Die 2de Psalmboek (42-72): Bedaar en erken dat Ek God is

Die tweede Psalmboek fokus veral op die tema van die God as Koning van al die nasies en van die hele aarde (Ps. 46:11).  Dié tema word telkens aangeroer in die lig van die ervaring van geweldige teenstand van vyand(e) (Ps. 42:10; 43:2; 44:8,11,17; 54:5; 56:2; 59:2) en teëstanders (Ps. 42:11; 44:6,11), selfs van vriende (Ps. 54:14) wat verraderlik geword het.  Die vyande word beskryf as ’n godlose bende (Ps. 43:1), vals en misdadige mense (Ps. 43:1), geweldenaars (Ps. 54:5), en moordenaars en bedrieërs (Ps. 55:24).  Tussen-in is daar uiteraard ook ’n erkenning van persoonlike skuld  in die onvergelyklike Psalm 51 van Dawid.

Dit is interessant dat waar die gebruik van die persoonsnaam van God, Jahwe, in die eerste Psalmbundel  (Ps. 1-41) oorheers het (Jahwe 277 – Elohîm 48), word die algemene naam vir God, Elohîm, hier in die tweede Psalmboek (Ps. 42-72) veral gebruik (Elohîm 188 – Jahwe 31).  In die derde Psalmboek (Ps. 73-89) word dit min of meer dieselfde aantal keer gebruik (Elohîm 59 – Jahwe 43) en in die vierde (Ps. 90-106) en vyfde (Ps. 107-150) Psalmboek oorheers die gebruik van die persoonsnaam Jahwe weer (4de: Jahwe 101 – Elohîm 19; 5de: Jahwe 226 – Elohîm 28).

Die klem is dus in die tweede en derde Psalmboeke meer op God se mag en gesag oor alle mense, vanweë die gebruik van die algemene Godsnaam, Elohîm.  Daarteenoor was die klem in die eerste, vierde en vyfde Psalmboeke meer op God se verbondsverhouding met Israel, vanweë die gebruik van die persoons- en verbondsnaam van God, Jahwe.

Dit maak sin in die lig van die klem op die vyande, waarin die bure (Ps. 44:14) en die nasies (Ps. 46:7) en hulle konings (Ps. 48:5) ’n groot rol speel.  God se heerskappy oor alles wat leef, is dus ’n baie belangrike perspektief wat hoop gee en vrede en berusting bring, bv. in Ps. 46:11 – “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.” Let veral op dat dié Psalm ook nie net van berusting te midde van een of ander persoonlike krisis praat nie (soos baie mense geneig is om die Psalm te gebruik nie), maar van ’n berusting vir die hele aarde, waarin oorlogsugtigheid tot rus kom, ’n ware Messiaanse vredesryk.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: