Psalm 2 – Geseënd is dié wat op God vertrou

Die fondament vir ons publieke lewe

Psalm 1 en 2 is regtig die fondament waarop die hele Psalmboek gebou is.  Waar Psalm 1 ons help om te verstaan dat vreugde en voorspoed by die Here en in sy gemeenskap te vinde is, help Psalm 2 ons om te verstaan dat hierdie God almagtig is.  Hy is aktief op die wêreldtoneel van volke, nasies, konings en leiers.
  • Psalm 1 is dus die fondament vir jou persoonlike lewe met God.
  • Psalm 2 is weer die fondament vir jou publieke lewe met God.

Dit gee jou die moed om God te vertrou om in die wispelturigheid van die (internasionale) politieke wêreld van ons gemeenskappe rigting te bring, en by Hom skuiling te soek, beide in jou persoonlike lewe as in die publieke deel daarvan.  Soos die Bybel vir die Lewe 24/7 (Lux Verbi.BM: 2006) sê: “as ons glo wat Psalm 1 en 2 ons leer … kan ons in alle omstandighede bid.”

Interessant genoeg begin Psalm 1 met ’n saligspreking (1:1): Geseënd is die mens wat in die woord van die Here sy vreugde vind … en eindig Psalm 2 met ’n soortgelyke saligspreking (2:12) : Geseënd is dié wat by Hom skuiling vind (of oorspronklik: wat op Hom vertrou).  Dit het sommige verklaarders laat dink dat die twee Psalms eintlik oorspronklik een Psalm was (Petrus noem Psalm 2 eintlik Psalm 1 volgens sekere tekstradisies – Hand 4:25-26).  Hoe dit ook al sy – die twee Psalms maak dus as ’n geheel die punt: Geseënd is dié wat hulle vreugde in God vind, en op Hom vertrou.

Geseënd is dié wat op God vertrou

Die Psalm (Petrus verbind dit aan Dawid – Hand 4:25-26) is uit vier dele opgebou:

  • Die Psalmis beskryf sy verbasing oor die onrus en wispelturigheid van die publieke en politieke lewe en ontbloot die dryfveer daaragter as ’n rebellie teen die Here en sy gesalfde, in hierdie konteks, die koning van Israel (2:1-3).  Waar daar ’n rokie is, brand altyd ’n vuurtjie.
  • Die Psalmis weet egter dat God nie uitgelewer is aan die nukke en grille van sy teëstanders nie, Hy woon immers in die hemel (NIV: “The One enthroned in heaven laughs”).  Maar, vanuit die hemel, bewys Hy sy mag deur sy koning op die berg van God, Sion, te bevestig (2:4-6).  Dié opstand is dus doodgebore.
  • Die koning en gesalfde kom dan aan die woord om God se belofte aan hom bekend te maak, dat hy God se seun is, en die hele aarde onder sy heerskappy sal wees (2:7-9 – vgl 2 Sam 7:14 waar Dawid God se Seun genoem word, en Ps 89:27 waar dit geëggo word).  God tree beslissend op.
  • Die Psalmis waarsku daarmee die konings en regeerders van die aarde om die Here met ontsag te dien en so sy toorn te vermy.  En sluit af met die uitspraak: “Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek,” wat veral vir die dienaars van die Here ’n bemoediging is.  God kan vertrou word.

Nuwe Testament

Hierdie Psalm word die meeste in die NT aangehaal.  Dit was die Psalm wat die duidelikste skakel tussen God se werk in Israel (veral die koningshuis) en God se werk in Jesus gevorm het.  Dit is wat agter die identifikasie lê van Jesus as die Een wat God se koninkryk laat kom (Mark 1:14-15) wat nie net die Messias (Luk 9:20) is nie, maar ook die Seun van God (in die aankondiging van die engele – Luk 1:35; in die geslagsregister van Jesus – Luk 3:38; in die aanvegting deur die duiwel – Luk 4:3; in die woorde van Natanael –Joh 1:49; in die woorde van Petrus – Matt 16:16; in die woorde van die offisier – Mark 15:39; en nog vele ander plekke).  Let weer op hoe Marta, soos Petrus, dit op ’n  wonderlike manier saamvat in haar belydenis in Joh 11:27: “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

Petrus en Johannes saam met die hele gemeenskap van gelowiges verbind Psalm 2 se uitsprake oor God se Gesalfde (=Messias) aan Jesus (Christus = Gesalfde/Messias) in hulle gebed net na Pinksterdag toe die Joodse Raad dreigend teenoor hulle begin optree (Hand 4:25, 26 – vgl ook Simon se uitspraak in Luk 2:26 en Petrus s’n in Luk 9:20).  Paulus doen dieselfde in die deurslaggewende toespraak aan die mense van Antiogië (Pisidië) wat hy aanvul met sy her-interpretasie van  Psalm 2:7 wat hy met die opstanding van Jesus verbind (Hand 13:33).

Ook die skrywer van die Hebreërbrief gebruik Psalm 2:7 om Jesus se verhewenheid bo alles en almal te bevestig (Heb 1:5, 6), sowel as sy Middelaarskap as Hoëpriester (Hebr 5:5). En die apostel Johannes maak die belofte van Psalm 2:8, wat mag en gesag oor die nasies insluit, van toepassing nie net op Jesus nie (Open 12:5; 19:15), maar ook op die gehoorsame dissipels, dws die kerk, waarin die belofte opgesluit lê dat die evangelie effek tot aan die eindes van die aarde sal hê (in die brief aan die gemeente van Tiatira in Op 2:26, 27).

Ons mag/moet God daarvoor vra – dat Hy Sy koninkryk aan al die nasies sal bring.  Ons het nodig om Psalm 1 te bid rondom ons eie verbintenis aan God.  Maar ons het regtig nodig om Psalm 2 met hernude oorgawe te bid ter wille van ‘n wêreld se verbintenis aan God, en om ons self te herinner daaraan dat ons God mag vertrou, al smee die nasies planne en al is daar onrus onder die volke.

Johannes maak ook baie in sy evangelie van die verhouding van Vader-kind wat tussen God en ons tot stand kom in Jesus (Joh 1:12; 1 Joh 3:1), waarmee hy die Psalm se boodskap op ‘n baie persoonlike manier van toepassing maak. So ook Paulus in Romeine 8.

Terloops, vers 12 se eerste frase: “en Hom onderdanig wees” is ‘n vertaling van die oorspronklike Hebreeus wat só lui: “en soen die Seun”.  Dit was ‘n teken van onderdanigheid (as jy iemand se voete gesoen het) of vriendskap soos ‘n mens meermale teëkom (2 Sam 14:14; 15:5 – hoewel Absalom dit hier met slegte bedoelings gedoen het, soos ook Judas dit met Jesus gedoen het – Luk 2:48).

TT Cloete verwoord dit so:

1. Waarom stig volke opstand teen die Heer

en word teen sy gesalfde saamgespan ?

Hul sê , as hulle dié gesag trotseer :

” Werp af dié juk en raak bevry daarvan .”

2. Die Heer wat hoog daar in die hemel woon ,

Hy lag hul uit en Hy maak hul tot spot .

Hul gaan op loop , dié vorste wat Hom hoon ,

Hy maak ‘n nietigheid van hul komplot .

3. Die oproermakers word deur God vermaan :

” Ek het die koning immers sélf gekroon ,

daar op my berg wat hoog en heilig staan ,

daar heers hy , my gesalfde , op sy troon .”

4. ” Jy is my seun ,” het Hy vir my gesê .

” Jy kry die volke as besit van My .

Hul sal in skerwe voor jou septer lê ,

hul sal verbrokkel soos ‘n pot van klei .”

5. O heersers van die aarde gee dan ag ,

want julle moet Hom onderdanig wees ;

die Here moet gedien word met ontsag ,

eerbiedig , en met siddering en vrees .

6. Kom eer die Here en kom buig voor Hom .

Keer so dat Hy vertoorn op julle raak ,

keer dat die Heer se woede oor jul kom .

Wie by Hom skuil , sal Hy gelukkig maak .

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: