Skip to main content

Psalm 55 – Laat jou sorge aan die Here oor

Hierdie Psalm word geskryf teen die agtergrond van die verraad van ’n vriend.  Dié vriend word meesal met Dawid se adviseur Agitofel geïdentifiseer wat in die stryd met Absalom teen hom gedraai het (2 Sam 15-17).

Die Here het egter Agitofel se raad verydel waarna Agitofel homself opgehang het in sy tuisdorp, Gilo.  ’n Storie met ’n tragiese einde vir Agitofel, maar ’n positiewe uitkoms vir Dawid met sy uiteindelike oorwinning oor Absalom.

Die Psalm kan op verskillende maniere ingedeel word.  Die een wat vir my die meeste sin maak, is soos volg waarin duidelik selfgesprek en gebed mekaar afwissel:

  • Smeking: Dawid bid tot God dat dié sal luister na hom en hom sal antwoord – vers 2-6.  Dawid is eerlik teenoor die Here oor wat die dreigemente van sy vyande en die druk van slegte mense aan hom doen.  Hulle onregverdigheid is bedoel om hom te breek, veral omdat hy natuurlik self streef na die handhawing van die reg.  Let op hoe sy hele liggaam reageer op sy gevoel van verontregting – sy hart krimp inmekaar, doodsangs oorval hom, vrees en skrik oorweldig hom, sy hele liggaam bewe.
  • Versugting: Dawid sou só graag die storm waarin hy verkeer wou ontwyk – vers 7-9.  Daar is baie keer hierdie ervaring by ons, die bekende veg-of-vlug reaksie.  Hier wil Dawid net op enige manier die situasie ontwyk, wegvlieg soos ’n duif, in die woestyn gaan bly, alles om net weg te kom van die situasie wat soos ’n onstuimige wind, ’n storm, voel.
  • Intersessie: Dawid bid dat God self hulle uitmekaar sal dryf weens die onreg en onheil wat hulle pleeg – vers 10-12.  Dawid se gebed is dat die kommunikasie tussen die geweldenaars vertroebel sal word, dat hulle mekaar nie sal verstaan nie en die wanorde hom sal wreek op hulle planne.
  • Verstomming: Dawid reflekteer oor die feit dat hy dié verraad nie van ’n vriend van hom verwag het nie – vers 13-15.  Let op hoe die vriend se verraad geteken word, iets wat die geestelike verbintenis met mekaar verbreek: “As dit nog my vyand was wat my smaad aangedoen het, sou ek dit kon verdra; as dit ’n teenstander was wat my wou verneder sou ek hom kon probeer vermy.  Maar nou is dit jy, ’n man soos ek, my maat en goeie vriend.  Ons was so nou aan mekaar verbonde; opgewonde het ons saam na die huis van God toe gegaan.”
  • Vertroue: Dawid verlaat hom op God, dat dié sal hoor en hom sal red – vers 16-20.  Let op hoe Dawid se gebed in karakter verander en dat sy klag al hoe meer gebaseer word op sy vertroue dat God inderdaad in dié situasie waarin hy verkeer sal optree.  “Hy sal my red ..”
  • Veragting: Dawid keer terug na sy intense gevoel van verraad: sy vriend het sy vyand geword – vers 21-22.  Die verbond tussen hulle is verbreek: “My vyand het skaars ’n ooreenkoms gesluit of hy verbreek sy beloftes van trou.  Sy tong is gladder as botter, maar daar is oorlog in sy hart; sy woorde is so strelend soos olie, maar hulle is swaarde wat reg is om te steek.”
  • Getuienis: Hy raai homself en almal wat na hom luister aan om hulle sorge aan die Here oor te laat, want Hy sal sorg.  Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie – vers 23.
  • Slotgebed: Dawid is oortuig dat God dié mense sal straf en vir Dawid in sy vertroue op God sal bevestig: “Op U vertrou ek” – vers 24.
View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar