Psalm 44 – Kom ons tog te hulp in ons ellende

Hierdie Psalm is ’n roerende liturgie (maskîl) van die geloofsgemeenskap na ’n vernietigende (ongeïdentifiseerde) nederlaag teen hulle vyande wat hulle verstrooid gelaat het onder die nasies (vers 12) en verbysterd onder die minagting van hulle vyande (vers 14).  Afwisselend verwoord die Psalm die gebed van die voorganger, waarskynlik die koning self, in persoonlike formaat (vers 5, 6, 16-17 – in die eerste persoon: ek,my) en die gebed van die Koragitiese voorganger(s) namens die gemeenskap (die res van die Psalm – in die derde persoon: ons).   Dié Psalm is dus doelbewus vir verskillende “stemme” geskryf om dit liturgies in die geloofsgemeenskap te gebruik, sodat almal kon deelneem.

Die Psalm is opgebou uit drie dele: ’n Terugblik na die verlede, ’n evaluering van hulle huidige nood en ’n gebed om hulp en verandering vir die toekoms.

1.  ’n Herinnering aan God se betrokkenheid in die verlede – vers 2-9

Die Psalm bring die glorieryke verlede van God se groot dade vir sy volk in herinnering waardeur Hy hulle ’n vaste woonplek gegee het en die nasies se mag verbreek het (vers 2-3).  Die koning bely dat hierdie oorwinning(s) nie deur die volk se eie mag behaal is nie, maar deur God se krag, mag en teenwoordigheid.  Met verlangende verwondering spel hy God se motivering vir hulp uit: “omdat U hulle liefgehad het.” (vers 4).

God se betrokkenheid in die verlede word dus in herinnering geroep as basis vir die gebed om uitkoms na die nederlaag teen hulle vyande: “Gee tog aan Jakob se nageslag die oorwinning.  Met u hulp sal ons ons teëstanders verslaan …” (vers 5-6).

2.  ’n Roerende klaaglied oor die skande en veragting wat hulle nou getref het – vers 10-23

Saam, onder begeleiding van die Koragiete (vers 1), rou hulle oor die skande van die nederlaag (vers 16), veral omdat dit hulle ervaring van God se krag, mag en teenwoordigheid afgesny het (vers 4).  Hulle het die ervaring dat hulle deur God verstoot is (“Tog het U ons nou verstoot …” – vers 10) en bely dat dit ten diepste die rede is waarom hulle die onderspit gedelf het in die oorlog teen hulle vyande (vers 11-17).

Wat die ontsetting van hulle ervaring so onverstaanbaar maak, is dat dit gebeur het terwyl hulle God nie vergeet het nie, nie aan die verbond ontrou was nie, nie afvallig geword het nie en nie van sy pad afgewyk het nie (vers 18-20).  Hiermee word die persoonlike klaaglied van Job geëggo in dié ervaring en lyding van die geloofsgemeenskap.

3.  ’n Smeekgebed om hulp in hulle ellende – vers 24-27

Desnieteenstaande verenig hulle steeds in ’n verdere smeekgebed om hulp en pleit by die Here (Jahwe), die Verbondsgod, om hulle “nie vir altyd” te verstoot nie (vers 24) en nie sy rug op hulle te draai en Hom nie aan hulle ellende te steur nie (vers 25).  Uitkoms is net moontlik van God self, selfs al kan hulle die ellende waarin hulle verkeer nie verklaar nie.  Om die waarheid te sê, die verklaring vir hulle ellende is minder belangrik as die verlossing daarvan en daarvoor bid hulle eendragtig saam.  God se weë is vol van misterie en die geloofspad is om te volhard in die vashou aan God ten spyte van die onbegrip vir sy oënskynlike afwesigheid.

Let op hoe God se universele naam deurgaans gebruik word in die Psalm om daarmee sy soewereine mag oor alles en almal wat leef en beef te bevestig, maar dat die dieptepunt van die gebed om hulp in vers 24-27 aan die Here (Jahwe) gerig word, die persoonsnaam van God.  Daarmee word aan die een kant God, die Here, se persoonlike verbintenis aan die volk van Jakob (vers 5) uitgedruk, maar aan die ander kant ook die geloofsgemeenskap se verbintenis aan God bevestig.  Hulle smeekgebed maak ook staat op dieselfde motivering wat in vers aangehaal is, dat die Here se troue liefde uit sy bevryding sal blyk.

Betekenis

Dit is duidelik dat hierdie Psalm ’n groot rol gespeel het in die vorming van Paulus se verwoording van God se betrokkenheid in lyding, soos hy dit op so ’n onvergelyklike wyse uitspel in Romeine 8 veral van vers 26-36.  In sy loflied op God se prysgawe van Christus ter wille van ons (8:31-36), vind Paulus in hierdie Psalm die bevestiging dat niks ons van die liefde van God kan skei nie, selfs al gebeur dit dat ons ter wille van Christus deur die dood bedreig word en ons soos slagskape behandel word.  In Rom 8:36 haal Paulus dan Ps. 44:23 aan om sy punt te staaf.  Lees dit gerus hier in sy volle konteks:

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:

‘Dit is oor U dat die dood

ons dag vir dag bedreig,

dat ons soos slagskape

behandel word.’

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Oorwinning lê nie in die afwesigheid van lyding nie, en bestaan nie net in die ervarings van voorspoed en sukses nie.  Oorwinning lê in die ervaring van die liefde van Christus Jesus, ons Here.  Niks kan ons daarvan skei nie, en dít is die tipe oorwinning waarvan Paulus praat.

En let op dat Christus HERE genoem word, presies dieselfde woord wat vir God gebruik word in Ps 44:24 in die smeekgebed van die OT geloofsgemeenskap.  Dit is hierdie tipe verwysings en ooreenkomste tussen Jahwe van die OT en Jesus van die NT wat teoloë soos NT Wright (The Challenge of Jesus) die volgende standpunt laat formuleer: “the Old Testament portrait of YHWH (Jahwe) fits Jesus like a glove”.

Trouens, soos die Gees vir ons intree (Rom 8:26-30), só doen Christus dit ook vir ons.  Christus is eintlik ons eerste Voorspraak, die een wat by God is en onverhinderde toegang tot die Vader het.  Die Heilige Gees is die tweede, die Een wat by ons is en in ons bid om verlossing en verandering, ‘n verandering wat eers volledig sal aanbreek met die nuwe hemel en aarde.

Met hierdie perspektief van Paulus op die Psalm kan ek met meer oorgawe my rus vind in die gedagte dat ons in alles oorwinnaars is, al bly sommige goed ‘n misterie en onverklaarbaar.  En ek kan met meer oorgawe bely dat alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet (Rom 8:26).

Laat die gedagtes jou eie geloofsverbintenis aan God nie net bevestig nie, maar jou hoop op (die finale) uitkoms aanvuur.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: