Skip to main content

Psalm 59 – Breek hulle stadig af deur u mag

Die derde Psalm in die reeks, Ps. 57-59, wat op die wysie van “Moenie verwoes nie” vir die koorleier aangedui word, word verbind met die verhaal van Saul wat opdrag gegee het dat Dawid se huis omsingel word om hom dood te maak.  Dit is dus ’n diep persoonlike Psalm in ’n situasie van groot gevaar.  Telkens word die historiese situasie egter ook wyer geïnterpreteer as metafoor vir die bedreiging van die nasies (vers 6,9) en het die Psalm ook betekenis vir die geloofsgemeenskap (vgl. die meervoud in vers 12 “ons Beskermer” en die hoop op die universele getuienis van God se verlossing in vers 14).

Dawid en Mikal

Ons vind dié verhaal in 1 Sam 19, terwyl Dawid nog vir Saul in sy huis op die lier gespeel het.  Saul het dié dag met sy spies in sy hand gesit toe ”’n boosaardige gees wat deur die Here gestuur is,” oor Saul gekom het, en hy geprobeer het om Dawid met die spies dood te maak.  Dawid het egter gekoes en gevlug vir sy lewe na sy eie huis.  Saul het toe van sy mense na Dawid se huis toe gestuur “om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak.”

Dawid se vrou Mikal, Saul se dogter, het hom egter gewaarsku dat hy moet vlug anders word hy doodgemaak.  Sy het hom deur die venster laat afsak en hy het só ontsnap. Mikal het gemaak asof hy nog daar is en ‘n afgodsbeeld op die bed met ’n bokhaarnet om die kop gedraai en dit met ’n kombers toegemaak. Toe Saul se mense vir Dawid die volgende oggend kom soek, het sy gesê hy is siek.  Saul het hulle egter beveel om hom met bed en al na hom te bring sodat hy Dawid kon doodmaak.  Toe eers het hulle agter gekom Dawid is weg.  Saul was baie kwaad vir Mikal, maar sy het sy gramskap ontwyk deur Dawid te beskuldig dat hy haar met die dood gedreig het.

Mikal se lewe verloop hierna baie tragies en haar verhouding met Dawid versuur rampspoedig.

  • Saul gee haar aan ‘n ander man, Palti die seun van Lajis uit Gallim (1 Sam 25:44), maar met Dawid se uiteindelike kroning ‘n paar jaar later eis hy haar weer terug van Palti.  Roerend word daar oor Palti se hartseer geskryf toe Isboset vir Abner gestuur het om Mikal by hom weg te vat: “Hy het saam met sy vrou geloop, huil-huil agter haar aan tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom: ‘Gee pad! Loop terug!’ Hy het toe maar omgedraai.” (2 Sam 3:16).
  • Mikal was duidelik ook nie tevrede met dié toedrag van sake nie en vervies haar op ’n keer vir Dawid toe dié voor die ark uitgeloop en dans het en spreek haar misnoeë daarmee uit, waarop hy haar tot haar dood vermy het.  En tot die dag van haar dood het Saul se dogter Mikal nie ’n kind gehad nie.” (2 Sam 6:23).

Haar houding teenoor Dawid verander van baie verlief (1 Sam 18:20) na ’n diep veragting (1 Kron. 15:29) en hulle verhouding van een van beskerming (1 Sam 19) na een van verwydering (2 Sam 6:23).  Tragies.

Uitleg

Die Psalm is ’n diep persoonlike worsteling van Dawid met die geweld van sy vyande terwyl hy nêrens oortree het nie.  “Ek is onskuldig en tog bestorm hulle my.”  Telkens word die gevaar van die nasies egter bygetrek waarmee die Psalm ook betekenis vir die geloofsgemeenskap gekry het.

Die Psalm kan in drie dele verdeel word: vers 2-6, vers 7-14, vers 15-18 – onder andere as gevolg van die Selas, asook die herhalende inhoud van vers 7 en 15 wat telkens ’n nuwe deel van die Psalm inlei:

  1. Red my van my vyande, my God – vers 2-6.  Dawid bid vir God se hulp om hom te red, beskerm en bevry van sy vyande en teëstanders, mense wat onreg doen en moord wil pleeg.  Dawid is ontsteld omdat hy nie oortree het nie en hulle hom onskuldig bestorm en aanval.  Anargie heers.  Daarom vra hy hulp van God.  Let op hoe hy God met ’n omvattende beskrywing aanspreek: “U is die Here God, die Almagtige, die God van Israel!”  Daarmee fokus hy vervolgens op God se hulp ook vir die gevaar van die nasies: “Moenie genade betoon aan sulke lae verraaiers nie.”  Harde woorde!
  2. Breek hulle stadig af deur u mag en laat hulle ondergaan – vers 7-14.  Dawid vergelyk die vyande met grommende skuimende-mond honde wat hom omsingel.  Hy put krag uit God se spottende houding teenoor hulle, waarin hy uit Psalm 2 aanhaal, en daarmee ook die nasies weer in spel bring.  Op God wil Dawid sy hoop gevestig hou, want Hy is sy veilige vesting.  Interessant genoeg wil hy nie hê dat die vyande/nasies eensklaps uitgewis sal word nie, maar eerder stadig, sodat hulle straf nie ongemerk sal verbygaan nie en almal terdeë daarvan bewus sal kan wees.  Hy vra ook dat hulle eintlik met hulle eie woorde en houding gevang sal word, sodat dit duidelik blyk dat hulle hul straf verdien.  Nogal ’n interessante perspektief.   ’n Skielike dood sou vermoedelik die gevaar kon inhou dat mense vir hulle jammer kon voel, inplaas daarvan om terdeë bewus te wees van die regverdigheid van hulle lotsbestemming, juis vanweë die stadige verloop van die proses.  “Dan sal almal weet dat God oor sy volk Jakob en oor die hele aarde regeer.” Nogal ’n belangrike perspektief wat rekening hou met die voordeel van die wiele van geregtigheid wat stadig draai …
  3. U is my veilige vesting – vers 15-18.  Weereens word die vyande met honde vergelyk met die byvoeging dat hulle aan die tjank gaan as hulle nie genoeg kry nie!  Let ook op dat hulle werk in die donker gedoen word.  Daarteenoor sal Dawid elke môre teenoor God jubel, want hy is ’n kind van die dag.  God is vir hom ’n veilige vesting (twee keer herhaal om dit te beklemtoon).  Daarom wil hy God se eer en trou besing.

Dít is ’n Psalm om te gebruik in tye van groot aanvegting, veral in persoonlike krisisse, maar ook wanneer ’n gemeenskap onder beleg is van anargie en wetteloosheid.  Onthou dat die Psalm vir jou “woorde vir jou woede” gee, maar dat jou gebed vir jou vyande uiteindelik eerder hulle transformasie in die oog het.  “Laat hulle ondergaan” kan dan gebid word as “laat hulle dade ondergaan” terwyl steeds vir die inkeer van die vyande en die omkeer van die uitwerking van hulle dade gebid word.  En onthou dat daar voordele is in die wiele van geregtigheid wat stadig draai.  Die impak van die verandering is groter as dit langsamerhand tot stand kom. Geduld en vertroue is die wagwoord!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…