Psalm 15 + 24 – om in God se teenwoordigheid tot rus te kom

Psalm 15

Watter vreugde is die Psalm nie, kort, kragtig, helder!

Die belangrike punt wat die Psalm maak is dat jou lewe met ander mense volledig verweef is met  jou lewe met God.  Hoe jy leef, prakties, elke dag, berei jou voor om in God se teenwoordigheid te leef, en andersom. Jou alledaagse lewe beïnvloed jou geestelike lewe, en jou geestelike lewe beïnvloed jou alledaagse lewe.

Dit is wat Practicing the Presence of God beteken – om alles te doen asof vir God. ‘n Mens sou ook kon sê,

  • Practicing the Presence of God moet in jou verhouding met mense gebeur, EN
  • Practicing the Presence of People moet in jou verhouding met God gebeur.

Vers 2 beskryf die algemene kenmerke van ’n lewe wat in God se alom-teenwoordigheid gelewe word en jou toegang tot die tempel-teenwoordigheid van God gee:

  1. onberispelike lewenswandel,
  2. regdoen en
  3. met die hele hart die waarheid praat.

’n Mens se woorde en dade moet ’n koherente integriteit hê wat in jou lewenswandel gesien kan word.

Vers 3-5 gee meer detail oor só ’n lewe weer wat telkens met die algemene kenmerke verbind kan word.  Daar word ’n verdere agt kenmerke genoem:

  • Waarheid praat: nie kwaadpraat nie, niemand beledig nie, sy woord hou, selfs tot sy skade (vers 3a,3c,4c).  Kortom, hy of sy moet ‘n goeie mens wees in sy persoonlike lewe.
  • Regdoen: medemens nie kwaad aandoen nie, nie op rente uitleen nie (Eks 22:25 verbied renteheffings aan volksgenote om te keer dat armes uitgebuit word); nie laat omkoop nie (vers 3b,5a,5b).  Kortom, hy of sy moet ‘n goeie naaste wees in sy publieke lewe.
  • Onberispelike lewenswandel:   die middelste twee in die reeks van agt, dui op ‘n onberispelike lewenswandel in terme van die gemeenskap van God – om dié te verag wat deur God verwerp is, en dié te eer wat Hom dien (4a-b), ‘n aanduiding dat dit ‘n belangrike fokuspunt van ‘n lewe met God is, om te onderskei met wie jy assossieer in die beoefening van jou gemeenskap met God, maar nog dieper, om nie self te doen wat die goddeloses doen nie, en na te volg wat die regverdiges doen (Ps 1).  Die verbondsvolk is as een groot familie gesien wat die identiteit van die individu bepaal het.  Kortom, hy of sy moet ‘n goeie gemeentelid wees in sy geestelike lewe.

Laat my dink aan Miga 6:8 waar soortgelyke kenmerke van ‘n Godvrugtige lewe uitgespel word: “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied (regdoen), dat jy liefde en trou sal bewys (waarheid praat), dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God (onberispelik lewe).

Paulus tel die tema van die gemeenskap van gelowiges op in sy skrywe aan die gemeente in Korinte (1 Kor 5) dat die gemeenskap in die gemeente suiwer gehou moet word.  Maar, waar die Psalms baie skerp sê dat sommige mense vermy moet word, omdat die Here hulle verwerp het (die Psalmis spel nie uit hoe ‘n mens dit agterkom nie), is Paulus meer genuanseerd daaroor dat dit nie gaan oor sondaars in die wêreld wat vermy moet word nie, maar sondaars binne die gemeente, dws mense wat nie die pad met God loop nie, maar steeds binne die gemeenskap van gelowiges leef, sonder dat daar een of ander uitreik- en omgee-aksie (tugmaatreëls) toegepas word nie.  Lees meer hieroor in my bydrae oor 1 Korintiërs 5 – Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap.

Psalm 24

Hierdie Psalm word ten  nouste met die ark verbind.[1] Blykbaar is hierdie psalm op twee maniere gebruik met betrekking tot die ark.

  • Eerstens is dit gesing op die eerste dag van die week, om die feit dat die ark ‘n rusplek in Jerusalem gekry het, te vier.
  • En tweedens is dit gesing tydens die optog, wanneer die leërs terugkom van die oorlog af, en hulle die oorwinning kom vier.

Dit is dus ‘n Psalm vir die tot-rus-kom, vir die tuiskoms van die ark, sowel as die viering van God se voortdurende teenwoordigheid by sy volk.

Die Psalm is ook herhaaldelik by die tempel opgevoer.

  • In so ’n opvoering het die mense aan die buitekant van die tempelpoort uitgeroep dat die poort moet oopgaan sodat die magtige Koning kan ingaan.
  • Dan het die priesters aan die binnekant gevra: “wie is hierdie magtige Koning?” en
  • die mense buite het geantwoord: “Die Here, sterk en geweldig, die Here, oorwinnaar in elke stryd.”
  • Dan het die tempelpoort oopgegaan as simbool dat die Here nou by sy mense is.

Die boodskap van die Psalm is daarom tweërlei.  Aan die een kant bevestig dit aan die gemeenskap van Israel dat: alles behoort aan die Here.  Aan die ander kant verseker dit die mense wat in Sy teenwoordigheid wil lewe: dié God seën sy mense.

  • Let op hoe die fokus in die Psalm spring na die berg van die Here, die Sionsberg, waarheen die ark nou sy terugkeer maak.
  • En die vraag word van binne af vir almal gevra, “Wie mag die berg van die Here opgaan, en en wie mag in sy heiligdom gaan staan?”
  • En die antwoord kom deur die singende skare: “Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.”
  • En dan bely hulle saam: “So iemand sal van die Here seën ontvang, en God, sy redder, sal reg aan hom laat geskied.”
  • Dit is die erfenis van mense wat na God se wil vra en Hom dien, dit is hulle wat die ware nageslag van Jakob is en in God se teenwoordigheid mag ingaan.

‘n Wonderlike motivering.  God seën sy mense, Hy bring vir hulle vrede en Hy bring vir hulle rus.  Soos Jesus hierna sou sê: Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal vir julle rus gee.

Maar daar is ook ‘n derde boodskap wat eintlik die hoogtepunt van die Psalm isDie Psalmis laat die fokus weer terugspring na die Here self, want Hý is die eintlike koning van Israel. Dit is Hý wat die oorwinning gegee het, en dit is Hý wat geloof moet word.  En soos die ark dan ingedra is in die tent wat daarvoor opgerig is, en dit in die heiligdom neergesit is, kom Israel tot rus.  God is hier, en ons is hier, veilig, vertroos, versorg.

Die Psalm het ook ‘n besonder betekenis vir ‘n familie in ons gemeente.  In die laaste ure van ‘n besondere man in ons gemeente, het sy familie hierdie Psalm gelees, waarna hy: “Amen, Amen” geroep het, vertel het dat hy die Here Jesus sien en toe gesterf het.  Ek kon nie anders om te wonder of dit nie hierdie keer hy was wat by die hemelse deur gekom het, en daar van binne-af gevra is, wie is daar, en hy kon antwoord, dit is U kind, Here.  En die deur het vir hom oopgegaan en daar het hy sy rusplek gekry.

 


[1] Die ark van die Here het ‘n besondere geskiedenis.  Nie net het dit die sigbare teenwoordigheid van die Here in die woestyn voorgestel nie.  Nie net het dit ‘n plek in die heiligdom gehad, in die Allerheiligste deel, nie.  Nee, dit was ook die sigbare teenwoordigheid van die Here as Israel geveg het.  In die tyd van Dawid het die ark ‘n rusplek in Jerusalem gekry by die aanvang van sy regering (2 Sam 6). Hier het dit dan gestaan, behalwe as dit tydens ’n oorlog saam met die leër geneem is (2 Sam 11). Elke keer as hulle dan weer terugkom van die oorlog af, het hulle die ark op feestelike wyse in die stad ingeneem (2 Sam 6:5,13).

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Hallo Chris,

    Ek wil bietjie meer weet oor Psalm 15 se woorde wat gebruik word. In vers 3 se Dawid dat mens nie sy medemens mag belaster, of benadeel, of van hom kwaadpraat nie. In vers 4 se hy dat jy die wat aanhou sondig moet verag. So hoe nou? Wat beteken dit om iemand te verag?

    • Hi Frans – Psalm 15 gee 10 riglyne vir iemand wat in die tempel die Here wil kom aanbid:
      1) onberispelike (blaamlose) lewenswandel, 2) regdoen, 3) waarheid praat, en die teendeel, 4) nie kwaadpraat nie, 5) niemand beledig nie, 6) dié verag, NB, wat deur God verwerp is, maar daarteenoor 7) Godsdienaars eer, 8) woordhou, 9) nie rente vra vir sy eie mense, veral van die behoeftiges, nie, 10) hom nie laat omkoop om onskuldiges te kort te doen nie.
      Dit is soort van die Tien Gebooie van tempelaanbidding, en al die riglyne het met die publieke geloofslewe te make, beide in die gemeenskap van gelowiges in die tempel, sowel as in die gemeenskap in die wêreld.
      As ‘n mens nommer 6 en 7 – waaroor jou vraag gaan – neem, beteken dit dat mense wat aktief besig is om God en die geloof in Hom te ondergrawe, se menings nie respekteer moet word nie. Dit is soos in Psalm 1 waar die Psalmis sê dat die “raad van die goddeloses” nie gevolg moet word nie.
      Die Hebreeuse woord wat met verag vertaal word, is bāzāh, wat as volg verklaar word:
      “despise, show contempt for, think lightly, i.e., pertaining to feeling of contempt for an object, because it is regarded to be bad, or of little value, often with behaviors toward the object (including speaking scorn and ridicule) which correspond to that contempt (Gen 25:34 – “Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene”); be despised (Ps 22:7 – “word deur die volk verag” wat natuurlik in die NT met Jesus se kruisdood verbind word); be despised, be contemptible (1 Sam 15:9 – al die vee “wat swak was”); cause to despise (Est 1:17 – Vasti wat vir koning Ahasveros geminag het). Dit is in elk geval hoe James Swanson dit verklaar in syDictionary of Biblical Languages With Semantic Domains.
      Dit is anders as die belediging van vers wat ook met skinder vertaal kan word, dit is om stories aan te dra oor iemand, wat nie waar is nie, of wat net tot die ander persoon se nadeel oorvertel word.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: