Psalm 70 – Kom tog gou na my toe, o God

Die Psalm begin met ’n interessante woord wat vertaal is met “Ter herinnering” (ook Ps. 38).  Die woord kan verbind word met die vuuroffer (azkârâh – Lev. 2:2 vv) wat gewoonlik uit meel/stampkoring en olie bestaan het, waarvan ’n deel verbrand is en ’n deel vir die priesters gegee is.  Die deel wat verbrand is, kan moontlik as ’n herinneringsoffer gesien word, wat God herinner aan sy beloftes en natuurlik ook die een wat die offer bring, herinner aan sy geloftes van toewyding aan God.  Die Psalm het dus waarskynlik só ’n herinneringsfunksie.

Die Psalm is ook in sy geheel opgeneem in Psalm 40, vers 14-18, met kleinere wysigings, bv. Ps. 70 gebruik eerder die algemene naam vir God, Elôhîm.  Ps. 70 is daarom moontlik ’n meer populêre weergawe van die voller liturgie van Ps. 40 vir persoonlik gebruik om God te herinner aan wie Hy is en wat die bidder nodig het.

Uitleg

Die Psalm het ’n dringende toonaard.  Hulp is NOU nodig: “Here, kom my tog gou te hulp!”; “Here, moet tog nie talm nie!”.  Dit is dus uiters bruikbaar in tye waar tyd ’n faktor raak.

Dit wil ook lyk asof die bedreigings nie van buite die geloofsgemeenskap kom nie, maar van groepe binne die geloofsgemeenskap.  Die Psalmis identifiseer hom bv. met die hulpeloses en armes (vers 6) en bid oor dié wat hom spot (vers 4), dié wat sy lewe wil neem en sy ondergang wil sien (vers 3).  ’n Mens kan aan ’n hele paar mense uit Dawid se lewe dink op wie hierdie beskrywing van toepassing kan wees.

Let op hoe die Psalmis God herinner aan Wie Hy is: God is groot (vers 5), U is my hulp, U is my redder, U is Jahwe (vers 6).  Met dié vier beskrywende titels vir God herinner Hy God aan Wie God is in die verwagting dat God sal optree soos Hy Homself aan Dawid bekend gemaak het.

Vers 5 is vir my besonders, omdat dit die geloofgemeenskap ook intrek: “Laat almal wat by U hulp soek, jubel en bly wees oor U, laat dié wat op u hulp staatmaak, altyddeur sê, God is groot!”  ’n Teks om die hele dag oor na te dink en in jou gedagtes te vertroetel.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: