Psalm 57 – Van vrees na versekering

Dawid in die grot

Psalm 57 word weereens met ’n noodsituasie uit Dawid se lewe verbind, dié keer met die gebeure toe hy vir Saul in die grot ingevlug het.  Ons lees in Samuel van twee sulke geleenthede, waarvan hierdie Psalm waarskynlik na die eerste verwys, die verhaal in 1 Sam 22, veral omdat Psalm 56, die vorige Psalm, met dieselfde tyd in sy lewe te make het (1 Sam 21) en daar “leeus”  (moeilikheidmakers – vgl. vers 5) by hom was.

Ter wille van agtergrond: net na Dawid van die Filistynse koning Akis van Gat ontsnap het, is Dawid na die Adullamgrot toe, alles in ‘n poging om van Saul af weg te kom. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en daarheen gegaan na hom toe.  In hierdie tyd het ‘n klomp mense wat in die moeilikheid was, byvoorbeeld mense wat baie skuld gehad het, en ander wat doodgewoon verbitterd was oor een of ander saak, hulle by hom aangesluit.  En Dawid het hulle leier geword. Hulle was ongeveer vier honderd man sterk.

Dit is ook in dié tyd dat Dawid sy ouers in die sorg van koning Moab in Mispe gelaat het, terwyl hy in die bergskuiling, die grot, gebly het.  Op aandrang van die profeet Gad het Dawid egter uiteindelik sy selfopgelegde ballingskap opgesê en weer terug getrek na Juda.    Iets van die verandering in sy gesindheid sien ‘n mens ook in die wyse waarop die Psalm van vrees na versekering skuif.

Die ander verhaal van Dawid in die grot – met Dawid wat ’n stukkie van Saul se mantel afgesny het – word in 1 Sam 24 vertel en kan ook goed hiermee verbind word, veral in die lig van Ps. 57:7: “Hulle het ’n gat vir my gegrawe, maar self daarin geval” wat ’n digterlike verwysing na hierdie gebeure in die grot kan wees.

Moenie verwoes nie

Die aanwysing vir die koorleier om die Psalm uit te voer op die wysie van “Moenie verwoes nie!” (OAV) is een wat ook vir die volgende twee Psalms gebruik word (Ps 58 en 59 – Ps 75 verwys ook daarna).  Dit is nogal ‘n veelseggende titel – aan die een kant vra Dawid in die Psalm om God se genade te ervaar, en nie verwoes te word nie, maar vra wel aan die ander kant vir verwoesting vir sy vyande.

Dié wraakgedagtes is deel van die sin vir regverdigheid wat die OT openbaar, en in Dawid se gebede geëggo word.  “’n Oog vir ‘n oog, en ‘n tand vir ‘n tand.” (Eks 21:24; Deut 19:21 – vgl ook Lev 24:20). Die kwaad móét vergeld word aan dié wat dit gepleeg het, en God word ingeroep as die een wat dit moet uitdeel.

Vir ons wat die NT ken, klink dit vreemd, maar ons moet onthou dat ons die voordeel het dat ons die volle openbaring van Jesus Christus ontvang het, en by Hom gehoor en gesien het hoe vyandsliefde werk: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie.” (Matt 5:38-39).

Ons volg daarom vir Paulus na wat op grond van die openbaring van Jesus Christus ons as volg geleer het: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.  Wees goedgesind teenoor alle mense.  As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.  Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.  Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld,’ sê die Here. (Rom 12:17-19 – Paulus haal uit Deut 32:35 aan).

Die wraakPsalms het egter ‘n plek, enersyds as ‘n perspektief op die pad wat Dawid met God gestap het ten spyte van die onvolledigheid daarvan, en andersyds as ‘n verwoording van ons eie geregverdige woede oor onreg en vervolging.  Soms het ons nodig om “woorde aan ons woede te gee” (Bybel vir die Lewe), en die wraakPsalms kan ons daarmee help.

Ooreenkomste met ander Psalms

Dit is ook interessant dat hierdie Psalm ooreenkomste met ’n hele klomp ander Psalms het: Vers 8–12 word met kleiner verskille teruggevind in Ps. 108:2–6; Vers 11 kom ooreen met Ps. 36:6; Vers 7–14 het ook sterk ooreenkomste met Ps. 60:7–14 van dieselfde Psalmboek.  Dit kan beteken dat Psalm 57 ’n bron van formulerings vir ander Psalms was, hoewel dit natuurlik spekulasie is.

Uitleg

Die Psalm het twee verse wat as herhalende refreine gebruik word, vers 6 en 12: “Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel, u mag hoog bo die aarde.”  Treffende woorde as ’n mens wegkruip in ’n grot!  Dit gee ’n natuurlike verdeling van die Psalm in twee gedeeltes:

  1. By U soek ek skuiling – vers 2-6: Let op hoe die grot vir Dawid eintlik ’n metafoor word van sy behoefte aan skuiling by God – vers 2.  Hy wil by God skuil tot die bedreiging verby is.  Sy fokus is op God wat sal antwoord in sy liefde en trou en dié wat hom jaag (Saul) die stryd sal laat verloor – vers 4.  Hy bevind hom tussen mense wat hom wil verskeur, soos leeus met spiese en pyle vir tande en swaarde vir tonge – vers 5.  Daarom beroep hy hom in sy vrees op God se grootheid en mag wat nie deur die aardse struwelinge ontmagtig word nie – vers 6.
  2. Ek voel weer veilig – vers 7-12.  Die situasie is omgekeer, die gat wat vir hom gegrawe is, het tot hulle eie ondergang gelei – vers 7.  Daarom voel Dawid weer veilig en verseker, iets wat hy twee keer herhaal om dit te beklemtoon – vers 8.  Hy wil daarom in die oopte buite die grot gaan sing, die rooidag wakker maak, omdat God sy situasie verander het – vers 9.  Die rol van die profeet Gad kan moontlik hier verreken word wat hom moed ingepraat het om weer terug te keer na Juda.  Let op hoe hierdie boodskap ook van universele betekenis geag word, iets waarvan die nasies kennis moet neem.  God se liefde reik tot in die hemel, sy trou tot in die wolke – vers 11.
View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d