Skip to main content

Psalm 50 – Loof God deur Hom in alles te erken en vereer

Psalm 50 is die eerste van die Psalms van Asaf, een van die hoof sangleiers van ’n Levitiese  sangersgeslag in die dae van Dawid (1 Kron. 6:39).  Getrou aan die aard van ‘n sangleier van formaat, is dié Psalm in die vorm van ‘n liturgie, wat lofsang as ‘n sleutel deel van elke gelowige se geestelike lewe uitspel.  Trouens jy kan God nie reg vereer en dien as jy dit nie doen nie, sê Asaf.

Lof bestaan vir Asaf ten diepste in die dankbare erkenning en verering van God se teenwoordigheid in alles (50:1-6).  Dit is eintlik net die gebrek aan hierdie lof wat God se toorn laat ontvlam (50:7), veral in reaksie op die goddelose gelowiges  wat nie met Hom rekening hou nie (50:22). God wil niks anders as lof van ons hê nie (50:14), wat gelowiges ook die voorreg gee om tot Hom in nood te kan roep (50:15).  Offers is nie vir Hom wesenlik nie, lof wel!

Komende van die amptelike liturg, wie se familie baat gevind het by die offers, is dit nogal ‘n mondvol!  Maar, eers iets meer oor Asaf:

Asaf die sangleier

Dawid het die sangerstradisie begin deur aanvanklik twee Leviete aan te stel om die sang waar te neem voor en in die huis van die Here van sy tyd, die tabernakel, of soos dit in Kronieke genoem word, die “tent van ontmoeting”.  Hulle was Heman en Asaf.  Jedutun is later tot dié getal bygevoeg (1 Kron 25:1).  Gesamentlik was daar ‘n hele 280 opgeleide mense deel van hierdie sangersgeslag in Dawid se tyd (1 Kron 25:7), wat ook interessant genoeg van Heman se dogters ingesluit het (1 Kron 25:5-6).  En dié tradisie het tot eeue se diens aan die volk gelei, selfs tot na die ballingskap (Neh 7:44).

Hierdie sangerstradisie het ‘n aanvang geneem met die vreugdevolle vestiging van die ark in “sy rusplek” (1 Kron 6:31) en het ‘n belangrike deel van die tempeldiens geword, nadat die tempel deur Salomo gebou is.  Hierbenewens was daar natuurlik ook nog die Levitiese ampsgenote wat al die dienste in die heiligdom verrig het, en die Aäronitiese priesters  wat die offerdienste behartig het, uit wie die hoëpriester ook telkens aangewys is, en wat die enigste was wat voor God in die Allerheiligste deel van die tabernakel/tempel kon ingaan.

Die sangleiers het hulle dienste verrig volgens ’n vaste rooster en interessant genoeg saam met hulle kinders in die uitgebreide familiegroep.  Die seuns het onder leiding van hulle pa’s opgetree (1 Kron 25:6) wat ook in sommige gevalle die dogters ingesluit het.  Hierdie diens was ook ‘n voltydse diens (1 Kron 16:37).

Terloops, die Kronieke skrywer vestig doelbewus ons aandag op die keuse wat Heman maak, anders as wat die gebruik waarskynlik was, om sy dogters ook in te span in die sanggroep.  Let op dat daar in 1 Kronieke 25 net van die manne gepraat word, die seuns van Asaf en Jedutun (1 Kron 25:1-3) en dan meer uitgebreid van die 14 seuns van Heman wat hom groot aansien verleen het (1Kron 25:4).  Dán eers openbaar hy die feit dat daar ook 3 dogters was (1 Kron 25:5) wat saam met die span seuns: “almal onder leiding van hulle pa die sang in die huis van die Here begelei” het (1 Kron 25:6).  Die feit dat Heman in aansien was, het hom waarskynlik in staat gestel om anders as die norm op te tree.  Ek wil nie te veel daarin lees nie, maar ek dink Heman was ‘n man na my hart, veral omdat ek self 2 dogters het!

Asaf was waarskynlik die meer produktiewe digter van dié drie leiers. Ons het 12 Psalms van Asaf in die Bybel (Ps 50 en die reeks in Ps 73-83 wat die 3de Psalmboek inlui).  Van Heman of Jedutun het ons geen Psalm nie, hoewel daar wel ‘n Psalm van ‘n ander Heman, kleinseun van Samuel, opgeneem is in Psalm 88. Heman, die sangleier van 1 Kronieke, was egter ‘n Esragiet en Heman, die kleinseun van Samuel, ‘n Koragiet. Die feit dat Asaf so produktief was, hou interessant genoeg verband met die betekenis van sy naam, nl., die “versamelaar”.

Hierdie sangleiers was natuurlik ook bedrewe musikante.  Asaf was bv. bedrewe met kopersimbale (1 Kron 15:19; 16:5) iets waarmee die Asafgroep, benewens hulle sang (Neh 7:44), mettertyd geïdentifiseer is (Esr 3:10). ‘n Interessante brokkie geskiedenis word vir ons in 1 Kron 16:7 vertel dat Asaf en sy amsgenote die eerste uitvoerders van Psalm 105, in opdrag van Dawid, met die titel “Loof die Here”, was.

Daarbenewens het Asaf, Heman en Jedutun ook soms as profete opgetree, onder begeleiding van liere, harpe en simbale, soos ons in 1 Kronieke 25:1 lees.  Hulle het dus gepreek sowel as gesing!

Uitleg

Hierdie liturgie is waarskynlik by ‘n verbondshernuwingsfees gebruik waar nie net met die hernuwing van hulle belydenis dat Jahwe alleen God is, gewerk is nie, maar ook die gevare van oppervlakkige besigwees met God uitgespel is.  God soek onverdeelde trou uitgedruk in lofsang en ‘n lewe wat Hom in alles vereer.

Asaf se liturgie beslaan drie dele:

  1. ‘n Oproep tot die belydenis dat Jahwe alleen God is – vers 1-6.  In vers 1 word drie name vir God gebruik in ‘n ander volgorde as wat dit vertaal is in die NAV.  Daar staan letterlik, “El Elôhîm Jahwe” wat vertaal kan word as “El, God Jahwe” waarin El ook as ‘n soort persoonsnaam vir God gebruik word, of wat vir my meer sin maak: “God van die gode, Jahwe”.   Let op hoe hierdie belydenis na vore geroep word beide op grond van die Skeppingstradisie van God wat hemel en aarde kan oproep (50:1,4,6), sowel as op grond van die Tempeltradisie vanwaar God sy teenwoordigheid laat ken op die aarde (50:2-3).  Elkeen wat die verbond met Hom gesluit het, het daarmee die verpligting om aan Hom getrou te lewe.
  2. ‘n Appèl aan die gelowiges om God te loof deur Hom te erken en vereer – vers 7-15.  God spreek die volk aan dat dit vir Hom lyk asof hulle dink Hy is tevrede net met offers, trouens dat hulle dink dat Hy dit op ‘n manier nodig het.  Dit is ver van die waarheid af – alles is in elk geval Syne, en Hy baat niks daarby nie: “Ek sou jou nie vra as Ek honger sou kry nie, want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan My” (50:12).  Lofsang is die gelofte wat die verhouding met God in stand hou (50:14). Terloops – Paulus gebruik gedagtes uit hierdie deel van die Psalm in sy begronding van sy Godsbeeld in die preek op die Areopagus in Atene (Hand 17:25).  Net so in sy voorskrif aan die Korintiese gelowiges om nie ander te veroordeel oor hulle eetgewoontes nie, want alles – ook die kos wat ons eet – behoort aan God en kan met dankbaarheid en erkenning van God geniet word (1 Kor 10:26).
  3. ‘n Appèl aan die goddelose gelowiges om met God rekening te hou – vers 16-23.  Hierdie goddeloses is nie dié wat in die wêreld sonder God leef nie, maar kom binne die gemeenskap van gelowiges voor! Dit bly darem maar ontstellend!  Let op dat hulle met die mond die Here dien (50:16), maar in gedrag sonder Hom optree en teen sy uitgesproke wil (50:17-20).  Veral die oortredings van die tweede tafel van die wet kom onder skoot, die 7de tot 9de gebod: egbreuk, diefstal, leuens (weliswaar in ‘n ander volgorde in Psalm 50 ingespan).  God (en die liturg by implikasie) kan nie daaroor stil bly nie: “Dan sal jy dink Ek het soos jy geword!” (50:21). Daarom moet die goddelose gelowige (as ‘n mens dit só kan noem) tot inkeer kom en luister, anders sal hulle duur betaal omdat hulle nie met God rekening hou nie (50:22).  Dit is die mens wat reg lewe deur God te eer en lof vir Hom as ‘n offer te bring, wat God se redding ervaar (50:23).

Let op dat hierdie liturgiese besigwees met God in lofsang nie opsioneel is nie.  Ek dink baie mense kom na ‘n erediens om na ‘n preek te luister.  En natuurlik is dit van veel waarde.  Maar ‘n erediens is baie meer as ‘n preekdiens.  Dit is ‘n liturgiese besigwees met God wat HY voorskryf.  Hy eis van ons lofsang, Hy luister na ons verering, ons erkenning van Hom in alles, en lofsang beweeg Hom om op nog meer maniere vir ons te sorg, veral wanneer ons Hom dan aanroep in die dag van benoudheid.  Lof is ‘n sleutel deel van jou geestelike lewe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar