Skip to main content

Psalm 2 – Geseënd is dié wat op God vertrou

Die fondament vir ons publieke lewe

Psalm 1 en 2 is regtig die fondament waarop die hele Psalmboek gebou is.  Waar Psalm 1 ons help om te verstaan dat vreugde en voorspoed by die Here en in sy gemeenskap te vinde is, help Psalm 2 ons om te verstaan dat hierdie God almagtig is.  Hy is aktief op die wêreldtoneel van volke, nasies, konings en leiers.
  • Psalm 1 is dus die fondament vir jou persoonlike lewe met God.
  • Psalm 2 is weer die fondament vir jou publieke lewe met God.

Dit gee jou die moed om God te vertrou om in die wispelturigheid van die (internasionale) politieke wêreld van ons gemeenskappe rigting te bring, en by Hom skuiling te soek, beide in jou persoonlike lewe as in die publieke deel daarvan.  Soos die Bybel vir die Lewe 24/7 (Lux Verbi.BM: 2006) sê: “as ons glo wat Psalm 1 en 2 ons leer … kan ons in alle omstandighede bid.”

Interessant genoeg begin Psalm 1 met ’n saligspreking (1:1): Geseënd is die mens wat in die woord van die Here sy vreugde vind … en eindig Psalm 2 met ’n soortgelyke saligspreking (2:12) : Geseënd is dié wat by Hom skuiling vind (of oorspronklik: wat op Hom vertrou).  Dit het sommige verklaarders laat dink dat die twee Psalms eintlik oorspronklik een Psalm was (Petrus noem Psalm 2 eintlik Psalm 1 volgens sekere tekstradisies – Hand 4:25-26).  Hoe dit ook al sy – die twee Psalms maak dus as ’n geheel die punt: Geseënd is dié wat hulle vreugde in God vind, en op Hom vertrou.

Geseënd is dié wat op God vertrou

Die Psalm (Petrus verbind dit aan Dawid – Hand 4:25-26) is uit vier dele opgebou:

  • Die Psalmis beskryf sy verbasing oor die onrus en wispelturigheid van die publieke en politieke lewe en ontbloot die dryfveer daaragter as ’n rebellie teen die Here en sy gesalfde, in hierdie konteks, die koning van Israel (2:1-3).  Waar daar ’n rokie is, brand altyd ’n vuurtjie.
  • Die Psalmis weet egter dat God nie uitgelewer is aan die nukke en grille van sy teëstanders nie, Hy woon immers in die hemel (NIV: “The One enthroned in heaven laughs”).  Maar, vanuit die hemel, bewys Hy sy mag deur sy koning op die berg van God, Sion, te bevestig (2:4-6).  Dié opstand is dus doodgebore.
  • Die koning en gesalfde kom dan aan die woord om God se belofte aan hom bekend te maak, dat hy God se seun is, en die hele aarde onder sy heerskappy sal wees (2:7-9 – vgl 2 Sam 7:14 waar Dawid God se Seun genoem word, en Ps 89:27 waar dit geëggo word).  God tree beslissend op.
  • Die Psalmis waarsku daarmee die konings en regeerders van die aarde om die Here met ontsag te dien en so sy toorn te vermy.  En sluit af met die uitspraak: “Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek,” wat veral vir die dienaars van die Here ’n bemoediging is.  God kan vertrou word.

Nuwe Testament

Hierdie Psalm word die meeste in die NT aangehaal.  Dit was die Psalm wat die duidelikste skakel tussen God se werk in Israel (veral die koningshuis) en God se werk in Jesus gevorm het.  Dit is wat agter die identifikasie lê van Jesus as die Een wat God se koninkryk laat kom (Mark 1:14-15) wat nie net die Messias (Luk 9:20) is nie, maar ook die Seun van God (in die aankondiging van die engele – Luk 1:35; in die geslagsregister van Jesus – Luk 3:38; in die aanvegting deur die duiwel – Luk 4:3; in die woorde van Natanael –Joh 1:49; in die woorde van Petrus – Matt 16:16; in die woorde van die offisier – Mark 15:39; en nog vele ander plekke).  Let weer op hoe Marta, soos Petrus, dit op ’n  wonderlike manier saamvat in haar belydenis in Joh 11:27: “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

Petrus en Johannes saam met die hele gemeenskap van gelowiges verbind Psalm 2 se uitsprake oor God se Gesalfde (=Messias) aan Jesus (Christus = Gesalfde/Messias) in hulle gebed net na Pinksterdag toe die Joodse Raad dreigend teenoor hulle begin optree (Hand 4:25, 26 – vgl ook Simon se uitspraak in Luk 2:26 en Petrus s’n in Luk 9:20).  Paulus doen dieselfde in die deurslaggewende toespraak aan die mense van Antiogië (Pisidië) wat hy aanvul met sy her-interpretasie van  Psalm 2:7 wat hy met die opstanding van Jesus verbind (Hand 13:33).

Ook die skrywer van die Hebreërbrief gebruik Psalm 2:7 om Jesus se verhewenheid bo alles en almal te bevestig (Heb 1:5, 6), sowel as sy Middelaarskap as Hoëpriester (Hebr 5:5). En die apostel Johannes maak die belofte van Psalm 2:8, wat mag en gesag oor die nasies insluit, van toepassing nie net op Jesus nie (Open 12:5; 19:15), maar ook op die gehoorsame dissipels, dws die kerk, waarin die belofte opgesluit lê dat die evangelie effek tot aan die eindes van die aarde sal hê (in die brief aan die gemeente van Tiatira in Op 2:26, 27).

Ons mag/moet God daarvoor vra – dat Hy Sy koninkryk aan al die nasies sal bring.  Ons het nodig om Psalm 1 te bid rondom ons eie verbintenis aan God.  Maar ons het regtig nodig om Psalm 2 met hernude oorgawe te bid ter wille van ‘n wêreld se verbintenis aan God, en om ons self te herinner daaraan dat ons God mag vertrou, al smee die nasies planne en al is daar onrus onder die volke.

Johannes maak ook baie in sy evangelie van die verhouding van Vader-kind wat tussen God en ons tot stand kom in Jesus (Joh 1:12; 1 Joh 3:1), waarmee hy die Psalm se boodskap op ‘n baie persoonlike manier van toepassing maak. So ook Paulus in Romeine 8.

Terloops, vers 12 se eerste frase: “en Hom onderdanig wees” is ‘n vertaling van die oorspronklike Hebreeus wat só lui: “en soen die Seun”.  Dit was ‘n teken van onderdanigheid (as jy iemand se voete gesoen het) of vriendskap soos ‘n mens meermale teëkom (2 Sam 14:14; 15:5 – hoewel Absalom dit hier met slegte bedoelings gedoen het, soos ook Judas dit met Jesus gedoen het – Luk 2:48).

TT Cloete verwoord dit so:

1. Waarom stig volke opstand teen die Heer

en word teen sy gesalfde saamgespan ?

Hul sê , as hulle dié gesag trotseer :

” Werp af dié juk en raak bevry daarvan .”

2. Die Heer wat hoog daar in die hemel woon ,

Hy lag hul uit en Hy maak hul tot spot .

Hul gaan op loop , dié vorste wat Hom hoon ,

Hy maak ‘n nietigheid van hul komplot .

3. Die oproermakers word deur God vermaan :

” Ek het die koning immers sélf gekroon ,

daar op my berg wat hoog en heilig staan ,

daar heers hy , my gesalfde , op sy troon .”

4. ” Jy is my seun ,” het Hy vir my gesê .

” Jy kry die volke as besit van My .

Hul sal in skerwe voor jou septer lê ,

hul sal verbrokkel soos ‘n pot van klei .”

5. O heersers van die aarde gee dan ag ,

want julle moet Hom onderdanig wees ;

die Here moet gedien word met ontsag ,

eerbiedig , en met siddering en vrees .

6. Kom eer die Here en kom buig voor Hom .

Keer so dat Hy vertoorn op julle raak ,

keer dat die Heer se woede oor jul kom .

Wie by Hom skuil , sal Hy gelukkig maak .

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…