Skip to main content

Psalm 71 – Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie

Die Psalmis het die voordeel om God se betroubaarheid oor ’n baie lang tyd te kon ervaar.  Dit bring ’n sekerheid en vertroue wat nie so maklik deur die negatiewe ervaringe van die lewe beïnvloed word nie.  In enige geloofsgemeenskap moet dié ervarings, wat die toets van die tyd deurstaan het, gekoester word, ter wille van die behoud van só ’n gemeenskap.  Ek onthou nog goed die getuienis van tannie Phoebe Kellerman, amper vyftig jaar my senior, uit my jong dae as predikant in Somerstrand … en die rustigheid wat dit by my ingeboesem het.

Drie van die sentrale metafore wat die Psalmis gebruik om dié Godsbeeld mee uit te druk, is dié van ’n rots (vers 3) ’n vesting (vers 3) en ’n veilige toevlug (vers 7) wat verband hou met die gebruik in antieke tye om asiel te soek in ’n heiligdom (Eks 21:13).  God is as’t ware die veilige ruimte waar van die aanslae van die lewe geskuil kan word.

Die Psalm kan in drie dele opgedeel word wat losweg met verlede, hede en toekoms verband hou:

  • Wees vir my ’n rots om na toe te vlug, soos altyd in die verlede – vers 2-8.  Hy kan dit vra, want die Here is sy vertroue van jongs af (vers 5).  Trouens hy is vir ander ’n wonder (vers 7) weens God se sorg vir hom.  God se sorg aan hom funksioneer as ’n teken van God se ingrype.  Hy is daarom as sodanig eintlik ’n wonder, ’n teken van God self.  Let egter op dat hy nie uiteindelik op sy eie vertroue of God se wonderwerke staatmaak vir sy behoud nie.  “U is” nie net, “my hulp van my geboorte af” nie, maar, “reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.” (vers 6).  God se genade in die verlede is die grond van sy bestaan, die rede vir sy vertroue, die motivering om op God te bly staatmaak.
  • Moet my tog nie in die hede verwerp nou dat ek oud geword het nie – vers 9-17.  Die Psalmis baseer sy gebed vir hulp in die hede op die feit dat God hom nog nooit in die steek gelaat het nie.  Veral sy tanende kragte en ouerwordende gestalte moet tog nie in die pad staan van God se hulp nie, veral nie omdat dit nou deur sy vyande misbruik word om hom te na te kom en komplotte teen hom te sweer.  Sy gebed is dat dié wat sy ondergang soek, eerder in die skande en mislukking kom.  Sonder ophou sal hy dan van God se reddingsdade bly praat en as ’n teken van God se teenwoordigheid op aarde bly funksioneer.
  • Moet my tog nie alleen laat nie, ter wille van die geslagte wat kom in die toekoms – vers 17-24.  Hy herhaal sy gebed dat sy oudheid en grysheid nie teen hom sal tel nie, maar gee hier ’n ander motivering daarvoor.  Dít is, dat die geslagte wat nog kom, sy kleinkinders bv., ’n lewende getuie van God se verlossingswerk in die toekoms sal kan sien en saam met hom kan sê: “Wie is soos U, o God?” (vers 19).  Vers 20 is baie spesiaal vir my: “U het talle benoude ervaringe oor my gebring, maar elke keer weer my lewe gered.” Dit stem ooreen met Paulus se gedagte in Romeine 2:9: “Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood.” Gelukkig staan daar darem in vers 10-11 die volgende: “Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goeddoen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood.  God trek immers niemand voor nie.”  Daarom bid die Psalmis vir uitkoms, sodat hy kan voortgaan om te sing tot God se eer en die hele dag deur te praat van Sy verlossingswerk.
View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar