Skip to main content

Psalm 29 – Die God van die natuur sorg ook vir sy kinders

Psalm 29 is een van die Psalms wat God se teenwoordigheid in die natuur verheerlik – soos dit ook die geval is met Psalm 8 en 19.  Charles Spurgeon het gesê dat ’n mens moeite moet doen om hierdie Psalm in ’n donderstorm te lees, omdat jy dan dieper sal verstaan wat die Psalm probeer sê.

God se stem word hier met ’n aantal natuurverskynsels in donderstorms vergelyk om daarmee die inherente en allesveranderende krag van God oor te dra.  Volgens geleerdes is daar in hierdie Psalm sekere Kanaänitiese kenmerke sigbaar (die Baälgodsdiens was ‘n natuur-godsdiens) wat egter teologies radikaal geherinterpreteer is om Jahwe se heerskappy ook in die natuur te verkondig.  Baäl was bekend as die reëngod en is dikwels uitgebeeld met ’n weerligstraal in sy hand as wapen.

Teenoor die opvatting dat Baäl reën gee, bely die Psalm dat dit Jahwe is wat reën gee en dat onweer nie bloot dié van ’n groot natuurkrag of die stem van Baäl is nie, maar eerder die stem van die Here, wat ook op simboliese wyse die krag en oorvloed wat Hy vir sy volk gee, illustreer.  Daarmee word die suigkrag van die Baälgodsdiens vir die geloofsgemeenskap op teologiese wyse getroef.

Die Psalm sê dus dat die Here nie net die God van die geskiedenis is nie, soos die historiese Bybelboeke (Samuel, Konings) dit oorvloediglik uitspel nie, maar ook die God is van die natuur.  Die Psalm bely egter ook tereg dat hierdie Here meer is as die natuur (anders as in die Baälgodsdiens).  Hy is die Een wat in die natuur en die natuurkragte teenwoordig is, maar ook daarbo verhewe is – soos onder andere in die opdragte aan die “seuns van God” gesien kan word.  God is ook nie net in beheer van die natuurkragte nie, maar sorg ook vir die gelowiges (vers 11).

Die Psalm is ‘n lofpsalm met drie dele:

  • Vers 1-2: Dawid roep die hemelinge (letterlik “seuns van God” = sy hemelse “familie” of “raad”) op om saam met die geloofsgemeenskap op aarde God te loof en voor Hom te buig en hulle stem by God s’n te voeg.
  • Vers 3-9: Dawid loof God vir Sy magtige allesveranderende stem soos ‘n mens dit in die natuur kan waarneem: in die geluid van onweer (vers 3), in die lig van weerligstrale (vers 5-8) en selfs moontlik in aardbewings (“bokspring”, “bewe” in vers 6, 8).  ‘n Mens kan hierdie “stem” van God waarneem op sewe plekke: rivierwaters (vers 3), see/oseaan (vers 3), Libanon (vers 5-6), Sirjon (vers 6 – vgl Deut 3:8-9 = Hermon), woestyn (vers 8), bosse (vers 9), Sy paleis (vers 9) – en natuurlik in die 8ste plek, die geloofsgemeenskap (vers 10-11) wat eintlik weer ‘n volgende deel van die Psalm is.
  • Vers 10-11: Dawid sluit af met ‘n versterkende belydenis oor die krag en oorvloed wat hierdie sprekende God vir sy volk gee (vers 10-11) en in wie se lewens Sy stem tot sy reg kom.  Die krag van die Here is nie net ’n wapen wat vernietig of verstom nie.  Dit seën en versorg Sy volk.

In die lig van die omringende twee Psalms (28+30) antwoord dié Psalm dus onomwonde, dat God nie stil is nie, maar van Hom laat hoor!

Om oor na te dink:

  • ’n Mens kan dink, selfs al doen jy baie moeite om die Bybel daagliks te lees, dat God se stem net soos ’n bandopname is.  Psalm 29 herinner ons dat die stem van die Here nie maar net ’n opname uit die verre verlede is nie, maar ’n lewendige uitsending, wat hier en nou effektief is.
  • Dat Jesus op die see juis die storm stilmaak (Mark 4:35-41 – lees Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie? vir meer daaroor), het ‘n besondere betekenis: 1) wat enige idee dat God met die natuur gelyk gestel kan word, die nek omdraai; en 2) duidelik stel dat God ook in die stilmaak van ‘n storm teenwoordig is, soos natuurlik ook al in 1 Konings 19:12 gesê is, dat God in : “’n fluistering in die windstilte” was.
  • Gelowiges hoor iets – altans behoort iets te hoor – waarvoor ander mense doof is: die stem van God.
  • As ons ore ingestel is op God, dan doen ons die regte goed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…