Skip to main content

Psalm 148 – Alles en almal loof die Here uit hemel en aarde

Psalm148Psalm 148 brei die oproep tot lof uit tot die hele heelal – die hemel en die aarde, die skepsels en die skeppings.  Die redes vir die lof lê in God se betroubare bevestiging van alles wat leef.

Dié lof word in die eerste plek gevra – vers 1-6 – van alles wat in die hemel gemaak is.  Dit sluit die lewende skepsels in: engele en hemelse magte. Dit sluit ook die gepersonifieerde skeppings in: son, maan, sterre, selfs die water wat uit die hemelkoepel op die aarde reën verskaf.

Die Psalmis gee drie redes waarom alles in die hemel God moet loof:

  1. God het hulle gemaak,
  2. God het hulle vir altyd gevestig,
  3. God het ‘n vaste orde bepaal wat nie verby sal gaan nie (NAV: “waarbuite hulle nie kan beweeg nie”).

Dié lof word in die tweede plek gevra – vers 7-14 – van alles wat op die aarde gemaak is.  Dit sluit die lewende skepsels in – beide die diere as die mense: seemonsters, wilde diere, vee, kruipende diere, voëls, konings, aanvoerders, regeerders, al die volke, jongmense en oumense.  Dit sluit ook die gepersonifieerde skeppings in: vuur, hael, sneeu, newels (miswolke), stormwind, berge, heuwels, vrugtebome, seders, en selfs die diep waters (oseane).

Die Psalmis gee ook drie redes waarom alles op die aarde God moet loof:

  1. God se Naam alleen is hoog verhewe,
  2. God se luisterrykheid strek oor die hele aarde en hemel,
  3. God het sy volk sterk gemaak as getuienis aan almal wat Hom getrou volg. God wys dus sy sorg in dié wat: “na aan Hom is”.

Die hele skepping het hulle bestaan aan God te danke. Daar is niks uitgesluit wat nie God as Skepper moet loof nie.  Die hele skepping is vir hulle voortgaande bestaan van God afhanklik. Daar is niks uitgesluit wat nie God se betroubare bevestiging nodig het nie.  Daarom moet die hele skepping God loof.  Dit is die bepaalde bestemming van alles wat leef en beef, veral van dié wat “na aan Hom is”.  Halleluja!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar