Mag ons vandag nog mense verag?

Iemand vra my oor die riglyn in Psalm 15:4 dat van gelowiges wat die tempel wil betree verwag word om “dié te verag wat deur God verwerp is.” En vra ook hoe dit verband hou met die ander riglyn in vers 3 dat jy niemand mag beledig nie. Nogal ‘n interessante een!

‘n Bietjie agtergrond: Psalm 15 gee 10 riglyne vir iemand wat in die tempel die Here wil kom aanbid (die priesters het dit waarskynlik vir tempelgangers uitgespel, soos ook die geval is in Psalm 24, ‘n tweelingPsalm van dié een).  Die riglyne was: 1) onberispelike (blaamlose) lewenswandel, 2) regdoen, 3) waarheid praat, en die teendeel, 4) nie kwaadpraat nie, 5) niemand beledig nie, 6) dié verag, NB, wat deur God verwerp is, maar daarteenoor 7) Godsdienaars eer, 8) woordhou, 9) nie rente vra vir sy eie mense, veral van die behoeftiges, nie, 10) hom nie laat omkoop om onskuldiges te kort te doen nie.

Dit is soort van die Tien Gebooie van tempelaanbidding (die eerste 2 kan ook algemene riglyne wees, en die ander 8 spesifieke riglyne), en al die riglyne het met die publieke geloofslewe te make, beide in die gemeenskap van gelowiges in die tempel, sowel as in die gemeenskap in die wêreld. Dit moes dus bekend wees vir almal dat jy die Here dien. Dan kon jy met ‘n skoon gewete die tempel betree.

Nog ‘n bietjie meer agtergrond: die Hebreeuse woord wat met verag vertaal word, is bāzāh, wat as volg verklaar word (met teksverwysings na ander gebruike van die woord):

“despise, show contempt for, think lightly, i.e., pertaining to feeling of contempt for an object, because it is regarded to be bad, or of little value, often with behaviors toward the object (including speaking scorn and ridicule) which correspond to that contempt (Gen 25:34 – “Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene”); be despised (Ps 22:7 – “word deur die volk verag” wat natuurlik in die NT met Jesus se kruisdood verbind word); be despised, be contemptible (1 Sam 15:9 – al die vee “wat swak was”); cause to despise (Est 1:17 – Vasti wat vir koning Ahasveros geminag het). Dit is in elk geval hoe James Swanson dit verklaar in sy Dictionary of Biblical Languages With Semantic Domains.

As ‘n mens dus riglyn 6 (verag dié wat deur God verwerp is) en riglyn 7 (eer dié wat God dien) binne daardie konteks probeer verstaan, beteken dit dat die priesters wou hê dat mense wat bekend is daarvoor dat hulle aktief besig is om God en die geloof in Hom te ondergrawe, dat hulle menings nie respekteer moet word nie, trouens met minagting en veragting behandel word. Daarmee het hulle nie soseer bedoel dat ‘n mens woedend of kwetsend moet optree nie, dws met emosie nie, maar dat hulle manier van lewe, selfs hulle manier van dink, afgewys en verwerp moet word.  Dit is soos in Psalm 1 waar die Psalmis sê dat die “raad van die goddeloses” nie gevolg moet word nie.  Die geselskap en invloed van sulke mense moet vermy word.  Dit het dus meer met jou eie houding te make wat reg moet wees, en die beskerming van jou eie wandel met God, as met die afkeer van ander se houding.

Hierdie veragting is dus heeltemal anders as die riglyn rondom belediging van vers 3, ‘n woord wat eintlik ook met skinder vertaal kan word, dit is om stories aan te dra oor iemand wat nie waar is nie, of wat net tot die ander persoon se nadeel oorvertel word. Veragting van mense wat God verwerp, is reg, maar belediging of skinder oor iemand tot sy nadeel, is verkeerd. Let ook op dat dié “veragting” spesifiek gereserveer vir dié wat deur God verwerp is. In die praktyk beteken dit natuurlik eintlik die omgekeerde, mense wat te kenne gee dat hulle God verwerp het, en daarom geag word as mense wat God verwerp het.

Maar na die lang verduideliking, in die NT is dit anders.  Jesus leer reeds in die Bergrede dat ons houding teenoor dié wat buite die geloof staan, deur ander riglyne beheer word.  Hy vra van ons dat ons dié moet seën wat ons vervloek, dat ons dié moet liefhê wat ons vervolg. Dit is die nuwe riglyne vir ons lewenswandel, wat Psalm 15 en ander soortgelyke uitsprake aanvul en verander.  Jesus praat wel skerp met die mense binne die kerk wat God nie dien nie, en Hom verwerp, maar selfs vir hulle sê Jesus dat die oordeel nie by Hom berus nie, maar by Sy Vader.  Jesus sê so pragtig in Johannes 3 dat Hy nie gekom het om die wêreld te veroordeel nie, maar hulle te red. Dit is hoe ons mense moet hanteer, met liefde, deernis, en natuurlik ook uit vaste oortuiging.

Vandag sal veragting dus nie meer ‘n riglyn vir ons hantering van ander mense kan wees nie. Belediging sal egter altyd verkeerd bly …

View all posts in this series

Psalms, Verag


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Chris, Baie interessante riglyne wat mens nie altyd so raaklees en toepas nie. Inderdaad het ons ‘n belangrike uitdaging om tot eer van God in die NT tyd verkondigend te lewe.

  • Chris, Ek maak die afleiding,meskien die verkeerde woord, in die OT het dit oor die persoon gegaan, in die NT gaan dit oor die dade wat deur God verwerplik is wat die persoon pleeg en nie die verwerping van die persoon nie. Verstaan ek dit reg?

    • Hi Rauti – jy raak ‘n uiters gekompliseerde onderwerp aan. Ek weet ons werk baie keer met só ‘n onderskeid tussen die persoon van ‘n mens en die praktyk van sy lewe. En dan sê ons gewoonlik: jy moet die persoon van die sondaar liefhê, al verskil jy hewiglik van die praktyk van sy lewe, en verwerp jy sy sonde. Maar hoe meer ek hieroor nadink, hoe meer twyfel ek of dit regtig die geval is, en of daar ‘n verskil is tussen OT en NT. Ek dink byvoorbeeld aan Agan in die OT wat met die dood gestraf is na die slag van Ai – persoon en praktyk vorm ‘n eenheid. Maar, in die NT is daar ‘n soortgelyke storie van Ananias en Safirra – persoon en praktyk vorm ook ‘n eenheid. En ek dink aan die genade wat God in beide OT en NT aan soveel mense bewys het, mense wat eintlik verwerping verdien het. Dink aan ‘n hele paar van die konings in die OT (Dawid, Salomo, Hiskia) en aan bv Saulus in die NT. Wat wel anders is in die NT, is dat jy jou vyande moet liefhê. Dit is iets wat die OT boodskap verruim en verander het. Ek sal ‘n bietjie dieper moet nadink en lees hieroor en sal later ‘n bydrae probeer maak.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: