Psalm 17 + 22 – God verontagsaam nie die gebed van die hulpelose nie

Hierdie twee Psalms gaan oor die feit dat God die gebed van die hulpeloses nie verontagsaam nie.  Psalm 17 bid om verlossing op grond van God se regverdige karakter.  En Psalm 22 bid nie net om verlossing nie, maar loof God vir die verlossing wat Hy gebring het.

Psalm 17 – ’n Nag-gebed vir beskerming van ’n onskuldige

Dit is ’n Psalm vir beskerming wat ‘n onskuldige bid wat onder groot druk verkeer.  Dit lyk asof dit ook ‘n nag-gebed is, want hy bid dit waarskynlik gedurende ‘n lang nag se worsteling met sy omstandighede (vers 3,15).

Belangrik: dit is nie ‘n gebed van iemand wat homself probeer regverdig of probeer verontskuldig nie. Hy is in ‘n spesifieke situasie en kan eerlik sê dat hy geen skuld aan die omstandighede het nie.  En hy wil nie net hê dat mense sal sien hy is onskuldig nie, maar dat God dit sal sien en daarom sal optree.

Dawid maak dus volledig staat op God se regverdigheid – en dat Hy niemand wat regverdig lewe in die steek sal laat nie.  Laat my dink aan Paulus wat ook nie soseer bekommerd was of mense sy werk en lewe beoordeel nie, maar wat God daarvan sou dink (1 Kor 4:3-5).

Met pragtige metafore beskryf di ePsalmis sy verlange, dat God hom soos sy oogappel sal beskerm, sal wegsteek onder Sy vlerke, en sal beskerm van die mense wat sy dood soek.

Let op hoe hy die twee-paaie metafoor van Psalm 1 gebruik en aanpas as hy oor sy handel en wandel praat en dit kontrasteer met dié van die goddelose in vers 5: “Elke stap van my was vas op die koers wat U aangewys het. My voete het nie daarvan afgewyk nie.”

‘n Mens hoor die herinnering aan die wonder van die Uittog uit Egipte in sy gebed in vers 7 (vgl Eks 15:11-13). Soos soveel keer in die Psalms is God se wonderdade in die verlede die aanleiding tot vertroue in die hede.  Dit is waarom die geloofsgemeenskap ook so belangrik is vir elkeen wat onder druk kom in die lewe, want die wonderdade van God word juis in die geloofsgemeenskap lewendig gehou. En dit is ook waarom hy in vers 7 nie net van uitkoms in sy eie situasie praat nie, maar sê dat verlossing iets is wat vir almal geld in die geloofsgemeenskap.

Weereens is sy gebed vir die goddelose skerp en vol wraak, wat hy selfs afbid op hulle kinders en kleinkinders. Die geweld van die gebed vir die verwoesting van die arrogante opstandige goddelose is wel waarskynlik metafories, maar steeds erg! Dit is militêre taal, gekoppel aan die herinnering van die oorwinning oor farao in die Uittog (Eks 15) en moet waarskynlik nie te letterlik opgeneem word nie.

Let op dat sy hoop lê in wat God kan doen, nie in sy eie planne of in die toeval van die oomblik nie.

Terloops: Vers 15  se verwysing na die wakker word uit die slaap, kan volgens sommige  ‘n versluierde verwysing na die wakker word uit die dood se slaap wees, waar die Psalmis rekening hou met die feit dat niks God se teenwoordigheid kan troef nie, selfs nie die dood nie.

Psalm 22 – My God, my God, waarom het U my verlaat?

Dit is moeilik om dié Psalm te lees, sonder om die lyding, kruisiging en opstanding van Jesus so duidelik hierin te hoor. En natuurlik is dit ‘n Messiaanse Psalm wat in die lewe van Jesus vervul is. Maar dan vergeet ons te maklik dat dit ook ‘n Psalm van Dawid is, en dat dit in die eerste plek vir hom in sy lewe betekenis gehad het.

Dit is ook ’n lied wat in die liturgie van die geloofsgemeenskap gebruik is (vers 23), spesifiek by die offermaaltyd (vers 26-27) waartydens ook na die armes omgesien is (vgl 1 Kor 11 waar dieselfde sentimente gegeld het vir die nagmaal, dat vir die armes omgegee is).

Die Psalm begin met die diep en donker klag van Dawid dat hy deur God self verlaat voel (vers 2–3).  Hy kan dit nie klein kry dat hy bid, en daar is geen antwoord nie, selfs nie as hy dag en nag daarmee volhard nie.

Dié klag word opgevolg deur ’n belydenis van vertroue, gebou op sy ervarings van die verlede, dat God teenwoordig is waar Sy lof besing word, en dat Hy Hom op soveel wyses al in die verlede bewys het vir die verbondsvolk (vers 4–6).

Daarna beskryf Dawid sy lyding, nie net in sy eie ervaring van minderwaardigheid nie: “ek is ‘n wurm, nie ‘n mens nie”, maar ook in terme van hoe mense hom laat voel met hulle spot en venyn (vers 7–9).

Maar sy diepste krisis is eintlik dat sy verhouding met God só anders was in die verlede.  Van sy geboorte af was hy in God se sorg (vers 10–11) en hy kan nie anders as om sy lot te bekla voor dié God en om hulp te smeek nie (vers 12).

In pynlike metafore beskryf hy sy smart en lyding, waarin ‘n mens natuurlik nie anders kan as om die kruisigingstoneel van Jesus te herken nie … maar probeer om dit eers net met Dawid te verbind (vers 13-19).  Die vyande is soos ‘n trop beeste wat hom toestaan.  Soos ‘n trop oop-bek leeus storm hulle op hom af.  Hy is soos uitgestorte water wat in die sand verdwyn, sy bene val uitmekaar, sy hart smelt weg uit sy binneste, sy tong kleef aan sy verhemelte … hy is soos iemand wat dood is. Soos ‘n trop honde omsingel hulle hom, en soos ‘n trop misdadigers sak hulle op hom toe.

Maar weereens is sy grootste klag dat in hierdie onhoudbare lyding, hy die ervaring van God se teenwoordigheid verloor het, en vra hy dat God hom sal red, van die honde, die leeus en die wilde beeste (vers 20–22a).  Uitnemende digwerk!

En dan kom die wending in die Psalm met die belydenis dat die Here sy gebed verhoor het (22b). En is Dawid se eerste reaksie om vir die gemeente te vertel wat hy deurgemaak het (vers 23).

Maar dié oproep slaan gou oor in ‘n oproep tot die geloofsgemeenskap om saam met hom die Here te loof (vers 24–27).  Wat met Dawid gebeur het, illustreer vir almal, dat dít is hoe God is.  Hy verontagsaam nie die nood van die hulpelose nie; Hy trek Hom nie terug van iemand wat om hulp roep nie.

En dan breek die universele boodskap hiervan deur, dat dié God regoor die wêreld geëer sal word, gerugsteun deur die getuienis van sy mense van geslag tot geslag.  En in eskatologiese taal word uitgesien na dié dag wat selfs die rykes sal aansit by God se maaltyd, trouens alle mense, selfs al is hulle sterflik en verganklik (vers 28-32).

Mensig!  Dit is ’n Psalm dié!  Van die beste digkuns ooit!  En die vêrgesigte van Dawid, wat die grense van sy eie beperktheid en dié van sy geloofsgemeenskap, trouens van sy volk en tyd oorspoel … joe, dit maak my opgewonde!

Maar, terug by die Psalm, Messiaans is die Psalm wel.  En dit is verstommend om in die verloop van die Psalm eintlik die hele evangelie van Jesus Christus te hoor, selfs die verwagting van die universele impak van Sy boodskap.  Lees weer vers 13-19 asof dit deur Jesus aan die kruis gesê is, en aanbid Hom vir die pyn wat Hy bereid was om vir ons te vat …

Terloops: die keuse om die Psalm op die wysie: “Die wildsbok van die daeraad” te sing, wys waarskynlik daarop dat geestelike liedere soms op gewone wysies gesing is.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: