Skip to main content

Spreuke 31:1-31 – Wyse woorde van en oor ‘n knap vrou

Dit val op hoe die boek Spreuke omraam word deur die pa in gesprek met sy seun (hfst 1-9) aan die begin van die boek, en hier die ma in gesprek met haar seun (hfst 31) aan die einde van die boek.  Dit wys nie net hoe ewewigtig die boek aan mekaar gesit is nie, deur aan albei ouer se onderrig aandag te gee, maar ook hoe noodsaaklik beide ouers se onderrig en leiding in ‘n kind se lewe geag word.

Versigtig vir die vreemde vrou en die vervreemding wat drank bring – 31:2-9

Dit is opvallend hoe die ma haar seun se onderskeidingsvermoë juis oor vrouens wil opskerp, maar op ‘n ander wyse as wat die pa vroeër gedoen het.  Waar die pa baie uitgebrei het oor hoe vreeslik dit is om te val in die hande van die vreemde vrou ( in drie al hoe langer en uitgebreide gedeeltes), en min gesê het oor die waarde van die regte vrou, doen die ma dit andersom.

Sy is duidelik oor wie hy moet vermy, maar doen dit kort en kragtig in 2 verse (31:2-3).  Sy sê net dit is ‘n vermorsing van sy krag.  Hy het beter dinge om te doen.  Sy is eintlik meer bekommerd oor drank, as oor die vreemde vrou, want dit rig regtig skade aan.  Sy gebruik 3 keer meer verse daarvoor (31:4-9)!

Let ook op hoe sy haar onderrig verbind aan ‘n gelofte wat sy oor haar kind afgelê het, ‘n verbintenis aan hom wat sy voor die Here gedoen het.  Haar onderrig is deel van haar manier om dié gelofte na te kom.

Die probleem van drank word uitgespel in terme van vergeetagtigheid ten opsigte van die wet, en die minagting van die regte van minderbevoorregtes (31:5).  Die koning moet praat vir dié wat self nie hulle sê kan sê nie, en opkom vir die regte van dié wat te gronde gaan (31:8).  Die armes en ellendiges is die koning se primêre regsverantwoordelikheid (31:9).

Drank daarenteen is vir dié wat besig is om onder te gaan, dié wat swaar ly, want as hulle drink vergeet hulle van hulle armoede en moeilikheid (31:6-7).  Die koning moet egter nooit van hulle nood vergeet nie, en daadwerklik iets daaraan doen.

Kies vir jou ‘n knap vrou wat jou lewe gaan verryk – 31:10-31

Teenoor die kort aandag wat die ma aan die vreemde vroue verleen (2 verse) , staan die lied oor die regte vrou wat in ‘n oorvloedige sin, in ‘n fyn uitgewerkte akrostiese gedig (22 verse), die lof van die regte vrou besing, dié een met wie die koning  sy lewe moet deel.

En die ma brei uitvoerig uit oor die geweldige voordele wat só ‘n vrou vir hom sal hê.  Hy kan en moet haar op geen manier mis nie!  Dit is die tipe onderrig wat verandering bring, omdat dit uitnooi na ‘n baie beter toekoms met ‘n helder aantreklike visioenêre prentjie daarvan!

Só ‘n vrou het 22 voordele:

  1. Sy is baie kosbaar, meer werd as edelstene – 31:10.
  2. Sy is ‘n steunpilaar vir haar man wat die vrugte van haar werk pluk – 31:11.
  3. Sy bring net voordeel haar lewe lank – 31:12.
  4. Sy is vaardig met die verwerking van rustowwe, wol en vlas – 31:13.
  5. Sy sorg dat daar (eksotiese?) kos is – 31:14.
  6. Sy maak kos – 31:15.
  7. Sy dryf handel met grond en wingerd – 31:16.
  8. Sy doen alles met passie, haar hande staan vir niks verkeerd nie – 31:17.
  9. Sy dryf ‘n begroting, al moet haar lamp laatnag aan die brand bly – 31:18.
  10. Sy produseer goedere met die spinwiel – 31:19.
  11. Sy is vrygewig en sorg vir die armes – 31:20.
  12. Sy sorg dat haar gesin klere het teen die koue – 31:21.
  13. Sy maak self beddegoed en klere van linne en wol – 31:22.
  14. Sy sorg dat haar man met die leiers kan beraadslaag – 31:23.
  15. Sy dryf handel met produkte soso klere en gordels – 31:24.
  16. Sy het ‘n sterk en edel persoonlikheid – 31:25.
  17. Sy praat met wysheid en gee leiding met liefde – 31:26.
  18. Sy hou goeie toesig oor haar huishouding – 31:27.
  19. Sy is haar kinders se trots, haar man bewonder haar – 31:28.
  20. Sy is voortreflik onder die knap vrouens – 31:29.
  21. Sy leef in ontsag vir die Here – 31:30.
  22. Sy word in die gemeenskap geëer – 31:31.

Natuurlik is die skets die prentjie van ‘n ideale vrou.  Maar dit wil eintlik net ‘n prentjie gee van wat moontlik is as potensiaal toegelaat word om te ontwikkel.  En na watter tipe eienskappe gekyk moet word in ‘n toekomstige lewensmaat.  Dit is ook so dat hier baie min van liefde en die verhoudingskant van die huwelik gesê word.  Daarvoor het ons Hooglied om die prentjie nog deegliker in te vul.  En nou vir die skets van die man … !

Ek sluit af met ‘n ander manier van interpretasie.  ‘n Mens kan die gedig oor hierdie vrou ook as ‘n verdere verpersoonliking van Vrou Wysheid in Spreuke sien.  Dit beteken dan dat Vrou Wysheid nie net by die Skepping teenwoordig was nie (Spr 8), nie net almal uitnooi om van haar wyshede te geniet nie (Spr 9), maar haar woning by ons in die werklike lewe kom maak, as’t ware die metgesel van ‘n werklike persoon word (Spr 31).

Soos Murphy (Word) dit so pragtig stel:

“She is not some lofty, remote ideal for those initiated into her mysteries, but a practical, ever-present, faithful guide and lifelong companion for all who choose her ways. Her origins are with God (8:22–30) and her teaching wins blessings from God (8:35). But her home is in this world. This is the way Wisdom herself wanted it. Even while she was beside the Creator, playing before him, she was also, in her own words from 8:31: rejoicing in his inhabited world and delighting in the sons of men.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar