Skip to main content

Psalm 127 – As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan

Psalm127Daar is een ander Psalm wat met Salomo verbind word, Psalm 72, die afsluitende Psalm van die tweede Psalmboek.  Waar daardie Psalm gefokus het op die gebed dat God die koning in staat sal stel om na buite – veral met die oog op die volk en die nasies – volgens God se wil te regeer, fokus hierdie Psalm op die gebed dat God alles sal voorsien wat nodig is om na binne – veral met die oog op die tempel, stad en sy eie huis – volgens sy wil te leef.

Daarom is dit ook van toepassing op die pelgrims, nie net in terme van hulle verwagting dat die koning of goewerneur volgens God se wil sal leef nie, maar ook dat hulle self volledig op God sal vertrou om vir hulle in staat te stel om in eie kring Hom in alles te dien.  Dit is daarom ook ‘n Psalm wat ons ter harte kan neem vir ons eie konteks.

Die Psalm vier twee gawes van die Here, dinge wat nie losstaan van ons eie inspanning en werk nie, maar ten spyte daarvan steeds genadegawes bly.

1.  Die eerste gawe is God se voorsiening in ‘n mens se werksomgewing. Vir Salomo het dit beteken dat hy die huis van die Here, die tempel, gebou het, sowel as dat sy mense oor die stad wag gehou het, en hy sy werk as koning met ywer verrig het.

Die Psalmis bely egter dat ‘n mens se geswoeg tevergeefs is, as die Here die huis nie bou nie. Tevergeefs bly ‘n mens wakker om wag te hou, as die Here nie oor die stad die wag hou nie.  En tevergeefs staan jy vroeg op en gun jouself nie eers tyd om ‘n wyle te sit nie terwyl jy met inspanning jou brood probeer verdien, as die Here nie daarin teenwoordig is nie.

Trouens, soos Salomo dit een keer ervaar het, die Here gee dit vir jou in jou slaap.  Die Psalmis verwys hier waarskynlik na Salomo se roepingservaring waar hy ‘n luisterende hart van die Here ontvang het terwyl hy geslaap het (1 Konings 3).  Sy naam Salomo het vrede beteken, maar insiggewend genoeg, skryf een van die Vroeë Profete dat die Here hom liefgehad het en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem het, wat beteken: “die Here het hom lief”. (2 Sam 12:25). Die ooreenkoms met vers 2 is opvallend.

Die laaste sin kan egter ook vertaal word: “Hy gee slaap aan wie Hy liefhet,” (BDV) wat op die ritme van werk en slaap dui wat die Here gee vir dié wat hulle passie uitleef.  Dit is eintlik net so ‘n mooi interpretasie van die boodskap van dié vers.

2.  Die tweede gawe is God se voorsiening in ‘n mens se familie omgewing. Alle kinders is gawes van die Here, maar seuns is spesifiek in die konteks wat hier aangeraak word, ‘n bonus.  Hulle is ‘n erfdeel wat die Here gee deur die vrug van die moederskoot wat soos pyle in die hand van ‘n krygsman is, met die oog op die moontlikheid van fisiese aanvalle.  Selfs wanneer ‘n mens egter in die poorte – waarskynlik dui dit op regspraak – met vyande woorde wissel, sal jy nie beskaamd staan nie, en jouself met ‘n klomp getuies wat aan jou kant is, kan verdedig.

Dié Psalm moedig ons dus aan om voluit te lewe – in werks- en familie-verband – maar jou vertroue op God te plaas wat vir albei oorvloedig kan voorsien.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda