WEEK 1: Inleiding op die Psalms – God is die sin en betekenis van die lewe

Welkom!

Ek plaas hierdie week ‘n paar inleidende bydraes in voorbereiding vir ons leeswerk in die Psalms:

  • (vandag) Donderdag 13 Oktober – Indrukwekkende versameling geestelike liedere
  • Vrydag 14 Oktober – Psalms ingedeel in vyf Psalmboeke
  • Maandag 17 Oktober – Historiese raamwerk
  • Dinsdag 18 Oktober – Teologiese temas, soorte Psalms en Jesus in die Psalms
  • Woensdag 19 Oktober – Samestelling van Psalms 1-41, leesplan en Lectio Divina

Geniet!

Indrukwekkende versameling geestelike liedere

Die Psalms is ’n indrukwekkende versameling van geestelike liedere.  Dit is ‘n “boek van lofliedere” soos die Hebreeuse titel Tehillîm dit stel (in Grieks Psalmoi).  Dit sing in Psalm 1 van die vreugde om in God se teenwoordigheid soos ’n boom te floreer, en eindig met ’n oproep in Psalm 150 dat alles wat asem haal die Here moet prys.  Die mens en die skepping vind sy doel en bestemming in die lewe saam met God.  Aan die een kant beleef ons sin in gehoorsaamheid aan God (Ps 1) en aan die ander kant in die uitbundige lof aan God (Ps 150).  Dit is ook net die gehoorsame wat God regtig kan loof!

Elke Psalm is aanvanklik onafhanklik geskrywe om uitdrukking te gee aan die Godsbelewenis van individue sowel as die gemeenskap van gelowiges, soos bv. nodig was in die tempel liturgie (1 Kron 25).  Meesal word God self aangespreek, hoewel die gemeenskap van gelowiges ook soms aangespreek word (Psalm 33, 37), selfs onderrig word (Psalm 1), en sommige liedere dele bevat wat ook as selfgesprek bedoel is (Psalm 42:6,12; 43:5).  Elke Psalm het dus ’n eie betekenis en perspektief op die ervarings met en van God.

Die belangrikste funksie van die onderskeie Godsliedere was om gesing of gelees te word om te pas by ’n spesifieke ervaring of geleentheid.

  • Die Pelgrimsliedere (120-134) was bedoel om met die reis na die tempel in Jerusalem gesing te word om die verlange na God (121), die gebed vir Jerusalem (122), die belydenis van afhanklikheid van God (123), die gebed om beskerming van God (125) te verwoord.
  • Die Lofpsalms (103-107) was bedoel om in die liturgie van die (tweede) tempel die volk te begelei in hulle lofprysing.
  • Die Klaagpsalms (bv 37) en Boetepsalms (bv 51) was bedoel om in moeilike tye troos, uitkoms en vergifnis te vra, hetsy vir die volk of vir ’n individu.

Die Psalmboek (soos Jesus en Petrus daarna verwys: Luk 20:42; Hand 1:20) bevat dus in sy huidige indeling 150 Psalms wat ’n wye verskeidenheid van situasies in die geestelike lewe reflekteer.  Dit is die mees praktiese boek in die Bybel, omdat dit ons leer hoe om te bid, hoe om te leef, en hoe om God te loof.  Op die koop toe help die Psalms ons op onvergelyklike wyse met die emosies wat ons oor die hele spektrum van die lewe ervaar.   Dit spreek nie net ons intellek aan (kognitief), of leer ons hoe om gehoorsaam te wees nie (konatief).  Dit help ons ook om emosioneel gesond voor God te lewe (affektief).

Soos die Psalmboek na die terugkeer uit die ballingskap saamgestel is om as Liedboek van die volk in die tempel en sinagoges gebruik te word in die liturgie (Esra 2:65; 3:10-13 – 200 sangers en sangeresse het teruggekom na die ballingskap en die volk begelei met trompette en simbale!), só is dit ook vir ons vandag die Liedboek wat vir ons eie praktiese persoonlike geestelike lewe sowel as vir die gemeente in die liturgie gebruik kan word.

Om regtig met aandag die Psalms nie net weer te begin lees nie, maar veral te begin bid en te sing, sal ons help om dieper met God om te gaan, en dit met die woorde wat Hyself vir ons gegee het om te gebruik.  Die Psalms help ons om van ‘n oor-God gesprek na ‘n met-God gesprek te beweeg.  Die Psalms sal jou keer om in ’n oppervlakkige en vervelige manier van bid te verval, en jou gemeenskap met God verdiep om nie net jou eie emosies en gedagtes nie, maar ook die ervarings van die hele lewe in te sluit in jou lewe voor en met God.
View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: