Skip to main content

Psalm 26 + 32 – God skenk ’n lewe van integriteit en vertroue

Psalm 26 en 32 belig twee kante van ’n lewe van integriteit en vertroue.  Psalm 26 maak baie van die strewe om in alles op God se genade staat te maak om te leef soos Hy wil.  Dit sluit in dat jy jou daaraan verbind En staatmaak op God se geskenk/genade.  Psalm 32 skets weer die seën van sonde belydenis wat die vryheid en vrymoedigheid van vergifnis as veranderende krag in ’n mens se lewe aan die werk sit.

Psalm 26 – Lewe met integriteit en vertroue

Die Psalm kom ooreen met Psalms 15 en 24 en was moontlik ook ‘n tempel-toetrede Psalm wat deur pelgrims gebruik is.
Dawid maak hier sy lewe oop voor God en lê sy integriteit (onskuld) in optrede en vertroue op God aan Sy ondersoekende oog bloot. Daarmee herinner hy ons daaraan dat sowel ons lewe in die wêreld as ons lewe met God volgens dieselfde waardes geleef moet word. Dit is waarom hy sê dat Hy hom deur God se liefde laat lei het. Hy het God se karakter as rigtingwyser gebruik in sy lewenstyl, terwyl hy ook op God vertrou het om dit te kan regkry (Fil 2:12 in OT gewaad!).

Dit gaan dus vir hom daaroor om in lyn met God se waardes en beginsels op te tree. Dit is die deurlopende tema in die Psalm soos in vers 1 en 11 aangedui word (onskuld kan met integriteit vertaal word): “Ek het met integriteit opgetree … Ek sal met integriteit optree … Red my en wees my genadig”.   Maar wat vir my ongelooflik diepsinnig is, is dat hy homself weliswaar verbind aan ‘n lewe met integriteit (vers 1,11), maar tog in die laaste instansie staatmaak op God se redding en genade (vers 11).

“Ek het nie getwyfel nie” in vers 1 word deur Craigie as volg vertaal: “I shall not slip” wat beteken Dawid het nie opgehou om God te vertrou nie. Twyfel, volgens dié Psalm,  is dus nie net om aan God se bestaan te twyfel nie, maar eerder om te twyfel in God se vermoë om betroubaar op te tree. Dit is ook die uitdaging vir ons vandag, om God te vertrou dat Hy in óns wêreld betrokke is en Sy wil sal laat geskied.

Hierdie verbintenis is iets wat natuurlik ook nie net met Dawid se eie manier van lewe te make het nie. Dit beteken ook dat hy nee sê vir die waardes en lewenstyl van bedrieërs, agterbakse mense, misdadigers, goddeloses, moordenaars en mense wat ander probeer omkoop.

“Ondersoek my deur en deur” in vers 2 beteken letterlik: “toets my niere en hart”, die setel van emosies en verstand. Dawid wil dus sy gevoelens en gedagtes aan God se ondersoekende oog blootlê dat God self sal sien dat hy met integriteit opgetree het en steeds so wil lewe.

Psalm 32 – Vergifnis seën jou met ’n veranderde lewe

Sonde belydenis en die impak van vergifnis op ’n mens se lewe oorheers die Psalm.  En dit help om die Psalm te lees aan die hand van die Selas.  Dit gee vir jou ’n aanduiding van die gedagte eenhede van die Psalm en waar ’n mens as’t ware eers tot stilstand moet kom, voor jy verder lees-bid.  Ek het dit tentatief só opgedeel met ’n opskrif vir elke beweging van die Psalm.

32:1-4 – Daar is groot seën in sonde belydenis

Dawid skets op diepsinnige manier dat sonde belydenis en vergifnis  ’n mens regtig gelukkig maak.  As jy ervaar dat die boek van jou lewe skoongemaak word van alles wat skadelik en skandelik is, dan lewe jy eers regtig!

Dit is waarom die wegsteek of ontkenning van sonde so destruktief is – dit krap jou binneste om (en jou liggaam – die woord “uitgeteer” kan ook “oud-word” beteken) en hou jou gevange.

Terloops, dit is een van die diepste insigte wat van ons kerkvaders raakgesien het, onder andere Augustinus en Luther, en wat ’n neerslag gekry het in die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 1 en 2.  Ek plaas  dit aan die einde van hierdie bydrae.  Casper Olivianus het dit op 26-jarige ouderdom geskrywe, kan jy nou meer!

23:5 – Sondebelydenis maak jou vry

Sondebelydenis maak jou vry en bring jou binneste tot bedaring.  Selfs al sou jy steeds moet boet vir iets wat jy verkeerd gedoen het, gee vergifnis jou die vermoë om dit kop omhoog te doen.

23:6-7 – Vergifnis gee jou vrymoedigheid

Vergifnis gee almal die vrymoedigheid om God as skuilplek op te soek en te ervaar.

32:8-11 – God leer dié wat vergifnis ontvang het en omvou hulle met sy liefde

Vergifnis is egter net die poort tot ’n veranderde lewe.  God wil vir Dawid leer oor die pad wat hy moet volg, sodat Hy sy oog oor hom kan hou.  God wil nie vir hom beheer soos ’n mens ’n perd of muil met ’n stang in die bek moet beheer nie, maar in verhouding met hom lewe.

Vir dié wat ja sê vir só ’n lewe, ervaar dat God hulle met sy liefde omvou (vers 10)!  En dit is die aanleiding tot ’n lewe van lof aan God in die byeenkoms van die regverdiges.

DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS

Jou enigste troos

Sondag 1

1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

(a) Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:

2 Vraag: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Antwoord: Drie dinge (a): Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is (b); ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word (c) en ten derde hoe ek God vir so ‘n verlossing dankbaar moet wees (d).

(a) Matt 11:28-30; Ef 5:8. (b) Joh 9:41; Matt 9:12; Rom 3:10;1 Joh 1:9;10. (c) Joh 17:3; Hand 4:12 10:43. (d) Ef 5:10; Ps 50:14; Matt 5:16; 1 Pet 2:12; Rom 6:13; 2 Tim 2:15:

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda