Psalm 119:145-152 – KOF – Op u woorde wag ek

Psalm119-kofDit is duidelik in hierdie negentiende deel van dié Psalm, waarvan elkeen van die 8 versreëls met die Hebreeuse letter kof begin, dat die teenwoordigheid van die Here in sy geskrewe openbaring beleef word.  Dit is wanneer ‘n mens nadink oor wat die Here reeds gesê het, dié dinge wat reeds bekend is, dat daar nie net nuwe insigte opdaag nie, maar die verlossende krag van die Here aan die werk kom om dié openbaring van God na te kom en uit te voer.  Dit is van ewige waarde (119:152).

Laat ek dit helder sê.

  • God is naby ons deur dít wat skriftelik aan ons oorgelewer is, die Bybel. Ons beleef God se teenwoordigheid in die voorskrifte, bepalings (2x), woorde (dâbâr se meervoud), woord (‘imrâh – waarskynlik in die sin van ‘n belofte), beslissing, wet, en gebooie van sy openbaring.
  • Ons beleef God se teenwoordigheid in die beweging wat die Bybel in ons aan die gang sit. Die Psalmis wys vir ons hoe die skriftelike openbaring ons innerlike mens in beweging moet bring: “Ek roep met my hele hart.”  Hart sluit hier ons gevoelens, gedagtes en wil in (119:145).  Hy wys vir ons ook hoe die Bybel ons uiterlike mens, d.w.s. ons nougesette gehoorsaamheid in gedrag, in beweging moet bring: “U voorskrifte wil ek nakom!” (119:146).

God is natuurlik ook in die Skepping teenwoordig en dit is ongelooflik wonderlik (Ps. 19).  Hy is ook in die lewe teenwoordig in alles wat met ons gebeur (Ps. 42:5).  Hy is immers die bron van ons lewe, soos die Psalmis vroeër bely: ”U is my lewe.” (Ps. 16:5).  Hy is ook in ons midde waar gelowiges die wil van die Here soek en probeer onderskei (Matt. 18:20).

Maar dit is juis deur die lig wat Hy vir ons gee uit sy geskrewe openbaring wat ons op die beste manier tot insig kom en die lig vir ons pad kry (Ps. 119:105).  Dít is waarom dit so belangrik is dat God se skriftelike openbaring die belangrikste plek in ons lewe moet inneem.  Dit moet ook van ons waar wees, soos die Psalmis op ‘n ander plek sê: “U woord is my hele lewe.” (Ps. 40:9).  Dit is immers waarom die Psalmis vroeër ook kan skryf dat hy ‘n vriend is van almal wat vir die Here ontsag het en sy opdragte nakom (Ps. 119:63).

Ons lees hieroor van vroeg af in die verhale van die Bybel.  Toe Josua op dieselfde direkte manier die Here se teenwoordigheid soos Moses wou beleef, het dit nie gebeur op die manier wat hy verwag het nie (Eks. 33:11), hoewel die Here tog later iets van sy direkte teenwoordigheid aan hom geopenbaar het (Jos. 1).  Die Here het hom egter telkens na die geskrewe openbaring wat Moses begin neerpen het, verwys as die rigsnoer vir sy lewe. Dit was in die Here se plan vir Josua se lewe ‘n baie belangriker manier waarop hy God se teenwoordigheid kon ervaar:

  • Eks. 17:14 waar die opdrag vir Moses gegee is: “Skryf hierdie woorde op in ’n boek as ’n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor.” Trouens, Josua is later gebruik om self by dié woorde sy eie by te voeg (Jos. 24:26). Watter voorreg! Jy kan hier meer daaroor lees.
  • En kyk veral na Josua 1:7-9 waar die Here Josua versterk vir sy opdrag om die Beloofde Land binne te gaan: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Let op hoe die Psalmis daarom met sy hele hart na die Here se voorskrifte roep, dat hy reeds voor die oggendskemer al op God se woorde wag (119:147), trouens in die nag al oor God se woord nadink (119:148 – die nagwaak waarna hier verwys word, is waarskynlik die tyd tussen 2 en 6 uur in die oggend).

Die Psalmis luister ook nie net nie.  Hy vra dat God na hom sal luister en hom sal verlos en bewaar van mense wat slinkse planne het.  Dit is immers wat God se Woord doen.  Dit roep om ‘n antwoord van ons; dit roep om ‘n gesprek met ons, sodat ons nie net met vreugde God se woorde kan ontvang nie, maar met blydskap dit kan gehoorsaam.

Dit is in hierdie lees en luister na God se Woord en woorde wat ons met oorgawe en oorvloed kan leef.  Die Woord is inderdaad ‘n huis waarin ons kan woon.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: