Skip to main content

Psalms 42-72 – Bedaar en erken dat Ek God is

Ons begin dié week om die Psalms te lees, die 2de Psalmboek, Psalms 42-72.

Ek sien baie daarna uit, omdat die Psalms die taal van die hart gebruik.  Dit sal jou binneste wil roer, en jou verbeelding wil wakker maak om ‘n ruimte te skep waarin jou eie gesprek met God kan verdiep.

Een van die belangrikste lewenslesse wat die Psalms my geleer het, is dat ons gesprek met God nooit losgemaak kán of hóéf te word van ons lewensomstandighede nie.

  • Wanneer dit goed gaan, is daar dankbaarheid en standvastigheid en kleur dit ons gesprek met God – uitgedruk in lofpsalms, soos met Psalms 65-68.
  • Wanneer ons gekonfronteer word met die donkerte in onsself en in die lewe, is daar worsteling en weerstand en kleur dit ook ons gesprek met God – uitgedruk in klaagpsalms, soos hier met Psalms 54-64, telkens verwoord vanuit Dawid se praktiese ervaring in nood.

Nog dieper as dit, die Psalms leer ons dat dit nie net ons persoonlike ervarings is wat deel is van ons gesprek met God nie, maar ook die verskeidenheid van ervarings in die wyer gemeenskap.  Ons gesprek met God word, trouens móét onontwykbaar gekleur word, deur ons ervarings – goed of sleg – binne die geloofsgemeenskap sowel as in die publieke gemeenskap.

Dit beteken dan ook dat die Psalms ons leer dat die angs oor en opstand teen ’n gebrek aan geregtigheid en billikheid in die wyer gemeenskap telkens ingetrek móét en kán word in ons gesprek en worsteling met God in die verwagting dat Hy sal optree en verandering bring.

Om die Psalms op dié manier te lees, laat hulle ’n omvattende lewe vir ons kry.  Dit gee lewe aan ons gesprek met God.  Dit laat ons gebed verander van ‘n abstrakte teoretiese gepraat na ’n praktiese persoonlike gesprek wat volledig gevoed word uit ons werklike ervarings in die lewe, die positiewe en die negatiewe ervarings daarvan.  En dit geld nie net ons eie ervarings nie, maar veral ook die ervarings van almal rondom ons.   Dan bring dit presies die verandering te weeg wat ons ten diepste begeer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar