Psalm 29 – Die God van die natuur sorg ook vir sy kinders

Psalm 29 is een van die Psalms wat God se teenwoordigheid in die natuur verheerlik – soos dit ook die geval is met Psalm 8 en 19.  Charles Spurgeon het gesê dat ’n mens moeite moet doen om hierdie Psalm in ’n donderstorm te lees, omdat jy dan dieper sal verstaan wat die Psalm probeer sê.

God se stem word hier met ’n aantal natuurverskynsels in donderstorms vergelyk om daarmee die inherente en allesveranderende krag van God oor te dra.  Volgens geleerdes is daar in hierdie Psalm sekere Kanaänitiese kenmerke sigbaar (die Baälgodsdiens was ‘n natuur-godsdiens) wat egter teologies radikaal geherinterpreteer is om Jahwe se heerskappy ook in die natuur te verkondig.  Baäl was bekend as die reëngod en is dikwels uitgebeeld met ’n weerligstraal in sy hand as wapen.

Teenoor die opvatting dat Baäl reën gee, bely die Psalm dat dit Jahwe is wat reën gee en dat onweer nie bloot dié van ’n groot natuurkrag of die stem van Baäl is nie, maar eerder die stem van die Here, wat ook op simboliese wyse die krag en oorvloed wat Hy vir sy volk gee, illustreer.  Daarmee word die suigkrag van die Baälgodsdiens vir die geloofsgemeenskap op teologiese wyse getroef.

Die Psalm sê dus dat die Here nie net die God van die geskiedenis is nie, soos die historiese Bybelboeke (Samuel, Konings) dit oorvloediglik uitspel nie, maar ook die God is van die natuur.  Die Psalm bely egter ook tereg dat hierdie Here meer is as die natuur (anders as in die Baälgodsdiens).  Hy is die Een wat in die natuur en die natuurkragte teenwoordig is, maar ook daarbo verhewe is – soos onder andere in die opdragte aan die “seuns van God” gesien kan word.  God is ook nie net in beheer van die natuurkragte nie, maar sorg ook vir die gelowiges (vers 11).

Die Psalm is ‘n lofpsalm met drie dele:

  • Vers 1-2: Dawid roep die hemelinge (letterlik “seuns van God” = sy hemelse “familie” of “raad”) op om saam met die geloofsgemeenskap op aarde God te loof en voor Hom te buig en hulle stem by God s’n te voeg.
  • Vers 3-9: Dawid loof God vir Sy magtige allesveranderende stem soos ‘n mens dit in die natuur kan waarneem: in die geluid van onweer (vers 3), in die lig van weerligstrale (vers 5-8) en selfs moontlik in aardbewings (“bokspring”, “bewe” in vers 6, 8).  ‘n Mens kan hierdie “stem” van God waarneem op sewe plekke: rivierwaters (vers 3), see/oseaan (vers 3), Libanon (vers 5-6), Sirjon (vers 6 – vgl Deut 3:8-9 = Hermon), woestyn (vers 8), bosse (vers 9), Sy paleis (vers 9) – en natuurlik in die 8ste plek, die geloofsgemeenskap (vers 10-11) wat eintlik weer ‘n volgende deel van die Psalm is.
  • Vers 10-11: Dawid sluit af met ‘n versterkende belydenis oor die krag en oorvloed wat hierdie sprekende God vir sy volk gee (vers 10-11) en in wie se lewens Sy stem tot sy reg kom.  Die krag van die Here is nie net ’n wapen wat vernietig of verstom nie.  Dit seën en versorg Sy volk.

In die lig van die omringende twee Psalms (28+30) antwoord dié Psalm dus onomwonde, dat God nie stil is nie, maar van Hom laat hoor!

Om oor na te dink:

  • ’n Mens kan dink, selfs al doen jy baie moeite om die Bybel daagliks te lees, dat God se stem net soos ’n bandopname is.  Psalm 29 herinner ons dat die stem van die Here nie maar net ’n opname uit die verre verlede is nie, maar ’n lewendige uitsending, wat hier en nou effektief is.
  • Dat Jesus op die see juis die storm stilmaak (Mark 4:35-41 – lees Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie? vir meer daaroor), het ‘n besondere betekenis: 1) wat enige idee dat God met die natuur gelyk gestel kan word, die nek omdraai; en 2) duidelik stel dat God ook in die stilmaak van ‘n storm teenwoordig is, soos natuurlik ook al in 1 Konings 19:12 gesê is, dat God in : “’n fluistering in die windstilte” was.
  • Gelowiges hoor iets – altans behoort iets te hoor – waarvoor ander mense doof is: die stem van God.
  • As ons ore ingestel is op God, dan doen ons die regte goed.
View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: