Skip to main content

Psalm 6 – Genesing is genade

Hierdie Psalm is uiters geskik as ’n gebed in siekte.  Die woord wat in die opskrif met basstem vertaal word beteken letterlik agtste. Dit kan ook met oktaaf vertaal word (1 Kron 15:21) met die implikasie dat die Psalm in ‘n laer (dieper) stem gesing moet word. Dit dui dus aan vir watter atmosfeer die Psalm bedoel is, vir ’n donkerder tyd, ’n tyd van siekte, in ’n mens se lewe.

Dawid sê nie hier aan watter siekte hy gely het nie, hoewel dit iets is wat sy liggaam (letterlik sy bene of beendere/skelet) uitgeteer het en hom (letterlik sy siel) gedaan gemaak het – dws fisies en psigies.  Dit maak dit eintlik moontlik om die Psalm te gebruik vir enige behoefte aan genesing.

Let op dat Dawid sy gebed begin met: “Moet my tog nie in u toorn straf nie, Here …”

’n Mens kan op twee maniere kyk na hierdie gebed dat God nie toornig of grimmig teenoor hom sal optree nie.

  • Omdat hy nie ’n sondebelydenis doen (vgl Ps 38 waar hy wel sy sonde bely), kan dit wees dat hy hom onskuldig ag – soos Job – en daarom vra dat die lyding van hom weggeneem sal word.  Hy dink nie dat hy dit verdien nie.
  • Of – miskien meer waarskynlik – is hy juis versigtig om God se voorsiening in twyfel te trek deur vir genesing  te vra, en vra daarom dat God nie vir hom kwaad sal word, net omdat hy vir iets anders vra – genesing – as wat vir hom uitgedeel is – siekte.  Hy vra dus nie om God se wil in twyfel te trek nie – hy is immers net soos ons aan die verganklikheid onderworpe en dit sluit siekte in – maar vra wel daarvoor, net omdat hy swaar trek onder die siekte, moedeloos geraak het, en nou op God se genade alleen staatmaak.

As die laaste interpretasie korrek is, beteken dit dat die Psalm sê dat genesing nie vanselfsprekend is nie, maar iets is wat God uit genade gee.  ’n Mens mag dus vir genesing vra, en God kan genesing gee, maar jy kan genesing nie afdwing nie.  God gee … en God neem – soos Job so diepsinnig bely het.

“Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?”  Hy pleit by God, want sy bed swem letterlik in sy trane (vers 7)!  Sy lyding kan in sy oë gesien word – dit het dof geword.  Sy verdriet lei tot erge slaaploosheid, want hy huil die hele nag deur.

Sy ervaring is boonop soos dié van Job – sy siekte word vererger deur mense wat teen hom draai, hom afskryf, dink dat hy sy verdiende loon kry.  Daarom dat hy uitroep dat hulle van hom af moet padgee …

Die wending kom in vers 9, miskien met een of ander begeleiding van die koorleier, of tussenkoms van ‘n priester in die tempel (dink aan Eli en Hanna – 1 Sam1:17) waarin God se ingrype geloof word.  Anders kan dit net beteken dat sy gebed van wanhoop na vertroue beweeg het, en hy innerlik die bevestiging van God se antwoord gekry het.

Let op dat hy God se ingrype loof voordat daar nog enige tekens van herstel is, net maar God se woord dat Hy ag geslaan het op Dawid se hulpgeroep.  In ’n oogwink, getuig hy, sal die vyande beskaamd moet padgee en sal hulle die verslaentheid beleef (vers 11) wat hy in sy siekte ervaar het (vers 3-4).

Laat my dink aan die offisier in die NT wat ook geglo het dat sy slaaf gesond sou word, slegs op ’n woord van Jesus (Luk 7).  En sy slaaf het gesond geword!

Terloops: die woord bely wat Dawid in vers 6 gebruik (NAV), beteken letterlik onthou.  ’n Mens kan dit dus só vertaal: “Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam onthou (of in herinnering roep) nie …” want dit is in die onthou van God, en die getuienis oor Hom, wat die lof opgesluit lê, en dit is nie moontlik as ’n mens dood is nie.

’n Woord van bemoediging: Dawid kon nie met ’n helder idee van ’n lewe na die dood werk nie, want die opstanding uit die dood, en die konsep van die ewige lewe, is iets wat eers voluit deur die bediening en werk van Jesus moontlik en duidelik geword het (deur Sy eie dood heen – Joh 12:27!).  Ons ervaar dus vandag nie meer dieselfde vrees vir die dood, as wat Dawid weens sy siekte mee moes werk nie, omdat Christus ons daarvan verlos het (“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy of sy ook.” – Joh 11:25).

Dit beteken dat ons wel mag vra vir genesing in hierdie lewe, maar altyd met die perspektief dat die dood sy verskrikking vir ons verloor het, en dat selfs as God nie vir ons in dié lewe genesing gee nie, ons steeds God se sorg in die lewe hierna sal belewe.  Die ewige lewe is immers om God te ken … en dit begin reeds nou al (Joh 17).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms, Siekte


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda