Skip to main content

Psalm 44 – Kom ons tog te hulp in ons ellende

Hierdie Psalm is ’n roerende liturgie (maskîl) van die geloofsgemeenskap na ’n vernietigende (ongeïdentifiseerde) nederlaag teen hulle vyande wat hulle verstrooid gelaat het onder die nasies (vers 12) en verbysterd onder die minagting van hulle vyande (vers 14).  Afwisselend verwoord die Psalm die gebed van die voorganger, waarskynlik die koning self, in persoonlike formaat (vers 5, 6, 16-17 – in die eerste persoon: ek,my) en die gebed van die Koragitiese voorganger(s) namens die gemeenskap (die res van die Psalm – in die derde persoon: ons).   Dié Psalm is dus doelbewus vir verskillende “stemme” geskryf om dit liturgies in die geloofsgemeenskap te gebruik, sodat almal kon deelneem.

Die Psalm is opgebou uit drie dele: ’n Terugblik na die verlede, ’n evaluering van hulle huidige nood en ’n gebed om hulp en verandering vir die toekoms.

1.  ’n Herinnering aan God se betrokkenheid in die verlede – vers 2-9

Die Psalm bring die glorieryke verlede van God se groot dade vir sy volk in herinnering waardeur Hy hulle ’n vaste woonplek gegee het en die nasies se mag verbreek het (vers 2-3).  Die koning bely dat hierdie oorwinning(s) nie deur die volk se eie mag behaal is nie, maar deur God se krag, mag en teenwoordigheid.  Met verlangende verwondering spel hy God se motivering vir hulp uit: “omdat U hulle liefgehad het.” (vers 4).

God se betrokkenheid in die verlede word dus in herinnering geroep as basis vir die gebed om uitkoms na die nederlaag teen hulle vyande: “Gee tog aan Jakob se nageslag die oorwinning.  Met u hulp sal ons ons teëstanders verslaan …” (vers 5-6).

2.  ’n Roerende klaaglied oor die skande en veragting wat hulle nou getref het – vers 10-23

Saam, onder begeleiding van die Koragiete (vers 1), rou hulle oor die skande van die nederlaag (vers 16), veral omdat dit hulle ervaring van God se krag, mag en teenwoordigheid afgesny het (vers 4).  Hulle het die ervaring dat hulle deur God verstoot is (“Tog het U ons nou verstoot …” – vers 10) en bely dat dit ten diepste die rede is waarom hulle die onderspit gedelf het in die oorlog teen hulle vyande (vers 11-17).

Wat die ontsetting van hulle ervaring so onverstaanbaar maak, is dat dit gebeur het terwyl hulle God nie vergeet het nie, nie aan die verbond ontrou was nie, nie afvallig geword het nie en nie van sy pad afgewyk het nie (vers 18-20).  Hiermee word die persoonlike klaaglied van Job geëggo in dié ervaring en lyding van die geloofsgemeenskap.

3.  ’n Smeekgebed om hulp in hulle ellende – vers 24-27

Desnieteenstaande verenig hulle steeds in ’n verdere smeekgebed om hulp en pleit by die Here (Jahwe), die Verbondsgod, om hulle “nie vir altyd” te verstoot nie (vers 24) en nie sy rug op hulle te draai en Hom nie aan hulle ellende te steur nie (vers 25).  Uitkoms is net moontlik van God self, selfs al kan hulle die ellende waarin hulle verkeer nie verklaar nie.  Om die waarheid te sê, die verklaring vir hulle ellende is minder belangrik as die verlossing daarvan en daarvoor bid hulle eendragtig saam.  God se weë is vol van misterie en die geloofspad is om te volhard in die vashou aan God ten spyte van die onbegrip vir sy oënskynlike afwesigheid.

Let op hoe God se universele naam deurgaans gebruik word in die Psalm om daarmee sy soewereine mag oor alles en almal wat leef en beef te bevestig, maar dat die dieptepunt van die gebed om hulp in vers 24-27 aan die Here (Jahwe) gerig word, die persoonsnaam van God.  Daarmee word aan die een kant God, die Here, se persoonlike verbintenis aan die volk van Jakob (vers 5) uitgedruk, maar aan die ander kant ook die geloofsgemeenskap se verbintenis aan God bevestig.  Hulle smeekgebed maak ook staat op dieselfde motivering wat in vers aangehaal is, dat die Here se troue liefde uit sy bevryding sal blyk.

Betekenis

Dit is duidelik dat hierdie Psalm ’n groot rol gespeel het in die vorming van Paulus se verwoording van God se betrokkenheid in lyding, soos hy dit op so ’n onvergelyklike wyse uitspel in Romeine 8 veral van vers 26-36.  In sy loflied op God se prysgawe van Christus ter wille van ons (8:31-36), vind Paulus in hierdie Psalm die bevestiging dat niks ons van die liefde van God kan skei nie, selfs al gebeur dit dat ons ter wille van Christus deur die dood bedreig word en ons soos slagskape behandel word.  In Rom 8:36 haal Paulus dan Ps. 44:23 aan om sy punt te staaf.  Lees dit gerus hier in sy volle konteks:

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:

‘Dit is oor U dat die dood

ons dag vir dag bedreig,

dat ons soos slagskape

behandel word.’

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Oorwinning lê nie in die afwesigheid van lyding nie, en bestaan nie net in die ervarings van voorspoed en sukses nie.  Oorwinning lê in die ervaring van die liefde van Christus Jesus, ons Here.  Niks kan ons daarvan skei nie, en dít is die tipe oorwinning waarvan Paulus praat.

En let op dat Christus HERE genoem word, presies dieselfde woord wat vir God gebruik word in Ps 44:24 in die smeekgebed van die OT geloofsgemeenskap.  Dit is hierdie tipe verwysings en ooreenkomste tussen Jahwe van die OT en Jesus van die NT wat teoloë soos NT Wright (The Challenge of Jesus) die volgende standpunt laat formuleer: “the Old Testament portrait of YHWH (Jahwe) fits Jesus like a glove”.

Trouens, soos die Gees vir ons intree (Rom 8:26-30), só doen Christus dit ook vir ons.  Christus is eintlik ons eerste Voorspraak, die een wat by God is en onverhinderde toegang tot die Vader het.  Die Heilige Gees is die tweede, die Een wat by ons is en in ons bid om verlossing en verandering, ‘n verandering wat eers volledig sal aanbreek met die nuwe hemel en aarde.

Met hierdie perspektief van Paulus op die Psalm kan ek met meer oorgawe my rus vind in die gedagte dat ons in alles oorwinnaars is, al bly sommige goed ‘n misterie en onverklaarbaar.  En ek kan met meer oorgawe bely dat alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet (Rom 8:26).

Laat die gedagtes jou eie geloofsverbintenis aan God nie net bevestig nie, maar jou hoop op (die finale) uitkoms aanvuur.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda