Skip to main content

Psalm 54 – God red my uit elke benoudheid

Die verraad van die Siffiete

Hierdie kort Psalm van Dawid word gekoppel aan die verraad wat die Siffiete teen hom gepleeg het toe hy op ’n keer vir Saul in die Sifwoestyn by Goresa, op die Gakilarant suid van hierdie onherbergsame gebied, weggekruip het (1 Sam 23:19-28).  Dit was net na Saul en Doëg die priesters van Agimelek in Nob uitgewis het.  Abjatar, Agimelek se seun, was die enigste wat ontkom het en het homself by Dawid geskaar.  Abjatar het Dawid regdeur sy lewe geestelik ondersteun deur die Here vir hom te raadpleeg.  Dit was juis as gevolg van Abjatar se raad dat Dawid van Keïla na die Sifwoestyn gevlug het (1 Sam 23:6-15).

Abjatar was nie die enigste wat Dawid ondersteun het nie.  In dieselfde hoofstuk van Samuel word die hernuwing van die verbond tussen Jonatan, Saul se seun, en Dawid vermeld by Goresa in die Sifwoestyn (1 Sam 23:16-18).  Ironies dat Jonatan van Dawid se skuilplek geweet het, maar dat Saul die Siffiete nodig gehad het om Dawid te kon opspoor.

Die Siffiete se verraad was egter nie suksesvol nie, want toe Saul en sy manskappe hom gaan soek, het Dawid na ‘n kliprant in die gebied gevlug in die Maonwoestyn, en daar het Saul die spoor verloor.  Trouens, Saul het vir Dawid aan die een kant van die berg gesoek, met Dawid en sy manne wat net aan die ander kant geskuil het. Voordat Saul egter verder kon soek, het daar ’n boodskapper vir Saul kom terugroep om ‘n Filistynse aanval in Israel te gaan afweer.  Die kliprant het dus in die volksmond die naam Skeidingsrant gekry.

Daar is ook ’n interessante woordspel tussen 1 Sam 23:15: “Dawid het bemerk dat Saul uittrek om sy lewe te soek,” (OAV) en Ps. 54:5: “geweldenaars soek my lewe” (NAV) wat dien om dié twee Skrifgedeeltes aan mekaar te verbind.

Uitleg

Die Psalm is, na die inleidende skets, ’n roerende klaaglied wat in twee dele verdeel is en afsluit met die reddende uitkoms in vers 9:

  1. Hoor my gebed en red my van my vyande – vers 3-5.  Die algemene naam van God, Êlôhîm, word 3 keer in die eerste deel van die klaaglied gebruik.  Dawid maak staat op God se regverdigheid om aan hom reg te laat geskied.  Hy herinner God ook aan die feit dat dié geweldenaars en vyande nie rekening hou met God nie.
  2. Vernietig hulle dat ek U goedheid kan loof – vers 6-8.  Die persoonsnaam van God, Jahwe, word 2 keer in die tweede deel van die klaaglied gebruik, om die intieme verhouding van Dawid met God uit te druk, teenoor die geweldenaars wat nie met Hom rekening hou nie.  Hy vra dat die onheil wat hulle beplan op hulle sal boemerang en God se getrouheid só sal blyk.  Let op dat die offers wat Dawid beplan, selfs meer sal wees as wat God van hom sou kon vra, omdat hy só sy dankbaarheid onomwonde teenoor God wil uitspreek.

Dawid loof aan die einde van die Psalm die feit dat die Here hom uit elke benoudheid gered het.  Dié ervaring van hom inspireer ons om God ook te vertrou vir elke benoudheid waarin ons verkeer.  Waar sy Naam in ’n situasie van benoudheid en onheil aangeroep word, laat Hy sy teenwoordigheid ken.

’n Mens sou tereg vrae kon vra oor die skerpheid van Dawid se oordeel oor sy vyande, veral in die lig van Jesus se gebod om juis die vyande lief te hê en sy besluit om die kruisdood vir sondaars te verduur.  Maar, Dawid se reslose vertroue op God se redding spreek steeds regdeur die eeue om ons te motiveer om God te vertrou, al sal ons nie meer op dieselfde wyse as hy teenoor ons vyande optree nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda