Skip to main content

Psalm 57 – Van vrees na versekering

Dawid in die grot

Psalm 57 word weereens met ’n noodsituasie uit Dawid se lewe verbind, dié keer met die gebeure toe hy vir Saul in die grot ingevlug het.  Ons lees in Samuel van twee sulke geleenthede, waarvan hierdie Psalm waarskynlik na die eerste verwys, die verhaal in 1 Sam 22, veral omdat Psalm 56, die vorige Psalm, met dieselfde tyd in sy lewe te make het (1 Sam 21) en daar “leeus”  (moeilikheidmakers – vgl. vers 5) by hom was.

Ter wille van agtergrond: net na Dawid van die Filistynse koning Akis van Gat ontsnap het, is Dawid na die Adullamgrot toe, alles in ‘n poging om van Saul af weg te kom. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en daarheen gegaan na hom toe.  In hierdie tyd het ‘n klomp mense wat in die moeilikheid was, byvoorbeeld mense wat baie skuld gehad het, en ander wat doodgewoon verbitterd was oor een of ander saak, hulle by hom aangesluit.  En Dawid het hulle leier geword. Hulle was ongeveer vier honderd man sterk.

Dit is ook in dié tyd dat Dawid sy ouers in die sorg van koning Moab in Mispe gelaat het, terwyl hy in die bergskuiling, die grot, gebly het.  Op aandrang van die profeet Gad het Dawid egter uiteindelik sy selfopgelegde ballingskap opgesê en weer terug getrek na Juda.    Iets van die verandering in sy gesindheid sien ‘n mens ook in die wyse waarop die Psalm van vrees na versekering skuif.

Die ander verhaal van Dawid in die grot – met Dawid wat ’n stukkie van Saul se mantel afgesny het – word in 1 Sam 24 vertel en kan ook goed hiermee verbind word, veral in die lig van Ps. 57:7: “Hulle het ’n gat vir my gegrawe, maar self daarin geval” wat ’n digterlike verwysing na hierdie gebeure in die grot kan wees.

Moenie verwoes nie

Die aanwysing vir die koorleier om die Psalm uit te voer op die wysie van “Moenie verwoes nie!” (OAV) is een wat ook vir die volgende twee Psalms gebruik word (Ps 58 en 59 – Ps 75 verwys ook daarna).  Dit is nogal ‘n veelseggende titel – aan die een kant vra Dawid in die Psalm om God se genade te ervaar, en nie verwoes te word nie, maar vra wel aan die ander kant vir verwoesting vir sy vyande.

Dié wraakgedagtes is deel van die sin vir regverdigheid wat die OT openbaar, en in Dawid se gebede geëggo word.  “’n Oog vir ‘n oog, en ‘n tand vir ‘n tand.” (Eks 21:24; Deut 19:21 – vgl ook Lev 24:20). Die kwaad móét vergeld word aan dié wat dit gepleeg het, en God word ingeroep as die een wat dit moet uitdeel.

Vir ons wat die NT ken, klink dit vreemd, maar ons moet onthou dat ons die voordeel het dat ons die volle openbaring van Jesus Christus ontvang het, en by Hom gehoor en gesien het hoe vyandsliefde werk: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie.” (Matt 5:38-39).

Ons volg daarom vir Paulus na wat op grond van die openbaring van Jesus Christus ons as volg geleer het: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.  Wees goedgesind teenoor alle mense.  As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.  Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.  Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld,’ sê die Here. (Rom 12:17-19 – Paulus haal uit Deut 32:35 aan).

Die wraakPsalms het egter ‘n plek, enersyds as ‘n perspektief op die pad wat Dawid met God gestap het ten spyte van die onvolledigheid daarvan, en andersyds as ‘n verwoording van ons eie geregverdige woede oor onreg en vervolging.  Soms het ons nodig om “woorde aan ons woede te gee” (Bybel vir die Lewe), en die wraakPsalms kan ons daarmee help.

Ooreenkomste met ander Psalms

Dit is ook interessant dat hierdie Psalm ooreenkomste met ’n hele klomp ander Psalms het: Vers 8–12 word met kleiner verskille teruggevind in Ps. 108:2–6; Vers 11 kom ooreen met Ps. 36:6; Vers 7–14 het ook sterk ooreenkomste met Ps. 60:7–14 van dieselfde Psalmboek.  Dit kan beteken dat Psalm 57 ’n bron van formulerings vir ander Psalms was, hoewel dit natuurlik spekulasie is.

Uitleg

Die Psalm het twee verse wat as herhalende refreine gebruik word, vers 6 en 12: “Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel, u mag hoog bo die aarde.”  Treffende woorde as ’n mens wegkruip in ’n grot!  Dit gee ’n natuurlike verdeling van die Psalm in twee gedeeltes:

  1. By U soek ek skuiling – vers 2-6: Let op hoe die grot vir Dawid eintlik ’n metafoor word van sy behoefte aan skuiling by God – vers 2.  Hy wil by God skuil tot die bedreiging verby is.  Sy fokus is op God wat sal antwoord in sy liefde en trou en dié wat hom jaag (Saul) die stryd sal laat verloor – vers 4.  Hy bevind hom tussen mense wat hom wil verskeur, soos leeus met spiese en pyle vir tande en swaarde vir tonge – vers 5.  Daarom beroep hy hom in sy vrees op God se grootheid en mag wat nie deur die aardse struwelinge ontmagtig word nie – vers 6.
  2. Ek voel weer veilig – vers 7-12.  Die situasie is omgekeer, die gat wat vir hom gegrawe is, het tot hulle eie ondergang gelei – vers 7.  Daarom voel Dawid weer veilig en verseker, iets wat hy twee keer herhaal om dit te beklemtoon – vers 8.  Hy wil daarom in die oopte buite die grot gaan sing, die rooidag wakker maak, omdat God sy situasie verander het – vers 9.  Die rol van die profeet Gad kan moontlik hier verreken word wat hom moed ingepraat het om weer terug te keer na Juda.  Let op hoe hierdie boodskap ook van universele betekenis geag word, iets waarvan die nasies kennis moet neem.  God se liefde reik tot in die hemel, sy trou tot in die wolke – vers 11.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda