Psalm 46 – Bedaar en erken dat Ek God is

Hierdie Psalm is ‘n kleinood in die nadenke van die geloofsgemeenskap oor die teenwoordigheid van God in ons nood.
  • Dit geld vir die ervaring van die kragte van die natuur hetsy werklik of as metafoor vir ons worstelstryd met allerlei.  Hy is altyd bereid om te help (vers 2-4) omdat Hy die Skeppergod is wat alles gemaak het.
  • Dit geld ook die aanslae van nasies teenoor mekaar regdeur die geskiedenis waarin die belydenis van God se teenwoordigheid telkens rus bring midde-in die nood (vers 5-8).  God is dus ook die God wat die geskiedenis in sy hand hou.
  • Dié nadenke sluit ook telkens die vasgryp aan die (eskatologiese) droom dat God uiteindelik sy vredesryk volledig tot vervulling sal bring op die aarde (vers 9-12). God is ook die God van die toekomstige herskepte wêreld.

Maarten Luther het daarom dié Psalm as inspirasie gebruik om sy aangrypende lied te skryf: “’n Vaste burg is onse God.” Die Liedboek van die NG Kerk het ‘n verwerking in Liedboek 476 daarvan, en die bekende melodie word ook vir Psalm 27 en Liedboek 477: “Hou Christus self sy kerk in stand”, gebruik.

Dit is weereens ‘n Psalm van die Koragiete wat in drie dele gedig is.

Vers 2-4

Die agtergrond vir dié eerste deel van die Psalm word nie aan ‘n presiese natuurlike gebeurtenis verbind word nie, hoewel dit duidelik ‘n aardskuddende ervaring was.  Om die waarheid te sê, die omvang daarvan word met ‘n kosmiese katastrofe vergelyk waarin die grond en die berge padgee en in die druisende skuimende see gestort word (vers 3-4).  Dit kan daarom ook ’n metafoor wees vir die persoonlike worsteling met nood en lyding.

Dit is binne sulke “einde van die wêreld” ervarings waarin die Psalmis bely dat God steeds ‘n toevlug en ‘n beskerming bly en ervaar dat Hy, soos altyd, bereid is om te help in nood (vers 2).  Soos Hy aanvanklik die chaos-magte oorwin en orde in die chaos gebring het, só kan Hy dit steeds vir sy mense doen.

Vers 5-8

Die Psalm is egter ook nie net ‘n viering van God se verlossing uit haglike omstandighede nie, maar ook ‘n viering van Sy vaste teenwoordigheid in die Godstad en heilige woning (vers 5), waarmee sy keuse vir Sion bevestig word, soos ook met die volgende 2 Psalms die geval is.  Die vrede en blydskap van Jerusalem te die midde van chaos word besing, omdat God daar is en die stad nie sal wankel nie (vers 6).  Nasies kan dus raas en koninkryke wankel in die loop van die geskiedenis, maar God bly vir die Godsvolk ‘n beskutting (vers 7-8).  Hy is immers ook die God van die geskiedenis.

Let op hoe die “strome van die rivier” in vers 5 gekontrasteer word met die “waters van die see” in vers 4 as ‘n simbool van God se verkwikkende teenwoordigheid in kontras met die onstuimigheid van die chaosmagte.  Die “strome” verwys waarskynlik na die fontein van Gihon wat Hiskia deur ‘n tonnel na Jerusalem gebring het (2 Kron 32:20 – vergelyk ook die rol wat dié kanaal speel in die gesprek van Jesaja met Agas in Jes 7).

Vers 8 en 12 is waarskynlik die antwoord van die geloofsgemeenskap waarmee hulle telkens hulle geloof in God bevestig het in antwoord op die mededelings van die voorgangers: “Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.”  Deur die frase te herhaal, is die belydenis van God se beskutting ingeskerp en bevestig vir die geloofsgemeenskap.

Vers 9-12

Die laaste deel van die Psalm praat van die omvattende vrede wat God op die aarde tot stand gaan bring, wat weereens lyk na ‘n “einde van die wêreld” ervaring waarvan onder andere die profete (bv. Jes 2:4) ook skrywe.  Dit is met dié toekomsvisie wat die Psalmis dan in vers 11 verklaar: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.”  Want God is ook die God van die toekoms.

Ons het vandag – nog meer as in die Psalmis se tyd – nodig om dié belydenis met groter erns vas te hou dat God God is.  Dit sal ons die moed gee om midde-in ons ervarings van pyn en lyding onder die chaos- en strydmagte standvastig vol te hou om die Here te bly dien.

Dit sluit ook in dat ons ernstig vra dat God uiteindelik ‘n berusting vir die hele aarde gaan bring, dat Hy sy belofte ’n werklikheid sal laat word, die belofte dat die moorddadigheid en oorlogsugtigheid wat só wyd verspreid voorkom, nie net in ons eie land nie, tot rus sal kom.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: