Psalm 120 – Here, bevry my van bedrieglike tonge

Psalm120Psalm 110-118 het die geloofsgemeenskap herinner aan God se (veral Messiaanse) beloftes uit die verlede wat bedoel was vir ‘n beter toekoms.  Dit was veral in die na-ballingskap tyd ‘n inspirasie en motivering om die Here te dien in afwagting van die herstel wat Hy in die geloofsgemeenskap en wêreld sal bring.

Psalm 119 het hulle gehelp om te fokus op die belewenis van God se teenwoordigheid in die Woord wat bedoel was vir die uitdagings van elke dag in die hede.  Dit is die Woord van God in sy wet en sy woorde wat die lamp vir hulle voet en die lig vir hulle lewenspad sal wees.

Psalm 120-134 help nou op soortgelyke wyse die geloofsgemeenskap om te fokus op die belewenis van God se teenwoordigheid in die tempel waar hulle met mekaar versterk kan word vir die geloofstryd.  Dit is waar hulle saam sing en die Here loof wat hulle innerlik die krag kry om te doen wat die Woord van hulle vra.

Hierdie vyftien Psalms word daarom Pelgrimsliedere genoem wat bedoel was om drie keer ‘n jaar met die reis na die groot feeste by die tempel in Jerusalem gesing te word om onder andere die verlange na God (121), die gebed vir Jerusalem (122), die belydenis van afhanklikheid van God (123), en die gebed om beskerming van God (125) te verwoord.

Psalm 120

Die nood (en konteks) van Psalm 120 lê waarskynlik in die xenofobiese kwaadpratery wat die Psalmis ervaar het in sy verblyf in die noord-weste in Mesek en in die suid-ooste in Kedar (120:5).  Die burgers van hierdie lande was mense wat gelieg en bedrieg het in hulle verhouding met hom (120:2-4) en altyd gereed was vir oorlog (120:7), omdat hy ‘n vreemdeling was in hulle land.  Vreemdelingehaat het sy verblyf daar dus amper onhoudbaar gemaak.

Mesek word verbind met die landstreek Frigië in Klein-Asië (vgl. Eseg. 27:3) wat ons vandag as ‘n deel van Turkye ken.  Kedar is min of meer waar Arabië vandag is.  Terloops, ons lees in die NT hoe Jode van Frigië die wonder van die Pinksteruitstorting ervaar het (Hand. 2:10) en deur Paulus bedien is (Hand. 16:6; 18:23).

En al is die Psalmis ten gunste van vrede – letterlik staan daar: “Ek is vrede” (anî-sjâlôm) – reageer sy teenstanders op enigiets wat hy sê met oorlogvoering (waarskynlik ‘n “woorde-oorlog”, maar dit kan ook meer om die lyf gehad het).

Maar, die Psalmis verkondig dat hy sy toevlug neem tot die Here – eintlik as verteenwoordiger van almal wat in soortgelyke situasies verkeer – en getuig dat die Here hom in sy nood geantwoord het.  Let op die raak beskrywing van hoe God hulle bedrieglike taal troef: sy woorde is soos “die skerpgemaakte pyle van ‘n held saam met gloeiende besemboskole.” (120:4 – BDV). Dit is so flymskerp soos ‘n skerpgemaakte pyl wat getemper is oor gloeiende kole.

Maar, die Psalmis bely ook dat hy nou al te lank woon by mense wat vrede haat.  En ‘n mens kan jou amper indink in sy onuitgesproke gedagtes – op pad na die tempel toe – dat dáár in die geloofsgemeenskap hy weer vrede in die teenwoordigheid van die Here sal ervaar.

En só stel ek my voor het al die pelgrims dié lied eintlik as hulle eie opgeneem terwyl hulle oor die berge en die dale van hulle verspreide verblyf in die vreemde na Jerusalem opgetrek het, en Psalm 120 met intense heimwee en hartlike verlange gesing het.

Dié Psalm is dus ‘n lied vir almal wat die pyn van vreemdelingskap en vreemdelingehaat ervaar, waar julle jul ook al mag bevind.  Soms voel ‘n mens mos ‘n vreemdeling selfs in ‘n bekende omgewing.  Die Here belowe bevryding van bedrieglike tonge.

Veel later sou Petrus aan die vreemdelinge in die Diaspora – die verstrooiing van gelowige Jode – skrywe in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1 Pet. 1:1) – dele wat grens aan Frigië (Mesek) – en hulle met genade en vrede seën omdat hulle deur God uitverkies is en ‘n nuwe hoop het op ‘n erfenis: “wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word …” (1 Pet. 1:2,4).

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: