Skip to main content

Psalm 15 + 24 – om in God se teenwoordigheid tot rus te kom

Psalm 15

Watter vreugde is die Psalm nie, kort, kragtig, helder!

Die belangrike punt wat die Psalm maak is dat jou lewe met ander mense volledig verweef is met  jou lewe met God.  Hoe jy leef, prakties, elke dag, berei jou voor om in God se teenwoordigheid te leef, en andersom. Jou alledaagse lewe beïnvloed jou geestelike lewe, en jou geestelike lewe beïnvloed jou alledaagse lewe.

Dit is wat Practicing the Presence of God beteken – om alles te doen asof vir God. ‘n Mens sou ook kon sê,

  • Practicing the Presence of God moet in jou verhouding met mense gebeur, EN
  • Practicing the Presence of People moet in jou verhouding met God gebeur.

Vers 2 beskryf die algemene kenmerke van ’n lewe wat in God se alom-teenwoordigheid gelewe word en jou toegang tot die tempel-teenwoordigheid van God gee:

  1. onberispelike lewenswandel,
  2. regdoen en
  3. met die hele hart die waarheid praat.

’n Mens se woorde en dade moet ’n koherente integriteit hê wat in jou lewenswandel gesien kan word.

Vers 3-5 gee meer detail oor só ’n lewe weer wat telkens met die algemene kenmerke verbind kan word.  Daar word ’n verdere agt kenmerke genoem:

  • Waarheid praat: nie kwaadpraat nie, niemand beledig nie, sy woord hou, selfs tot sy skade (vers 3a,3c,4c).  Kortom, hy of sy moet ‘n goeie mens wees in sy persoonlike lewe.
  • Regdoen: medemens nie kwaad aandoen nie, nie op rente uitleen nie (Eks 22:25 verbied renteheffings aan volksgenote om te keer dat armes uitgebuit word); nie laat omkoop nie (vers 3b,5a,5b).  Kortom, hy of sy moet ‘n goeie naaste wees in sy publieke lewe.
  • Onberispelike lewenswandel:   die middelste twee in die reeks van agt, dui op ‘n onberispelike lewenswandel in terme van die gemeenskap van God – om dié te verag wat deur God verwerp is, en dié te eer wat Hom dien (4a-b), ‘n aanduiding dat dit ‘n belangrike fokuspunt van ‘n lewe met God is, om te onderskei met wie jy assossieer in die beoefening van jou gemeenskap met God, maar nog dieper, om nie self te doen wat die goddeloses doen nie, en na te volg wat die regverdiges doen (Ps 1).  Die verbondsvolk is as een groot familie gesien wat die identiteit van die individu bepaal het.  Kortom, hy of sy moet ‘n goeie gemeentelid wees in sy geestelike lewe.

Laat my dink aan Miga 6:8 waar soortgelyke kenmerke van ‘n Godvrugtige lewe uitgespel word: “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied (regdoen), dat jy liefde en trou sal bewys (waarheid praat), dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God (onberispelik lewe).

Paulus tel die tema van die gemeenskap van gelowiges op in sy skrywe aan die gemeente in Korinte (1 Kor 5) dat die gemeenskap in die gemeente suiwer gehou moet word.  Maar, waar die Psalms baie skerp sê dat sommige mense vermy moet word, omdat die Here hulle verwerp het (die Psalmis spel nie uit hoe ‘n mens dit agterkom nie), is Paulus meer genuanseerd daaroor dat dit nie gaan oor sondaars in die wêreld wat vermy moet word nie, maar sondaars binne die gemeente, dws mense wat nie die pad met God loop nie, maar steeds binne die gemeenskap van gelowiges leef, sonder dat daar een of ander uitreik- en omgee-aksie (tugmaatreëls) toegepas word nie.  Lees meer hieroor in my bydrae oor 1 Korintiërs 5 – Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap.

Psalm 24

Hierdie Psalm word ten  nouste met die ark verbind.[1] Blykbaar is hierdie psalm op twee maniere gebruik met betrekking tot die ark.

  • Eerstens is dit gesing op die eerste dag van die week, om die feit dat die ark ‘n rusplek in Jerusalem gekry het, te vier.
  • En tweedens is dit gesing tydens die optog, wanneer die leërs terugkom van die oorlog af, en hulle die oorwinning kom vier.

Dit is dus ‘n Psalm vir die tot-rus-kom, vir die tuiskoms van die ark, sowel as die viering van God se voortdurende teenwoordigheid by sy volk.

Die Psalm is ook herhaaldelik by die tempel opgevoer.

  • In so ’n opvoering het die mense aan die buitekant van die tempelpoort uitgeroep dat die poort moet oopgaan sodat die magtige Koning kan ingaan.
  • Dan het die priesters aan die binnekant gevra: “wie is hierdie magtige Koning?” en
  • die mense buite het geantwoord: “Die Here, sterk en geweldig, die Here, oorwinnaar in elke stryd.”
  • Dan het die tempelpoort oopgegaan as simbool dat die Here nou by sy mense is.

Die boodskap van die Psalm is daarom tweërlei.  Aan die een kant bevestig dit aan die gemeenskap van Israel dat: alles behoort aan die Here.  Aan die ander kant verseker dit die mense wat in Sy teenwoordigheid wil lewe: dié God seën sy mense.

  • Let op hoe die fokus in die Psalm spring na die berg van die Here, die Sionsberg, waarheen die ark nou sy terugkeer maak.
  • En die vraag word van binne af vir almal gevra, “Wie mag die berg van die Here opgaan, en en wie mag in sy heiligdom gaan staan?”
  • En die antwoord kom deur die singende skare: “Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.”
  • En dan bely hulle saam: “So iemand sal van die Here seën ontvang, en God, sy redder, sal reg aan hom laat geskied.”
  • Dit is die erfenis van mense wat na God se wil vra en Hom dien, dit is hulle wat die ware nageslag van Jakob is en in God se teenwoordigheid mag ingaan.

‘n Wonderlike motivering.  God seën sy mense, Hy bring vir hulle vrede en Hy bring vir hulle rus.  Soos Jesus hierna sou sê: Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal vir julle rus gee.

Maar daar is ook ‘n derde boodskap wat eintlik die hoogtepunt van die Psalm isDie Psalmis laat die fokus weer terugspring na die Here self, want Hý is die eintlike koning van Israel. Dit is Hý wat die oorwinning gegee het, en dit is Hý wat geloof moet word.  En soos die ark dan ingedra is in die tent wat daarvoor opgerig is, en dit in die heiligdom neergesit is, kom Israel tot rus.  God is hier, en ons is hier, veilig, vertroos, versorg.

Die Psalm het ook ‘n besonder betekenis vir ‘n familie in ons gemeente.  In die laaste ure van ‘n besondere man in ons gemeente, het sy familie hierdie Psalm gelees, waarna hy: “Amen, Amen” geroep het, vertel het dat hy die Here Jesus sien en toe gesterf het.  Ek kon nie anders om te wonder of dit nie hierdie keer hy was wat by die hemelse deur gekom het, en daar van binne-af gevra is, wie is daar, en hy kon antwoord, dit is U kind, Here.  En die deur het vir hom oopgegaan en daar het hy sy rusplek gekry.

 


[1] Die ark van die Here het ‘n besondere geskiedenis.  Nie net het dit die sigbare teenwoordigheid van die Here in die woestyn voorgestel nie.  Nie net het dit ‘n plek in die heiligdom gehad, in die Allerheiligste deel, nie.  Nee, dit was ook die sigbare teenwoordigheid van die Here as Israel geveg het.  In die tyd van Dawid het die ark ‘n rusplek in Jerusalem gekry by die aanvang van sy regering (2 Sam 6). Hier het dit dan gestaan, behalwe as dit tydens ’n oorlog saam met die leër geneem is (2 Sam 11). Elke keer as hulle dan weer terugkom van die oorlog af, het hulle die ark op feestelike wyse in die stad ingeneem (2 Sam 6:5,13).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.