Skip to main content

Teologiese temas, soorte Psalms en Jesus en die Psalms

Teologiese temas

Benewens bogenoemde narratiewe benadering tot die Psalms, wat ons help om van ons eie storie in die lig van die storie van Israel te kan sin maak, is daar natuurlik ook teologiese temas wat ons help om God se karakter en betrokkenheid by ons beter te kan verstaan.  Die volgende twee temas staan vir my uit in die Psalms:
  • Gemeenskap met God – die Psalms werk met die veronderstelling dat gemeenskap met God die begin en die sin van die lewe is.  Enigiets wat die kwaliteit en ervaring van die gemeenskap met God bedreig of in gevaar stel, bedreig die lewe self.  God – Jahwe – is die sentrum van die lewe, die sentrum van alles wat bestaan.  Om Hom die sentrum van jou eie lewe en dié van jou mense te maak, is daarom die enigste pad na ware geluk, soos Psalm 1 dit so treffend beskrywe, en wat ’n inleiding is vir die hele Psalmboek.  God se wese word daarom in vele Psalms in gloeiende en oortreffende trappe van vergelyking beskrywe, waarin veral sy liefde en getrouheid, sy barmhartigheid en goedheid, en sy regverdigheid en betroubaarheid uitstaan.  Selfs wanneer daar twyfel is, en die donker dele van die lewe in die oë gestaar moet word, word sin gevind in die nabye teenwoordigheid van God (Psalm 73).
  • Gemeenskap met gelowiges – die Psalms, selfs die liedere wat as individuele liedere geskryf is, veronderstel ’n eenheid met die gemeenskap van gelowiges wat fundamenteel behoort tot en deel is van die gemeenskap met God, wat selfs gelowiges uit die nasies insluit.  Dit is onder andere waarom ’n hele paar Psalms die geskiedenis van Israel self verwoord (Psalms 78; 105; 106; 136), maar die nasies nie uitgesluit word nie (Psalms 18; 47; 67; 72; 86).  Elkeen wat gemeenskap met God geniet, of wat verlang daarna, deel ’n gemeenskaplike storie, wie jy ook al is, en waar jy ook woon.  Dit is waarom dit so maklik is om jou eie klagtes en lofprysings in te lees en raak te sien in die verwoording daarvan in die Psalmboek, al is dit ook in die eerste plek vir en deur Jode geskrywe, want ons deel met hulle ’n gemeenskaplike ervaring met God, en is deel van dieselfde gemeenskap van gelowiges wat vandag oor die hele aarde versprei is.  En dit is ook waarom dit dié boek is wat die maklikste die brug slaan na mense wat uit ’n ander geloofstradisie as jyself kom.

Soorte Psalms

Baie Psalms is (later) van opskrifte voorsien wat waarskynlik ‘n manier was om die tipe psalm daarmee aan te dui as: ’n psalm (3:1 – verbind aan die verhaal van Dawid en Absalom); ’n klaaglied (7:1 – verbind aan die verhaal van Dawid en Kus); ’n gedig (16:1); ’n gebed (17:1); ’n lied (18:1); ’n herinnering (37:1); ‘n belydenis (39:1) ensomeer.

Soms is die opskrif bedoel vir die koorleier waarby baie keer ook die instrumente, melodie, geleentheid en tipe koor aangedui is (4:1 – met snarespel; 5:1 – met fluitspel; 6:1 – met basstem; 8:1 – met musiek;  9:1 – op die wysie van “By die dood van die seun”; 22:1 – op die wysie van “Die wildsboek van die daeraad”;  30:1 – vir die inwyding van die tempel).  Die Psalms is natuurlik meesal antifonies, dws sonder melodie, gesing/gepraat (veral in die sinagoges deur die gemeente), hoewel dit ook duidelik is dat dit baie keer deur kore en met begeleiding op een of ander melodie gesing is.

Vandag sorteer ons egter die psalms eerder volgens hulle inhoud – en ook sêkonder volgens hulle ordening, soos hierbo aangedui – omdat die verskille tussen opskrifte bv. ‘n gedig, ‘n lied en ‘n herinnering nie baie help om die betekenis van die Psalms te ontsluit nie.  Baie volg natuurlik nog die akademiese hantering van die Psalms volgens hulle vorm (Gunkel – deel die Psalms op in: Lofliedere, Klaagliedere, Koninklike Psalms, Dankpsalms, Wysheidspsalms) en kultiese plek (Gunkel se student Mowinckel het groot werk gedoen om die verskillende [liturgiese] feeste agter die Psalms te identifiseer, bv. Psalms vir die Loofhuttefees, en vir die moontlike Troonbestygings Feesvieringe).  Hoewel dit baie waarde het om die Psalms só te hanteer, werk die indeling volgens inhoud beter as ‘n mens die Psalms wil gebruik in jou praktiese geestelike lewe.

In die breë kan ‘n mens – aan die hand van die inhoud – onderskei tussen Klaagpsalms en Lofpsalms (Westermann), wat natuurlik ‘n hele aantal fyner onderskeidings insluit.  Onder die klaagpsalms sorteer bv. ook die sewe boetepsalms (Ps 6; 32; 38; 51; 102; 130; 143), die sogenaamde onskuldpsalms (17; 26; 44; 59; 86) en die ontstellende vloekpsalms (35; 59; 69; 109).  Onder die Lofpsalms sorteer bv. ook die dankpsalms (66; 100) en vertrouenspsalms (4; 16; 23; 62).  Dieselfde Psalm kan ook beide lof en klag in ‘n verskeidenheid van wisselwerkinge bevat.

Hiermee wys die Psalms dat die lyding en verydeling van hierdie lewe nie ontwyk kan en selfs mag word nie.  Die Psalms nooi ons uit na ‘n “honest facing of the darkness” soos Breuggemann dit stel (The Message of the Psalms, 1984:12).  En die rede waarom ‘n mens dit kan doen, is omdat die Psalms so sterk beklemtoon dat daar Iemand is in die duisternis wat aangespreek kan word, tot Wie gebid kan word (Ps 2).  En nog dieper, dat daar Iemand in die duisternis is wat kan antwoord en dinge kan verander.  So word ons ervarings in die lewe getransformeer, nie deurdat dinge noodwendig ligter of makliker word nie, maar omdat God by ons is in die donker (Ps 23).

Ons mag maar vra – nooi die klaagpsalms ons uit – en ons sal God dank – moedig die lofpsalms ons aan – wat in wese die kern is van ons gesprek en lewe saam met God.  Dit is in die klag wat ons God se nabyheid sal ervaar.  En dit is in lof wat die bekers van ons lewe sal oorloop – “We delight to praise what we enjoy because the praise not merely expresses but completes the enjoyment” (CS Lewis, Reflections on the Psalms, 81).

Hoewel ons ‘n ander weg opgaan in die lees van die Psalms, sal Breuggemann se indeling van die Psalms enigiemand help om ‘n Psalm te kies wat pas by sy of haar lewensomstandigheid.  Hy deel die Psalms in drie groepe op wat saamhang met die temas van oriëntasie, disoriëntasie en heroriëntasie, soos dit in die seisoene van ons lewe voorkom.  ‘n Mens kan met die skema ‘n Psalm kies wat by jou ervaring pas:

  • Wanneer jy ervarings het van “seasons of well-being”, waar jy dankbaar is oor die seën wat jy ervaar, kan jy kies uit die volgende Psalms wat dié ervarings van oriëntasie vir jou verwoord: Psalms 18; 14; 15; 24; 33; 37.
  • Wanneer jy ervarings het van “anguished seasons of hurt, alienation, suffering, and death“, waar jy woede, wraak, haat en self-bejammering ervaar, kan jy kies uit die volgende disoriëntasie Psalms: 13; 32; 35.
  • Wanneer jy verras word met die verandering wat God bring en waar “joy breaks through the despair”, kan jy kies uit die volgende heroriëntasie Psalms: 23; 27; 29; 30; 34; 40.

Jesus en die Psalms

Jesus vind in die Psalms die woorde om met God en mense te praat, ook in sy donkerste oomblikke aan die kruis:

  • In ’n gesprek met die Fariseërs gebruik Jesus Psalm 110:1 om Sy goddelikheid te bevestig: “Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het” (Matt 22:41-45).
  • In sy gesprek met die priesterhoofde en Fariseërs sê Jesus van Homself – uit Psalm 118:22-23 – dat Hy die klip is: “wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.  Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë” (Matt 21:42).
  • Jesus interpreteer sy lyding as ’n vervulling van Psalm 35:19 (ook 69:5): “Hulle het My sonder rede gehaat” (Joh 15:25);
  • Aan die kruis gebruik Jesus Psalm 22:1: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46);
  • In Jesus se woorde: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:43) hoor ’n mens Psalm 109:4 “My liefde beantwoord hulle met vyandskap, en dit terwyl ek nog altyd vir hulle gebid het” weerklink, ’n Psalm wat ook vir Petrus help om iemand in Judas se plek as dissipel te kies (Hand 1:20 – Ps 109:8: “laat ’n ander sy amp oorneem”).
  • Die verdeling van Sy klere word deur Johannes geïnterpreteer as ’n vervulling van Psalm 22:19: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot” (Joh 19:24).
  • Jesus gebruik die kruiswoord: “Ek het dors”, met die wete dat alles volbring is en sodat die Skrifwoord vervul kan word, deur Psalm 69:22 aan te haal (Joh 19:28).

Om die waarheid te sê, na sy opstanding, verwys Jesus die dissipels onder andere na die Psalms om moed te skep uit al die verwysings daarin wat in Sy lewe vervul is – Luk 24:44: “dat alles vervul moet word wat in die … psalms oor My geskrywe is”.

Die dissipels en evangelieskrywers het hieraan gehoor gegee, en dan ook meermale Jesus se bediening in die lig van die Psalms sien ontvou:

  • Met die reiniging van die tempel het hulle daaraan gedink dat in Psalm 69:10 geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my” waarvan die woord verteer natuurlik in die oorspronklike ook die betekenis van lyding het.
  • Met die intog in Jerusalem het die skare die woorde uit Psalm 118:26 gebruik: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” soos Matteus dit vir ons vertel (Matt 21:9).
  • Die kruisigingsgebeure het verskeie raakpunte met wat veral in Psalm 22 geskryf word, waaroor hierbo al geskryf is.  Hierby kom nog Psalm 22:7-9 wat as agtergrond dien vir die beskrywing van die deurlopende spot en lastering van Jesus (Luk 23:11,35), en 22:17-19 wat met Jesus se geseling en verminking verband hou (Matt 27:26).
  • Die Hebreërskrywer gebruik ’n hele paar Psalms om Jesus te beskryf:
    • Psalm 2:7 – “Jy is my Seun, vandag het Ek jou Vader geword” (Hebr 1:5; 5:5);
    • Psalm 104:4 – “’Al die engele van God moet Hom aanbid.’ Van die engele sê Hy: ‘Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme’” (Hebr 1:7);
    • Psalm 45:6-7 – “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.” (Hebr 1:8-9);
    • Psalm 102:26-28 – ““U, Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande. Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan; soos ’n kledingstuk sal alles verslyt; soos klere sal U dit oprol; ja, soos ’n kledingstuk sal dit vervang word. Maar U, U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie” (Hebr 1:10-12);
    • Psalm 110:1 – “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het” (Hebr 1:13);
    • Psalm 110:4 – ““Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek” (Hebr 5:6).

Dit beteken dat ’n mens aan die een kant natuurlik die Psalms lees soos dit aanvanklik bedoel is – daar is geweldig baie praktiese nut daarin.  Maar ’n mens kan aan die ander kant ook vir Jesus navolg wat Sy lewe in die lig van die Psalms verstaan het.  En ons kan ’n slag weer verwonder word deur die korrelasie tussen Sy lewe en die Psalms wat so lank voor Hom al geskrywe is.  Die Psalms wil ons dus nie net innooi om in die woorde van die Psalms met God in gesprek te tree nie, maar wil ons ook in die lig van die Christologiese interpretasie daarvan weer opgewonde maak oor Jesus self.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar