Psalm 14 – Net ‘n dwaas sê daar is geen God nie

Psalm 14 en 53 het basies dieselfde inhoud, met net ’n paar woorde en die opskrifte wat verskil.  Die hoofverskil lê in die gebruik van God se naam.  Psalm 14 gebruik 4 keer God se persoonsnaam, Jahwe, en Psalm 53 net die algemene naam vir God, Êlôhîm.  Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan verskillende redakteurs wat afsonderlik gewerk het met ‘n gedig wat moontlik foute bevat het, en wat hulle toe elkeen op sy eie manier aangepas het.  Albei Psalms was in gebruik in die liturgie en is dus ingesluit in die uiteindelike Psalmboek.

Die kontras in die Psalm is nie tussen ryk en arm nie, maar tussen goddeloses en regverdiges, hoewel dit wel wil lyk asof die regverdiges hier ook arm is (hulpeloos) – vers 5.  Die kontras is tussen dwases en wyses, tussen onverstandiges en verstandiges, mense wat niks van God begryp nie, en die wat iets van God begryp.  En let op dat hierdie kontras nie tussen intellektuele dwases en wyses is nie, maar tussen geestelike dwases en wyses.  Intellek en verstandelike vermoëns is nie in die Psalmis se visier nie, wel hulle verhouding met God en begrip vir wat Hy doen, al dan nie.

Om dwaas te wees

Om dwaas te wees, is ook nie ‘n beskrywing uit ‘n menslike perspektief nie, maar uit God se perspektief.  Dit is Hy wat hulle as dwaas beskou. Uit ons hoek kan iemand ryk en suksesvol en magtig voorkom.  Uit God se hoek kan so iemand arm, ‘n mislukking en swak voorkom.

‘n Dwaas is dus iemand wat lewe sonder om na God te luister om van Hom leiding te ontvang om sy of haar lewe te kan rig en laat begelei.  ‘n Wyse is iemand wie se lewe juis draai om die luister na God en die vertroue op die pad waarop Hy sy of haar lewe begelei.

Dwases se lewens word daarom gekenmerk deur liefdeloosheid – pleeg onreg, eet ander op asof hulle brood is!  Dwases kan die wyses ook nie uitstaan nie, en vat hulle op allerhande maniere aan.  Wyses boet dus onder die aanslag van dwases,  net omdat die dwases nie die geloof en vertroue in God, wat wyses se lewens kenmerk, kan vat nie!

Om wys te wees

Wyses se lewens word daarenteen gekenmerk deur ‘n toevlug neem tot God en ‘n vertroue op Sy redding en lotsverandering.  Hulle sal juig en bly wees – en in God se teenwoordigheid tot hulle reg kom (dit loop Psalm 15 en 24 vooruit wat hieroor verder nadink).

Ons moet egter nie te gou die dwase in ons omgewing soek nie.  Die Psalm is duidelik daaroor dat dwaasheid eintlik ‘n algemene kenmerk van die mensdom is, en dat dit ook vir ons insluit.  Dit is waarom Paulus uit hierdie verse aanhaal in Rom 3 en die evangelie van Jesus Christus as ‘n weg uit die dwaasheid verkondig en spesifiek sê dat God deur sy Gees sy liefde in ons harte uitgestort het (Rom 5), om ons dwaasheid in liefde te verander. Kragtig!

Die Psalmis se nadenke oor die mens het hom aanvanklik dus na ‘n klaaglied gelei, maar dit mond uiteindelik uit in ‘n bede tot God om verlos te word (van dwase en om self nie dwaas te wees nie), en die verwagting om God se aktiewe teenwoordigheid in sy of haar gemeenskap te ervaar.  Dit is waarom Craigie voorstel dat ons die Psalm moet lees as ons geestelike  pelgrimstog, waar onsself van dwaasheid tot begrip en liefde beweeg word.

Terloops – die vertaling in vers 6 “God is aan die kant van die regverdiges” lees eintlik letterlik “ God is in die vergadering van die regverdiges” .  Dws God is teenwoordig in die gemeenskap van die wat Hom dien, as ‘n beskerming teen die wat teen hulle planne beraam.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: