Psalm 63 – Ek bly altyd naby U

Ek soek U, o God, my God

Hierdie Psalm is vir baie van ons bekend deur die lied van Rhe Janse soos onder andere opgeneem deur Willie Joubert en Louis Britzz (FLAM 22):

1. Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.

2. As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:

Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe

As jy die lied ken, kan jy dit sing, of as jy dit op CD het, dit speel terwyl jy die Psalm lees, sodat dié Psalm jou die hele dag kan dra.

Dawid in die Judawoestyn

Die Psalm word in die eerste vers geassosieer met Dawid se verblyf in die Judawoestyn, die onherbergsame reënlose gebied tussen Jerusalem in die middel van die land en die Dooie See aan die oostekant.  Saul is steeds besig om hom aktief te vervolg (1 Sam 23-24).  Dit is egter ook die plek waar Moses se skoonfamilie, die Keniete, vroeër saam met die stam van Juda kom bly het en die bergland ingeneem het met die Intog in die land Kanaän (Rigt 1:16).  Dit is dus ook ’n plek waar God sy teenwoordigheid in die verlede aan sy voorsate laat blyk het.

Uitleg

Die Psalm is in twee dele geskryf, met vers 1 soos gewoonlik die inleiding:

  • Ek bly altyd naby U – vers 2-9.  Let op die diep behoefte wat Dawid aan God het wat hy uitdruk met werkwoorde soos soek¸ dors, en  smag.  Die woestyngebied waar hy is, raak vir hom ’n metafoor van sy lewe – sonder God is die lewe sonder enige fut en genot.  Hy wil eerder die hele lewe beleef in die teenwoordigheid van die Here, uitgedruk met die metafoor van die heiligdom.  Hy wil God se mag en grootheid ondervind, want God se troue liefde (gêsêd) is meer werd as enigiets anders wat die lewe kan bied.  Sy hele lewe moet ’n verheerliking van die Here wees, uitgedruk met die metafoor van sy hande wat saam met die geloofsgemeenskap opgehef word om God se naam te prys.  Hy wil van dié God sing wat sy goeie gawes met almal deel.  Dié gedagtes bring ’n groot berusting by hom in die verlatenheid van die woestyn, selfs as hy in die nag op sy bed aan God en Sy plan vir sy lewe nadink.  Want, selfs daar, ondervind hy dat God vir hom ’n hulp en beskerming is, uitgedruk met die metafoor van die vleuels van die gerubs wat in die heiligdom beskerming bied.  Daarom bly Dawid altyd naby God, onder die vleuels van sy teenwoordigheid, waar hy niks anders as God nodig het nie.
  • Laat elkeen Hom prys – vers 10-12.  Vanuit die ondersteuning wat Dawid beleef in sy meditasie oor God se liefde, hulp en beskerming, bid hy dat die mense wat sy ondergang soek sal wegsink in die dieptes van die aarde, dat hulle aan die swaard oorgegee en aas vir die jakkalse sal word – ’n gebed wat in Saul se geval uiteindelik beantwoord is (1 Sam 31).  Daarteenoor bid hy dat die Here hom as koning sal toelaat om hom in God te verbly, trouens dat almal hierdie voorreg om God te prys, sal kan beleef.  “Elkeen wat hom op die Here verlaat” moet God kan prys – dit is sy gebed.  Dawid herinner God dus aan die belofte dat hy koning sal word, maar dit gaan nie vir hom soseer oor die koningskap as sodanig nie.  Dit gaan oor die diep behoefte om in vryheid God se naam saam met ander te mag prys.  Na alles is dít immers die hoofdoel van die mens, “om God te verheerlik en vir ewig te geniet”, soos die Westminster Kategismus dit in sy eerste vraag en antwoord so diepsinnig stel.  Dit gee ons ook ’n perspektief op Dawid se gebed vir die dood van sy teëstanders.  Dit is nie dat hy per se wraakgierig is en hulle uit die weg wil ruim omdat hulle hom bedreig nie, maar omdat hulle die vrye aanbidding van die Here bedreig en niks in die pad daarvan mag staan nie.  Nogal iets om oor na te dink!

Die Psalm herinner ons daaraan dat daar ’n verhouding met God moontlik is wat só diep is, só bevredigend, só vervullend, dat dit die beste wat jy in die lewe kan ervaar, oortref en dat selfs die slegste wat met jou kan gebeur, dié verhouding met God nie kan versteur nie.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: