik in enige situasie waar ons lewens bedreig word, of waar ons in metaforiese sin teenstand teen die evangelie moet hanteer.

Let op dat die Psalm deur die geloofsgemeenskap gesing word waarmee hulle hul solidariteit uitspreek met die uitdaging wat wag – al gaan hulle nie self nie – en hulle hul afhanklikheid van God bely.  Oorlog was nooit net ’n politiese saak nie.  Dit was altyd ingebed in die geloofsverstaan en veral Godsbelewenis van Israel as Godsvolk.

Hulle vermeld ook in die Psalm dat hulle liturgies alles gedoen het wat die Here hulle voorgeskryf het in die proses van oorlog maak – dws hulle het al die offers gebring wat hulle moes, soos vers 4 dit uitspel.  Hierdie liturgie en die offer wat gebring is, was ’n integrale en baie belangrike deel van die hele proses van oorlogvoering.  Jy kan daaroor lees in 1 Samuel 7 – Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red … waar Samuel die offers bring, wat tot oorwinning lei by Mispa – en die omgekeerde daarvan, waar Saul nie wag vir hierdie liturgiese handeling nie, en voorstorm op sy eie pad (1 Samuel 13 – Saul minag die Here) wat tot sy verwerping as koning lei.  Terloops: 1 Samuel 7 was seker die eerste keer waar ’n kategeet se kategese ’n oorlog gewen het … laat ’n mens dink!

Let ook op dat die Psalm en die gebed om oorwinning sterk verbind is aan die Naam van God, wat die belofte inhou dat Hy in ooreenstemming met Homself en hoe Hy Hom openbaar het in die verlede, sal optree.  God se Naam word in die Psalm dus gebruik as beroep op sy beskerming (Naam = Godself – vers 2), om as vaandel vir die veldtog te dien (in u Naam – vers6) en om hulle vertroue op Hom uit te spreek dat Hy sy beloftes sal nakom (Naam = Godself – vers 8).

Die geloofsgemeenskap bely daarom dat die oorwinning nie sal afhang van die strydwaens en perde nie (vers 8) – hoewel dit steeds nie sonder hulle geveg gebeur nie – maar van God wat die oorwinning gee (vers 8-9), wat dan ook die spits is van hulle gebed: “Here, gee tog aan die koning die oorwinning” (vers 10).  Dit is vandag nog waar – ons moet doen wat ons moet doen, maar die sukses hang uiteindelik af van God wat optree.

Psalm 21 – die wens van my hart het U vervul

Psalm 21 is gebruik om die Here te loof vir gebedsverhoring soos dit in die oorwinning in die oorlog gebeur het.

Gebedsverhoring oorheers die Psalmis se gedagtes in die eerste deel van dié Psalm: “Die wens van sy hart het U vervul “ en sy hart loop oor van blydskap oor die voorsiening van die Here (2-8).   Wat hy van God geglo het, dat Hy uitkoms kan gee, het nou inderdaad gebeur (soos met Psalm 20 voor gevra is).

’n Mens hoor in die verwysing na die goue kroon wat die Here op sy kop geplaas het (vers 4), die verhaal van Dawid se oorwinning oor die Ammonitiese koning in Rabba (2 Sam 12:26-31).  Daar word vertel dat Dawid “die kroon van hulle koning se kop afgehaal (het). Die kroon was van goud, sowat vier en dertig kilogram, en het ’n kosbare steen bevat. Dit het nou op Dawid se kop gekom, en hy het ook ’n groot buit uit Rabba saamgevat.” ’n Baie swaar kroon!

Die belangrike vir Dawid is egter nie soseer die oorwinning, of die lang lewe en al die ander voordele wat sy verbintenis aan die Here vir hom gee nie, maar die nabyheid van die Here self.  Dit gaan nie oor die dinge van die Here nie, maar oor die Here van die dinge!

Dit maak Dawid vol vertroue dat God ook in die toekoms sy vyande sal verdelg, soos dit in die tweede deel van die Psalm uitgespel word (9-14). Let op Dawid sy gebed dat die vyande verdelg word nie net gedoen word om Dawid en sy nageslag te beveilig nie, maar om die eer van die Here te beskerm.  Dit is nog ’n belangrike rede waarom die vloek- en wraak-gedagtes so skerp geteken word in die Psalm – God se eer is bo alles belangrik (soos ons ook in die laaste deel van Psalm 18 gesien het).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar